Goeiemôre Vriende,
Betrokke hier by ons in Windhoek, ons kyk uit vir die reën.
Vanoggend wil ek deel oor iets wat ons almal ken: vergeet!
Hoe dikwels, hoor jy jou man, jou vrou, jou kind, jou vriende aan jou sê oor iets wat baie belangrik vir jou was: 'Ai, ek is so jammer ek het vergeet!'
Ons self vergeet soms goed. Ons vergeet die winkellysie, ons vergeet om die kraan vir die tuin toe te draai, ens. Daagliks vergeet ons dinge. Soms vergeet ons van ons Vader, totdat die spreekwoordelike 'paw-paw die fan slaan'.
Dan kom Jesaja in hoofstuk 49:15-16 en vertel ons hoe God oor ons voel. Hoe belangrik ons vir Hom is.
Jesaja 49:15 Kan 'n vrou haar eie baba vergeet,
haar nie ontferm oor die kind
wat sy in die wêreld gebring het nie?
Selfs al sou so iets kon gebeur,
Ek sal jou nie vergeet nie.
16Ek het jou naam in my handpalms gegraveer,
Ek sien jou mure altyd voor my.
Hier kom vra God die vraag of 'n vrou haar baba kan vergeet. Hy het reeds geweet dat daar vroue gaan wees wat hulle babas gaan weggooi, nooit weer aan hulle gaan dink nie, maar daarvoor het Hy ook voorsiening gemaak in sy belofte aan ons. Hy verseker ons, al sal 'n vrou ook haar skoot se vrug verwerp, Hy sal ons nooit vergeet nie, Hy het ons name in sy handpalm graveer.
Nie op sy arm of been of iewers op sy lyf nie, op Sy handpalm. Daar waar Hy dit altyd kan sien. Is dit nie vir jou kosbaar nie, dit is beslis vir my.
Die Een wat die hele wêreld elke dag in stand hou, wat dag en nag na ons smeking, versoeke, gebede luister, vergeet ons steeds nie.
Want by ons as mense is die volgende verskoning na 'Jammer, ek het vergeet' gewoonlik 'Ek is so besig, dit is hoekom'.
Ons kan juis nie bekostig om van ons Vader, Jesus ons Koning en die Heilige Gees ons Trooster te vergeet as ons soooooo besig is nie. Hoe anders gaan jy deur jou 'besig' kom as jy nie Sy hulp het nie?
Sorg dat jy jou besige dag, jou besige tyd, jou besige lewe altyd elke dag begin deur dit met die Een te bespreek wat reeds vir jou die antwoorde gereed het, wat reeds vir jou die mate van krag en energie gereed het, wat reeds vir jou die emmertjie genade vir die dag gereed het - dan mag ons dalk baie minder belangrike dinge vergeet.
Al vergeet jy alles in jou lewe, kan jy nie bekostig om van ons Drie-Enige God te vergeet nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking