Donderdag 02 November 2023

Vrolike hart ...

Goeiemôre Vriende,


Uit ‘n heerlike sonnige Windhoek, hoop ek dat dit goed gaan met elkeen van julle daar in my hartland. Dat die koring mooi staan of julle dalk al besig is om te oes. Vir die vroue, wat skoolgaande kinders het, sterkte met die eksamen wat reeds aan die gang is.

Vanoggend luister ek na een van die oordenkings en die pastoor praat oor ‘n vrolike hart wat hand aan hand gaan met dankbaarheid. Die wyse koning Salomo het ook groot waarde aan ‘n vrolike hart geheg.

Spreuke 17: 22 'n Vrolike hart bevorder die genesing, maar 'n verslae gees laat die gebeente uitdroog.

Nou hoor ek almal protesteer oor hoe kan hulle ‘n vrolike hart hê met soveel uitdagings, met ‘n liggaam wat hierdie tyd van die jaar moeg is, met die gesukkel met kinders wat nie wil leer nie, ensovoorts.
Dan vertel hierdie pastoor ‘n storie wat ons almal iets kan leer.

‘Daar was eendag ‘n man wat ‘n baie mooi hoed in ‘n winkel gesien het, maar hy het nie geld daarvoor gehad nie. Hy gaan toe terug huis toe en begin spaar daarvoor. Toe sy geld genoeg is, gaan hy terug na die winkel en koop die hoed.

Baie gelukkig en ingenome sit hy dit dadelik op sy kop en stap by die winkel uit. Toe hy op die sypaadjie staan, kom daar ‘n groot bus verby en die wind van die bus ruk die hoed van sy kop en die bus ry bo-oor sy splinter nuwe hoed waarvoor hy so lank gespaar het.

Die man begin dadelik God te loof en te prys daar op die sypaadjie. ‘n Man wat langs hom staan, kyk verstom na hom en vra: Hoekom loof en prys jy die Here? Die bus het pas oor jou hoed waarvoor jy so lank gespaar het gery!
Hy antwoord: Ek loof en prys die Here omdat my kop nie in die hoed was toe die bus daaroor gery het nie.’

Vriende, ons is baie in situasies of besig om te sukkel met uitdagings wat ons laat sukkel om ‘n vrolike hart en dankbaarheid te hê. Tog soos hierdie man met die hoed, het ons altyd baie om voor dankbaar te wees en ‘n vrolike hart oor te hê as ons na ons situasies sal kyk met die gesindheid van hierdie man.

Soms moet ons net stilstaan en besin en besef dat ons koppe baie meer waardevol is as die hoed. Ons kyk ons so vas in die situasie dat ons nie die seëning daarin raak sien nie.

Laat ons vandag dankbaar wees as dit net die hoed is waaroor die bus ry! En nie vergeet om ons Vader daarvoor te dank nie.

Ek wil julle laat met C J Langenhoven se raad:

Dis die smorende vuur wat swaarkry
en tog nie die kos kan gaarkry
dis die vrolike vlam wat klap en kraak
dis hy wat sy taak tot vermaaklikheid maak
en sy swaarkry
met lekkerkry klaarkry.



Hoe wonderlik het Langenhoven nie Spreuke 17:22 in digterstaal omskep nie. Met 'n swaarmoedige gesindheid kry ons niks klaar nie, maar met 'n vrolike gesindheid baie seker.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...