Jammer ek kom so laat by julle uit, maar soms gebeur dinge mos maar so. Liewer laat as nooit, of hoe?
Hoe kry ons dit reg om volgens die wil van God te leef?
Meeste mense dink dit is heeltemal onmoontlik. Dit is nie onmoontlik nie. En jy hoef dit nie alleen te doen nie.
Matteus 7:7-11 Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom 'n klip sal gee; en as hy 'n vis vra, aan hom 'n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!
Ons verstaan opsetlik hierdie verse verkeerd, want ons wil aardse goed vra. Ons wil ‘n nuwe motor, ‘n groot huis, ‘n plaas, ‘n motorfiets, of wat ook al vra en as God dit dan nie gee nie, want Hy weet dit is dalk nie vir jou goed nie, dan is ons ontsteld.
As ons vir die dinge vra wat ewigheidswaarde het, wysheid, insig, onderskeidings gees sal Hy dit vir ons gee. Dit is glad nie te sê dat Hy nie vir ons materiële dinge sal gee nie, maar net die wat Hy weet ons nodig het, en ons nie van Hom af sal wegneem nie.
In Kolossense noem Paulus ook dat hy vir die gemeente bid dat God hulle sy wil sal bekend maak deur Sy Gees.
Gaan Hy vir ons presies sê wat ons moet doen? Nee, Sy Gees gaan jou rig en leer met daardie ‘stemmetjie’ wat jou maan om goed nie te doen nie, of goed te doen waaroor jy twyfel.
Kolessense 1: 9Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang.
Uit onsself is ons baie male nog te self gesentreerd om die wil van God te doen. Daardie eie ek moet sterf. Dit is een van die voorwaardes wanneer jy jou hart en lewe vir Jesus gee. Hy het mos nie net gedeeltelik aan die kruis gesterf nie, nee hy het heeltemal gesterf.
Soos Filippense 2 so mooi sê dit is net God deur sy Gees wat ons gewillig maak om sy wil te doen. Daar is soveel meer wat Hy ons wil gee, as ons maar net sy wil sal doen.
Filippense 2:12My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
14Doen alles sonder kla of teëpraat.
Daarby maan Paulus ons om nie dinge te doen terwyl ons kla nie, want God wil nie enigiets hê wat jy met ‘n gekerm gedoen het nie.
Weereens, Jesus het nie te kere gegaan aan die kruis nie, nee! Hy het nog ons Vader gevra om die mense te vergewe vir wat hulle aan Hom gedoen het.
Ons Vader vir almal lief, maar dit maak sy hart ekstra bly as ons in sy wil wandel en dit met ‘n dankbare hart doen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking