Goeiedag Vriende,
‘n Heerlike koel oggend in Windhoek, met beloftes van reën in die lug. Na ‘n week van hard werk, en die lewe aanvat wat genoeg van sy eie struikelblokke in ons weg plaas, kan ons uitsien na ‘n paar dae van rus.
Voor dit wil ek egter met julle oor iets praat wat vir ons almal soms ‘n probleem is. Wat is dit? Daardie een persoon in jou lewe wat jou vyand is. Die persoon wat jou net nie kan uitlos nie, jou uittart en jou vies maak. Alles wat jy sê of bevraagteken of kritiseer. Regtig vir jou ‘n doring in die vlees is.
Nou kan jy dadelik wonder, hoekom daar ‘n vermaning aan jou is omtrent hierdie persoon. Omdat hierdie die persoon is wat dit regkry om jou te laat verkeerd praat en optree.
Baie gereeld voel jy jy wil net hierdie persoon terug kry, net vir hierdie persoon iets sê wat hulle op hul plek sal sit. Soms wend jy jou selfs tot sosiale media en plaas daardie pos wat jy glo niemand weet vir wie die woorde bedoel is nie. Die waarheid is, hulle weet en die persoon weet ook.
Nou vra jy my, wat is daarmee verkeerd? Die persoon irriteer en verpes my dan al so lank.
Kyk wat sê Titus daaroor in die Woord van God wat ons as Christene se gids is.
Titus 2: 7Betoon jou in alles 'n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid.
8 Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie.
Titus maan ons om nie aan die versoeking toe te gee om net soos daardie persoon op te tree nie. Om eerder ‘n onberispelike voorbeeld te wees dat ons nie daardie persoon nog meer ammunisie kan gee om teen ons te gebruik nie.
Ons volmaakte voorbeeld was weereens ons Heiland self terwyl Hy hier op aarde gewandel het. Terwyl die mense hom uitgejou en bespot het, hom geslaan en gemartel het, het hy steeds vir hulle gebid tot ons Vader.
Ons het ‘n verantwoordelikheid teen oor ons Vader om altyd sy Naam te eer in wat ons doen. Ons is sy kinders en dra sy naam. Dit is soos wanneer jou kinders of jou vrou, of jou broer of suster iets verkeerd aanvang waarvan die hele wêreld weet. Dan sal ons vinnig wees om aan daardie persoon te sê: Nee, hoe kan jy dit gedoen het, hoe kan jy ons as familie se naam so in die skande steek?
Maar lyk my ons gee nie om as die Almagtige Soevereine God se kinders om sy naam in die skande te steek met ons optrede nie. Miskien moet ons elkeen gaan introspeksie hou.
Timotheüs kom gee ons ‘n riglyn wat baie duidelik vir ons vertel dat ons ‘n voorbeeld moet wees, want ons is die erfgename van Christus, duur gekoop met sy bloed.
1 Timotheüs 4: 12 … maar wees 'n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid.
Die oordeel en vergelding kom ons nie toe nie. Ons moet vir hierdie persoon bid. Bid dat God hulle harte sal verander, bid dat God hulle omstandighede sal verander, want dit is heel dikwels asgevolg van hulle seer, teleurstelling, jaloesie wat hulle so optree. Soos Jesus aan die kruis gesê het: “Vader, vergewe hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Kom ons gee die mens/mense wat ons tot sonde dwing aan ons Vader oor. Kom ons tree so op dat hulle beskaamd sal staan omdat hulle niks het om oor ons te sê nie. Nie in ons eie krag nie, maar deur die krag van die Heilige Gees wat ons Helper is. Wees jy die roos tussen die rotse.
Mag julle elkeen ‘n rustige en vreugdevolle naweek geniet.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking