Goeiemôre Vriende,
Jammer ek het julle gister afgeskeep, ek weet nie of ek stadiger raak en of die dae net korter raak nie. Steeds, hier is ek nou. Hoop dit gaan goed met julle, so op die tweede laaste dag van November.
Ek wil graag met julle oor gesondheid gesels vanoggend, ‘n onderwerp wat ek glo baie mee kan vereenselwig. Jy kan of dit hê of die gebrek daaraan beleef.
Die feite is, ek dink nie ek is verkeerd as ek die aanname maak dat mense wat gesond is dit heeltemal as vanselfsprekend aanvaar nie.
Ons dink nie daaraan nie, ons staan elke oggend op en vaar die dag in. Soms het ons geen begrip vir die mense wat siek is nie, geen simpatie nie.
Ek wil graag voorbeelde uit my eie lewe gebruik as julle my sal toelaat.
Jare gelede het ek geweldig aan migraines gely. Ek bedoel nie een ‘n maand of selfs een ‘n week nie, ek bedoel tot drie maal ‘n week. Ek is van geaardheid nie iemand wat kan in ‘n donker kamer gaan lê vir dae tot die pyn nou uit eindelik die pad vat nie. Daardie tyd was ek ook ‘n moeder met kinders wat versorg moes word en ‘n man.
Elke keer as ek so ‘n aanval gekry het, moes ek ‘n dokter in die hande kry om my ‘n inspuiting te gee wat dit byna dadelik weg neem of ten minste binne ‘n uur. Ek moes werk, kinders versorg en vrou wees.
Die mense om my kon nie my pyn sien nie, want hoe sien jy daardie versengende pyn wat in iemand se kop en oë die persoon wil laat sterf? Dus het hulle nie eintlik simpatie met my gehad nie, tot eendag.
My man het wakker geword met ‘n migraine. Hy wat nooit eers hoofpyn gekry het nie. Hy wou sterf van die pyn, kon sy kop nie oplig nie, was naar, kon nie gaan werk nie.
Daar is die bordjies verhang. God is getrou en het hom gewys, want dit is net as jy self iets ervaar wat jy weet hoe dit ‘n mens se lewe kan beïnvloed. Ek is dankbaar dat God my ook hiervan genees het.
Ek het op skool my rug beseer en oor die jare al ‘n rug en nekoperasie gehad. My rug is 200% beter as wat dit my hele skoolloopbaan was. Tog so nou en dan is dit ontevrede met my oor ek tuin werk of wat ook al doen waarvan dit niks hou nie. Dan het ek pyn en al wat ek kan doen is om so stil as moontlik te wees en te wag totdat die senuwee nou weer los kom en ek kan aangaan. Intussen moet ek net die pyn beheer.
My vriend het dit nie verstaan as ek so seer het, nie kan opstaan van ‘n stoel af nie, nie kan saam met hom swaar goed dra nie.
Hy is ‘n baie fikse persoon, draf met sy hond en klim op die dak, en spring oor die draad as hy moet. Tot eendag …
Daardie oggend bel hy my en hy huil van die pyn. Verduidelik aan my hy kan nie beweeg nie so pyn sy rug. Ek wat weet presies hoe dit is, kry hom toe vreeslik jammer en stel voor hy moet gaan lê dit is al wat sal help.
Nadat hy wat nooit pille wil drink nie, uiteindelik ingegee en spierverslappers en anti-inflammatoriese middels begin drink het, het sy rug beter geraak. Tog het dit nooit weer heeltemal reg gekom nie. Dit is mos maar ‘n rug. Elke nou en dan het hy pyn.
Eendag sit ons so en hy vra: Hoe is jou rug deesdae? Ek hoor nie dat jy meer daaroor kla nie.
My antwoord: “My rug is nou eers weer reg, tot die volgende keer wat ek dit kwaad maak.”
Toe bieg hy dat hy nooit kon verstaan hoe ek so pyn kon hê van my rug, nie kon beweeg nie, nie kon opstaan sonder om te kerm nie, maar nou baie goed verstaan hoe dit is.
Dit is hoe ons mense is … ons moet eers voel om te glo.
Wat sê die Woord oor gesondheid?
En julle moet die Here julle God dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën, en Ek sal siektes uit jou midde verwyder.
Eksodus 23:25
Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan.
3 Johannes 1:2
Hy genees die wat gebroke is van hart,
en Hy verbind hulle wonde.
Psalm 147:3
'n Vrolike hart bevorder die genesing,
maar 'n verslae gees laat die gebeente uitdroog.
Spreuke 17:22
Vriendelike woorde is soos 'n heuningkoek:
soet vir die siel en 'n genesing vir die gebeente.
Spreuke 16:24
Wees nie wys in jou eie oë nie;
vrees die Here, en wyk af van die kwaad;
dit sal genesing wees vir jou liggaam
en verkwikking vir jou gebeente.
Spreuke 3:7-8
Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.
1 Timoteus 4:8
En weer verdriet uit jou hart, en hou die kwale weg van jou liggaam, want die jeug en die jonkheid is nietigheid.
Prediker 11:10
Die Woord maan ons om ons liggame op te pas omdat dit nie ons eie is nie. Om daarmee God te eer. Om ook ons gees gesonde te hou deur ‘n nou pad met God te stap.
Tog is daar soveel mense wat siek is, wat kroniese siektes soos kanker, alsheimers en vele meer het wat hulle hele lewens omvergooi. Hulle in erge pyn dompel. Vir die meeste van hulle gaan daar nie genesing wees van hul liggame nie.
Watter troos is daar vir hulle? Die troos dat ons aardse liggame verganklik is en dat siekte hier op aarde nie ons geestelike liggaam kan aanraak nie. Dit is juis die rede hoekom ons nie aan ons aardse liggaam moet vaskleef nie, maar eerder aan ons geestelike lewe met God tyd moet spandeer.
Eendag sal ons almal as Jesus kom ‘n verheerlikte liggaam, wat ‘n geestelike liggaam is ontvang.
Intussen moet ons dankbaar wees as ons ‘n gesonde aardse liggaam het. Elke dag ons Vader dank dat Hy sy genesende hand op ons hou en ons liggame onderhou. Ons ken nie die stryd, pyn en lyding van die wat siek is nie. Vir hulle moet ons in gebed dra, hulle help om in geloof te bly staan deur die pyn en die lyding van hul aardse liggame.
Die grootste rykdom wat ons hier op aarde kan hê, is om met God ons Vader ‘n pad te stap en dit met ‘n gesonde liggaam te kan doen. Dit kan geen geld koop nie!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking