Donderdag 30 November 2023

Namakwaland in murg en been


Of jy jou eerste asemteug
geneem het
op Vanrhynsdorp, Vredendal of Koekenaap
of jy jou eerste treë gegee het
op Bitterfontein, Nuwerus of Soebatsfontein
of jy sitvlak heel eerste geland het
op die skoolbank in Garies
jou eerste vakansieromanse gesmeul het
daar langs die mond van die Groenrivier
kan jy maar weet
die murg in jou pype
is die
van ‘n Namakwalander
die bloed in jou are
is bont geblom
soos die vlaktes van ons aarde
as die Vader se saadsak
telkens
daar skeur
Hy ons barre aarde kleur
in wit, geel, oranje, pers, en blou
jy weet van die
rys in die miershoop
van die platklip
waar jy jou broek
se sitvlak deur ry
op die botterboom
jy weet van die koekemakranka
se krul-kop
die veldkool
wat soos groenbone smaak
die uintjie en die veldbeet
Jantjie Berends met sy
mooi rooi blom
galbitter, maar wat vir kanker help
jy weet van jakkalse
wat die vee verniel
van droogte
wat die boer laat kniel
van genade water
wat oor die vlaktes uitsak
alles bedek soos ‘n grys gordyn
dit is ons Namakwaland
geen grense of mense
kan ons dit ontneem
dit is diep-diep
in ons siele
ingebrand
en daar sal
die herinnerings vure brand
wat niemand ooit kan blus
waar ons ook al onsself bevind
of ons laaste asem uitblaas.
© Marsofine Krynauw

God se beloftes staan ...




 Goeiedag Namakwalaners,

Nouja, ek het so pas gehoor dat dit daar in my hartland baie, baie warm is. Hier in Windhoek is dit ‘n heerlike 31 grade met ‘n ligte windjie wat die blare roer. Veral die boere wat op lande en in die veld in hierdie hitte moet werk, het ek baie simpatie mee. Baie sterkte vir hierdie snikhete dag.

In hierdie dag, so op die laaste dag van November wil ek jou kom bemoedig. Wil ek jou herinner aan net ‘n paar van God se beloftes uit sy woord.

Ons elkeen se situasie, se lewe, se uitdagings is uniek. Tog is God se beloftes vir ons almal bedoel wat Jesus Christus as ons Saligmaker aangeneem het en elke dag ons vertroue ten volle op Hom rig.

Wat ook al jou situasie, jou uitdaging, jou seer, jou teleurstelling vandag is, glo my daar is ‘n belofte in God se woord vir jou. Een wat jy maar kan glo en aan vas hou. Een wat jou kan bemoedig en tot aksie kan beweeg omdat jy weet jy stap nie alleen nie.

Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou;

kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God.

Ek versterk jou, ook help Ek jou,

ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.

Jesaja 41:10


Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee.

Jeremia 29:11


Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou.

Hebreërs 10:23


Maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag;

hulle vaar op met vleuels soos die arende;

hulle hardloop en word nie moeg nie,

hulle wandel en word nie mat nie.

Jesaja 40:31


As jy deur die water gaan, is Ek by jou;

en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie;

as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie,

en die vlam sal jou nie brand nie.

Jesaja 43:2


Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.

1 Tessalonisense 5:24


EN mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons 'n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!

1 Petrus 5:10


Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

Matteus 7:7


Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

2 Petrus 3:9


Jy moet dan weet dat die Here jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte.

Deuteronomium 7:9


Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

Johannes 11:25-26


TERWYL ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.

2 Korintiërs 7:1


Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

Openbaring 3:20


God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

Numeri 23:19


Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.

Openbaring 3:5


My boog gee Ek in die wolke; dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en die aarde.

Genesis 9:13


Waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.

2 Petrus 1:4


Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Johannes 3:16


En kyk, ek gaan vandag die weg van die ganse aarde, maar julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die Here julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.

Josua 23:14

Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.

1 Johannes 3:2-3

Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.

1 Timoteus 4:8

Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.

Galasiërs 3:22

En daarom is Hy Middelaar van 'n nuwe testament, sodat, terwyl daar 'n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.

Hebreërs 9:15

En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie.

Genesis 9:11

Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar; vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie — dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu.

Jeremia 7:5-7

Hierdie beloftes en riglyne uit ons Vader se woord is ook vir die een wat nog nie vir Jesus aanvaar het nie. Vandag, as jy jou sondeskuld erken en aanvaar dat Jesus Christus daarvoor gesterf het. Dat Hy jou en my Middelaar is, ons Verlosser is, die Seun van God is en self God is, sal Hy jou vergewe. Sal hy jou verlede en alles daarin skoon was en vergeet as jy kies om Hom lief te hê en te volg. Om Sy woord te lees en Hom elke dag beter te leer ken. Sy groot genade, so onbeskryflike liefde vir ons, voor ons nog eers Hom gekies het.

Hou aan God se beloftes vas, daar is nog baie meer in Sy woord. Staan vas en gee elke dag alles vir Hom. Hy kan alles en weet alles en het jou steeds lief.

Woensdag 29 November 2023

Gesondheid!


Goeiemôre Vriende,


Jammer ek het julle gister afgeskeep, ek weet nie of ek stadiger raak en of die dae net korter raak nie. Steeds, hier is ek nou. Hoop dit gaan goed met julle, so op die tweede laaste dag van November.
Ek wil graag met julle oor gesondheid gesels vanoggend, ‘n onderwerp wat ek glo baie mee kan vereenselwig. Jy kan of dit hê of die gebrek daaraan beleef.


Die feite is, ek dink nie ek is verkeerd as ek die aanname maak dat mense wat gesond is dit heeltemal as vanselfsprekend aanvaar nie.


Ons dink nie daaraan nie, ons staan elke oggend op en vaar die dag in. Soms het ons geen begrip vir die mense wat siek is nie, geen simpatie nie.


Ek wil graag voorbeelde uit my eie lewe gebruik as julle my sal toelaat.
Jare gelede het ek geweldig aan migraines gely. Ek bedoel nie een ‘n maand of selfs een ‘n week nie, ek bedoel tot drie maal ‘n week. Ek is van geaardheid nie iemand wat kan in ‘n donker kamer gaan lê vir dae tot die pyn nou uit eindelik die pad vat nie. Daardie tyd was ek ook ‘n moeder met kinders wat versorg moes word en ‘n man.


Elke keer as ek so ‘n aanval gekry het, moes ek ‘n dokter in die hande kry om my ‘n inspuiting te gee wat dit byna dadelik weg neem of ten minste binne ‘n uur. Ek moes werk, kinders versorg en vrou wees.


Die mense om my kon nie my pyn sien nie, want hoe sien jy daardie versengende pyn wat in iemand se kop en oë die persoon wil laat sterf? Dus het hulle nie eintlik simpatie met my gehad nie, tot eendag.
My man het wakker geword met ‘n migraine. Hy wat nooit eers hoofpyn gekry het nie. Hy wou sterf van die pyn, kon sy kop nie oplig nie, was naar, kon nie gaan werk nie.


Daar is die bordjies verhang. God is getrou en het hom gewys, want dit is net as jy self iets ervaar wat jy weet hoe dit ‘n mens se lewe kan beïnvloed. Ek is dankbaar dat God my ook hiervan genees het.
Ek het op skool my rug beseer en oor die jare al ‘n rug en nekoperasie gehad. My rug is 200% beter as wat dit my hele skoolloopbaan was. Tog so nou en dan is dit ontevrede met my oor ek tuin werk of wat ook al doen waarvan dit niks hou nie. Dan het ek pyn en al wat ek kan doen is om so stil as moontlik te wees en te wag totdat die senuwee nou weer los kom en ek kan aangaan. Intussen moet ek net die pyn beheer.


My vriend het dit nie verstaan as ek so seer het, nie kan opstaan van ‘n stoel af nie, nie kan saam met hom swaar goed dra nie.


Hy is ‘n baie fikse persoon, draf met sy hond en klim op die dak, en spring oor die draad as hy moet. Tot eendag …


Daardie oggend bel hy my en hy huil van die pyn. Verduidelik aan my hy kan nie beweeg nie so pyn sy rug. Ek wat weet presies hoe dit is, kry hom toe vreeslik jammer en stel voor hy moet gaan lê dit is al wat sal help.


Nadat hy wat nooit pille wil drink nie, uiteindelik ingegee en spierverslappers en anti-inflammatoriese middels begin drink het, het sy rug beter geraak. Tog het dit nooit weer heeltemal reg gekom nie. Dit is mos maar ‘n rug. Elke nou en dan het hy pyn.


Eendag sit ons so en hy vra: Hoe is jou rug deesdae? Ek hoor nie dat jy meer daaroor kla nie.
My antwoord: “My rug is nou eers weer reg, tot die volgende keer wat ek dit kwaad maak.”
Toe bieg hy dat hy nooit kon verstaan hoe ek so pyn kon hê van my rug, nie kon beweeg nie, nie kon opstaan sonder om te kerm nie, maar nou baie goed verstaan hoe dit is.


Dit is hoe ons mense is … ons moet eers voel om te glo.


Wat sê die Woord oor gesondheid?


En julle moet die Here julle God dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën, en Ek sal siektes uit jou midde verwyder.
Eksodus 23:25


Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan.
3 Johannes 1:2


Hy genees die wat gebroke is van hart,
en Hy verbind hulle wonde.
Psalm 147:3


'n Vrolike hart bevorder die genesing,
maar 'n verslae gees laat die gebeente uitdroog.
Spreuke 17:22


Vriendelike woorde is soos 'n heuningkoek:
soet vir die siel en 'n genesing vir die gebeente.
Spreuke 16:24


Wees nie wys in jou eie oë nie;
vrees die Here, en wyk af van die kwaad;
dit sal genesing wees vir jou liggaam
en verkwikking vir jou gebeente.
Spreuke 3:7-8


Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.
1 Timoteus 4:8


En weer verdriet uit jou hart, en hou die kwale weg van jou liggaam, want die jeug en die jonkheid is nietigheid.
Prediker 11:10


Die Woord maan ons om ons liggame op te pas omdat dit nie ons eie is nie. Om daarmee God te eer. Om ook ons gees gesonde te hou deur ‘n nou pad met God te stap.


Tog is daar soveel mense wat siek is, wat kroniese siektes soos kanker, alsheimers en vele meer het wat hulle hele lewens omvergooi. Hulle in erge pyn dompel. Vir die meeste van hulle gaan daar nie genesing wees van hul liggame nie.


Watter troos is daar vir hulle? Die troos dat ons aardse liggame verganklik is en dat siekte hier op aarde nie ons geestelike liggaam kan aanraak nie. Dit is juis die rede hoekom ons nie aan ons aardse liggaam moet vaskleef nie, maar eerder aan ons geestelike lewe met God tyd moet spandeer.


Eendag sal ons almal as Jesus kom ‘n verheerlikte liggaam, wat ‘n geestelike liggaam is ontvang.
Intussen moet ons dankbaar wees as ons ‘n gesonde aardse liggaam het. Elke dag ons Vader dank dat Hy sy genesende hand op ons hou en ons liggame onderhou. Ons ken nie die stryd, pyn en lyding van die wat siek is nie. Vir hulle moet ons in gebed dra, hulle help om in geloof te bly staan deur die pyn en die lyding van hul aardse liggame.


Die grootste rykdom wat ons hier op aarde kan hê, is om met God ons Vader ‘n pad te stap en dit met ‘n gesonde liggaam te kan doen. Dit kan geen geld koop nie!

Maandag 27 November 2023

Liefde teenoor vrees


 Vriende,

Vertrou julle het ‘n goeie naweek gehad. Hier by ons het dit Saterdag gereën en ons is baie dankbaar daaroor. Die laaste week in November het voorwaar aangebreek.

Vanoggend wil ek bietjie oor vrees met julle gesels. Ek hoor dat daar veral van die manne is wat sê: Ek vrees niks.

Dit is egter nie waar nie, want as jy ‘n boer is of jy nou in die Namakwaland boer met skaap, of koring en of jy nou ‘n Olifantsrivier boer is wat met druiwe, tamaties, groente of wat ook al boer – jy bekommer jou oor iets. Wat dink jy is dit anders as vrees?

Ek dink terug aan hierdie jaar en die baie water wat daar in daardie selfde Olifantsrivier vallei gelê het. Wingerde was vir lank oorstroom. Nie een maal nie, twee maal.

Die oes moet aan die begin van volgende jaar daar wees. Gaan daar ‘n oes wees? Jy sal self al hierdie antwoord kan gee … ek ken ook die antwoord want ek het vriende en familie wat daar woon en boer.

Van dit wat ek gehoor het, lyk die prentjie nie so rooskleurig nie.

Dit is nie al waaroor daar vrees is nie, dalk het jy siekte in jou familie, dalk moet jou kind volgende jaar begin werk, en jy weet nie waar sal jou kind werk kry nie. Dalk bekommer jy jou oor die invloed van politiek in jou omgewing, want dit raak jou direk.

Wat nou gemaak met al die dinge wat ons elke dag lewe noem wat vol struikelblokke kan wees. Wat nou gemaak met die vyand wat ons net wil bly oortuig dat dit nooit goed sal gaan nie, dat alles nie sal uitwerk nie, ens.

Eerstens moet jy weet in wie jou krag lê. In jou God. In die bloed van Jesus wat jou vrygekoop het.

Tweedens moet jy weet dat die vyand altyd, altyd ‘n leuenaar is en die gemors wat hy in jou oor fluister moet jy dadelik van vergeet.

Inteendeel, jy moet soos ons pastoor die ander dag gesê het hom terugstuur van waar hy kom – stuur hom hel toe, dit is waar hy hoort.

Jy kan hierdie net weet en glo as jy elke oggend wanneer jy jou oë oopmaak weet en besef hierdie dag kan ek net loop en leef met my hand in God se hand. As jy weet en besef hoe lief God jou het, en jy Hom ook lief het. Jy ook bereid is om al sy beloftes in sy woord te glo en dat Hy altyd die beste vir jou wil hê.

Ek het ‘n hele paar verse hier onder. Kyk gerus na elkeen. Daar is nog baie, baie meer in die Woord. Gaan kyk daarna. Kies vir jou een, skryf dit op ‘n papiertjie, hou dit in jou sak. Lees dit deur die dag. Glo my daar is geen beter manier as om die vyand met sy nonsens te verjaag as om hom aan God se woord te herinner nie. Dit is wat Jesus ons geleer het toe die vyand hom in die woestyn versoek het – Hy het die duiwel verjaag deur die te herinner aan God se beloftes in sy woord.

Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

1 Johannes 4:18


Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou;

kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God.

Ek versterk jou, ook help Ek jou,

ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.

Jesaja 41:10


Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.

Psalm 56:4

Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan.

Josua 1:9


Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

2 Timoteus 1:7


Die vrees vir die mens span 'n strik;

maar hy wat op die Here vertrou, sal beskut word.

Spreuke 29:25


LAAT julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.

Johannes 14:1


Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!

Romeine 8:15

Elke een van hierdie beloftes is waar, hou daaraan vas. Sorg dat dit jou anker, jou gids, jou bemoediging, jou alles is. Moenie luister na mense se negatiewe woorde nie en nog minder na die vyand s’n.

Om dit laastens mooi vir jou te verduidelik: As jy iemand onvoorwaardelik lief het en vertrou vrees jy mos nie dat daardie persoon jou sal skade doen nie.

God het jou meer lief as onvoorwaardelik!

Vrydag 24 November 2023

Tyd is omgee


Vriende,

Ek is hopeloos laat vandag. Ten minste kan ek met julle die goeie nuus deel dat dit heerlik hier by ons gereën het van gisteraand af en nog gaan reën.

Ek het eers vanoggend 'n vriendin gaan bederf op haar verjaardag wat eintlik al gister was. Sy is een van daardie mensies wat altyd besig is en altyd 'n hart vir ander het.

Ons kan altyd lekker saam lag, raad vra, bid of sommer net lekker gesels. Sy is die een persoon wat my altyd laat klink soos die wêreld se beste skrywer en lees ook elke boek wat daar uit my pen verskyn.
Ons het almal so 'n persoon nodig, iemand wat altyd eerlik en opreg is. Wat jou ondersteun in alles wat jy doen en selfs vir jou tyd maak al is hulle hoe besig.

Wat nog vir my wonderlik is van hierdie vrou en haar familie is dat hulle vir mekaar tyd maak. Haar man is 'n skoolhoof by een van die privaatskole in Windhoek, sy werk by 'n nasorg in die namiddae, haar kinders, wat almal getroud is, werk almal.

Deur die week sal sy waar sy tyd het met 'n vriendin koffie drink, Vrydae namiddae is haar en haar man sy tyd, dan gaan drink hulle alleen koffie. En naweke word daar met al die kinders saam gekuier ten minste een middag of aand.

Dit bring my terug na my siening van tyd en mense waarvoor jy omgee: as iemand of iets vir jou belangrik genoeg is, sal jy tyd maak vir dit.

Bo aan jou lys moet jou God wees, daarna jou man/vrou, daarna jou kinders en daarna die res van die mense in jou lewe.

As daardie rangorde reg is, sal jy altyd tyd vir almal hê en daar sal liefde en respek wees.

Mooi naweek vir julle.


My dank aan Solly Levi vir die gebruik van sy uitmuntende foto.

Donderdag 23 November 2023

Jou keuse ...


 Goeiedag Vriende,

Die week is byna op sy einde en dit is diep somer hier by ons in Windhoek. Daar is darem ‘n paar wolkies in die lug, en ons hoop hulle voorspel ‘n bietjie lafenis vir ons later.

Vanoggend wil ek bietjie stilstaan by ‘n vers in Jeremia wat ons almal sekerlik ken, maar tog vind ek dikwels dat mense net die eerste deel daarvan lees en nie die daaropvolgende verse wat net so belangrik is daarmee saam nie.

Ja, ek verwys na Jeremia 29:11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! 12Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. 13Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.

In die eerste gedeelte van die vers 11 vertel God ons dat Sy planne vir ons goed is, dat Hy wil hê dat dit met ons goed moet gaan en ons voorspoedig moet wees in ons toekoms.

Maar die tweede deel is baie meer belangrik as ek so daarna kyk. ‘12Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. 13Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.’

God ons Vader weet wat Sy planne vir ons is, tog begeer Hy dat ons hom sal aanroep, sal bid tot hom. Ons afhanklikheid van hom sal verklaar. Sal vra na Sy wil vir ons lewens en nie ons eie nie.

Daarop volg die pragtige troos en belofte: ‘Ek sal julle gebede verhoor … julle sal dan My wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.’

Is ons bereid om God se wil vir ons lewens te volg? Vra ons met ons hele hart daarvoor, bid ons tot Hom met ‘n verwagting. Of probeer ons Hom net in boelie in dit wat ons vir onsself wil hê?

Hierdie belofte is baie duidelik, daar is niks aan hierdie verse wat jy kan misverstaan of waarmee jy verward kan wees nie.

Jesus was ons voorbeeld in Getsemane … selfs daar, terwyl Hy die Seun van God, self God, bloed gesweet het van angs aan die gedagte dat Hy die beker van sonde moes drink het Hy steeds gevra …’laat hierdie beker by my verby gaan my Vader, maar nie my wil nie U wil.

Ons sal nooit in ons lewens ‘n beker soos daardie hê, wat ons so sal laat bloed sweet nie, want Jesus het dit reeds namens ons gedrink. Dus die ‘bekers’ waarmee ons sukkel sal nooit so erg wees nie, hoekom kan ons nie soos Jesus in gehoorsaamheid tot ons Vader leef en ook Sy wil in alles in ons lewens soek nie.

Die beloftes is duidelik, baie duidelik. Of ons daardie beloftes ons eie gaan maak, is ook ons keuse, die grondwerk is reeds deur Jesus gedoen.

Woensdag 22 November 2023

Hoe doen ons God se wil?

Vriende,

Jammer ek kom so laat by julle uit, maar soms gebeur dinge mos maar so. Liewer laat as nooit, of hoe?
Hoe kry ons dit reg om volgens die wil van God te leef?

Meeste mense dink dit is heeltemal onmoontlik. Dit is nie onmoontlik nie. En jy hoef dit nie alleen te doen nie.

Matteus 7:7-11 Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom 'n klip sal gee; en as hy 'n vis vra, aan hom 'n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

Ons verstaan opsetlik hierdie verse verkeerd, want ons wil aardse goed vra. Ons wil ‘n nuwe motor, ‘n groot huis, ‘n plaas, ‘n motorfiets, of wat ook al vra en as God dit dan nie gee nie, want Hy weet dit is dalk nie vir jou goed nie, dan is ons ontsteld.

As ons vir die dinge vra wat ewigheidswaarde het, wysheid, insig, onderskeidings gees sal Hy dit vir ons gee. Dit is glad nie te sê dat Hy nie vir ons materiële dinge sal gee nie, maar net die wat Hy weet ons nodig het, en ons nie van Hom af sal wegneem nie.

In Kolossense noem Paulus ook dat hy vir die gemeente bid dat God hulle sy wil sal bekend maak deur Sy Gees.

Gaan Hy vir ons presies sê wat ons moet doen? Nee, Sy Gees gaan jou rig en leer met daardie ‘stemmetjie’ wat jou maan om goed nie te doen nie, of goed te doen waaroor jy twyfel.

Kolessense 1: 9Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang.

Uit onsself is ons baie male nog te self gesentreerd om die wil van God te doen. Daardie eie ek moet sterf. Dit is een van die voorwaardes wanneer jy jou hart en lewe vir Jesus gee. Hy het mos nie net gedeeltelik aan die kruis gesterf nie, nee hy het heeltemal gesterf.

Soos Filippense 2 so mooi sê dit is net God deur sy Gees wat ons gewillig maak om sy wil te doen. Daar is soveel meer wat Hy ons wil gee, as ons maar net sy wil sal doen.

Filippense 2:12My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
14Doen alles sonder kla of teëpraat.

Daarby maan Paulus ons om nie dinge te doen terwyl ons kla nie, want God wil nie enigiets hê wat jy met ‘n gekerm gedoen het nie.

Weereens, Jesus het nie te kere gegaan aan die kruis nie, nee! Hy het nog ons Vader gevra om die mense te vergewe vir wat hulle aan Hom gedoen het.

Ons Vader vir almal lief, maar dit maak sy hart ekstra bly as ons in sy wil wandel en dit met ‘n dankbare hart doen.

Dinsdag 21 November 2023

Spore ...


 Die getuienis

van ‘n dag geleef

van spore getrap

lê nog vanaand

in die sagte duinsand

maar as die môre kom

behoort dit aan gister

is daar geen teken meer van

want deur die nag

wyl maan wit

teen die inkblou

hemel hou

sy silwer strale

‘n voetpad oor

die blou water baan

is wind besig

om die spore van vandag

uit te wis

en wanneer die nuwe dag

oopmond lag

lê ons elkeen se duin

gereed

vir die nuwe spore

van hierdie dag

trap jou spore sag

dat jy nie spore laat

in die harte van die mense

om jou heen

dat hul nie merke laat

laat hul liewer jou lag

as die spore wat jy trap

onthou!

©Marsofine Krynauw

Vertrou ...


 
Goeiedag Vriende,

Die jaar se uurglas loop vir sommige vinnig en ander stadig uit. Vir die vrou wat die koekblikke probeer vol kry, die huis probeer skoon kry, die klere probeer reg kry vir die groot vakansie, gaan dit te vinnig. Vir die tiener wat besig is met eksamen en nie kan wag om strand toe te gaan nie, gaan dit stadig.

Hoe dit ook al sy … deur dit alles staan een feit vas: vertrou op God!

Vanoggend deel ek graag met julle die bekende en pragtige beloftes van Psalm 37.

Psalm 37:3Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is,

woon en werk rustig voort.

4Vind jou vreugde in die Here,

en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

5Laat jou lewe aan die Here oor

en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Jy is dalk die vader van hierdie huishouding, die wingerd staan mooi groen op die land, maar die drag is maar skraal of ontbreek dalk. Jy weet nie of jy wil hê die tyd moet stilstaan of vinnig verby flits nie. Miskien staan jy moedeloos moeg in die bloedige son en wingerd plant.

Wat jou situasie ook al is hierdie tyd van die jaar – weet dat ons ‘n God en Vader het wat jou spesifieke situasie beter ken as jyself. Ek weet dit is moeilik, ek weet jy wil self dit oplos … maar hoekom het jy dit dan nog nie opgelos as jy dink jy kan nie? Word vir een oomblik stil, besin oor wat jy al alles gedoen het om die uitdagings wat jy mee stoei te oorbrug.

God nooi jou vandag, of jy ‘n tuisteskepper, ‘n tiener, ‘n boer, ‘n besigheidsman of -vrou, ‘n ouma of oupa is. Hy nooi jou om Hom ten volle te vertrou. Te glo dat Hy jou situasie wil en kan oplos.

Ek word vanoggend wakker met die woorde van ‘n bybelvers wat my geliefde tante Ellie so dikwels opgesê het dat ek dit vandag, veertig jaar later nog onthou: ‘ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?’

Dit kom natuurlik uit Psalm 121: Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?

2 My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

3Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie.


Dadelik besef ek, dat hierdie vers nie net vir my is om al het ek geen iets wat my pla, maar ook net is om my weer te vir seker wie my al en my alles moet wees. Dit is ook vir my gegee om te deel met elke mens wat of ‘n moeilike situasie beleef of net moet hoor waar ons hulp, waar ons krag, waar ons voorsiening, waar ons liefde vandaan kom.

Vandag kom Dawid hy vertel ons op wie ons moet vertrou en waar ons altyd ons hulp sal kry. Laat ons daarteen waak dat ons nie net na ons God sal hardloop in tye van nood nie, maar elke dag vir alles op Hom sal vertrou en Hom elke dag al die liefde, eer, glorie, dank en lofprysing sal gee wat Hom toekom.

Maandag 20 November 2023

Wat is jou verwagting?


 Goeiemôre Vriende,

Hoop julle is lekker uitgerus na die naweek. Hier is dit heerlik met ‘n ligte windjie wat met die blare speel. By julle sien ek is dit ook nie te warm nie, en daar is self voorspelling van bietjie reën.

Ek het hier aan die begin van die nuwe week vir jou ‘n vraag. Wat is jou verwagting van ons Vader die week?

Verwag jy dat dinge na die einde van die jaar toe net erger sal raak? Dat die situasies in jou lewe net op rampspoed sal uitloop? Dat jy kind dalk nie sy of haar matriekeksamen sal slaag nie? Dat jy nie met vakansie sal kan gaan nie, want die finansies is net nie daar nie? Dat daardie siek familielid net sal sieker word?

1 Korinthiers 2:9 Maar soos daar geskrywe staan:

“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,”

en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie,

dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet


Hier kom Paulus en bas ons bubble. Wat beteken hierdie vers nou eintlik? Dit beteken dat ek en jy geen idee het hoe graag God ons wil seën of van die omvang van die seëninge wat Hy vir ons het as ons Hom lief het en getrou in sy weë stap nie.

Hy ken ons harte, Hy weet of ons op Hom vertrou vir alles in ons lewe. Hy weet of ons strewe elke dag is om Sy wil te doen in alles.

Hy wil sy kinders beloon, hier op aarde al reeds. Ons is egter ons eie grootste vyande. Ons glo nie dat God ons wil seën nie. Ons glo nie dat dit vir ons beskore is dat iets goed met ons moet gebeur nie. Dat God ons wil guns gee nie.

Hoekom glo ons dit nie? Omdat die vyand jou met leuens voer en jy eerder die vyand se leuens glo oor jouself. Jy kry dit nie reg om te glo dat God jou, met al jou foute wat jy maar te goed ken, kan so liefhê nie.

Dan is dit miskien tyd dat jy meer Sy woord lees. Gaan kyk na al Sy beloftes daar vir ons, vir jou en vir my vandag nog.

Dawid het dit so mooi gesê in Psalm 16:5-6: Here, U is my lewe, U sorg vir my.

Wat ek ontvang, kom alles van U af.

6'n Pragtige deel is vir my afgemeet,

ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.


Was Dawid sonder sonde? Nee, hy was ongehoorsaam, net soos ons soms is. Die verskil is, hy het dit geweet en dit nie daar gelos nie. Hy het erken toe hy besef het dat hy gesondig het. Hy het vergifnis gevra omdat hy besef het sonder God, sonder sy liefdevolle Vader kan hy nie leef nie. Verder het hy nie toegelaat dat die vyand hom met leuens voer nie, maar sy deel geneem wat God vir hom so graag wou gee.

Kom ons luister na die stem van die Heilige Gees, kom ons erken as ons verkeerd doen en vra vergifnis. Daarna staan ons soggens op met ‘n verwagting in ons harte, ‘n verwagting om te sien wat God vandag vir ons wil doen.

Soos ‘n kleinkind wat nie kan slaap die aand voor sy/haar verjaardag nie, omdat hulle te opgewonde is om te sien watter geskenk hulle Pappa en Mamma vir hulle gaan gee.

So opgewonde moet ons wees oor die geskenke wat ons Vader ons elke dag wil gee.

Vrydag 17 November 2023

Roos tussen die rotse...


 

Goeiedag Vriende,


‘n Heerlike koel oggend in Windhoek, met beloftes van reën in die lug. Na ‘n week van hard werk, en die lewe aanvat wat genoeg van sy eie struikelblokke in ons weg plaas, kan ons uitsien na ‘n paar dae van rus.


Voor dit wil ek egter met julle oor iets praat wat vir ons almal soms ‘n probleem is. Wat is dit? Daardie een persoon in jou lewe wat jou vyand is. Die persoon wat jou net nie kan uitlos nie, jou uittart en jou vies maak. Alles wat jy sê of bevraagteken of kritiseer. Regtig vir jou ‘n doring in die vlees is.


Nou kan jy dadelik wonder, hoekom daar ‘n vermaning aan jou is omtrent hierdie persoon. Omdat hierdie die persoon is wat dit regkry om jou te laat verkeerd praat en optree.


Baie gereeld voel jy jy wil net hierdie persoon terug kry, net vir hierdie persoon iets sê wat hulle op hul plek sal sit. Soms wend jy jou selfs tot sosiale media en plaas daardie pos wat jy glo niemand weet vir wie die woorde bedoel is nie. Die waarheid is, hulle weet en die persoon weet ook.


Nou vra jy my, wat is daarmee verkeerd? Die persoon irriteer en verpes my dan al so lank.
Kyk wat sê Titus daaroor in die Woord van God wat ons as Christene se gids is.


Titus 2: 7Betoon jou in alles 'n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid.

8 Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie.


Titus maan ons om nie aan die versoeking toe te gee om net soos daardie persoon op te tree nie. Om eerder ‘n onberispelike voorbeeld te wees dat ons nie daardie persoon nog meer ammunisie kan gee om teen ons te gebruik nie.


Ons volmaakte voorbeeld was weereens ons Heiland self terwyl Hy hier op aarde gewandel het. Terwyl die mense hom uitgejou en bespot het, hom geslaan en gemartel het, het hy steeds vir hulle gebid tot ons Vader.


Ons het ‘n verantwoordelikheid teen oor ons Vader om altyd sy Naam te eer in wat ons doen. Ons is sy kinders en dra sy naam. Dit is soos wanneer jou kinders of jou vrou, of jou broer of suster iets verkeerd aanvang waarvan die hele wêreld weet. Dan sal ons vinnig wees om aan daardie persoon te sê: Nee, hoe kan jy dit gedoen het, hoe kan jy ons as familie se naam so in die skande steek?


Maar lyk my ons gee nie om as die Almagtige Soevereine God se kinders om sy naam in die skande te steek met ons optrede nie. Miskien moet ons elkeen gaan introspeksie hou.


Timotheüs kom gee ons ‘n riglyn wat baie duidelik vir ons vertel dat ons ‘n voorbeeld moet wees, want ons is die erfgename van Christus, duur gekoop met sy bloed.


1 Timotheüs 4: 12 … maar wees 'n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid.


Die oordeel en vergelding kom ons nie toe nie. Ons moet vir hierdie persoon bid. Bid dat God hulle harte sal verander, bid dat God hulle omstandighede sal verander, want dit is heel dikwels asgevolg van hulle seer, teleurstelling, jaloesie wat hulle so optree. Soos Jesus aan die kruis gesê het: “Vader, vergewe hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie.”


Kom ons gee die mens/mense wat ons tot sonde dwing aan ons Vader oor. Kom ons tree so op dat hulle beskaamd sal staan omdat hulle niks het om oor ons te sê nie. Nie in ons eie krag nie, maar deur die krag van die Heilige Gees wat ons Helper is. Wees jy die roos tussen die rotse.


Mag julle elkeen ‘n rustige en vreugdevolle naweek geniet.

Woensdag 15 November 2023

Lewenswater vir sieledors


Goeie, goeiemôre Vriende,

Hoekom is ek so ekstra opgewek vanoggend? Maklik, dit het gisteraand 14mm gereën hier by my huisie. Alles is nat en vars vanoggend. Ek is dankbaar om te hoor dat die erge hitte darem ook bietjie by julle gebreek is.

Vanoggend wil ek graag gesels oor daardie gevoel in jou binneste wat jy nie ‘n naam kan gee nie. Daardie gevoel dat jy na iets soek, na meer soek, na vrede soek.

Ons ken almal die verhaal van die Samaritaanse vrou wat Jesus by die put ontmoet het.

Hierdie vrou het ook na meer gesoek, al het sy dit nie eers self besef nie. Sy het van die een man na die ander gegaan. Dan ontmoet sy Jesus en hy tree heel anders op as wat sy van hom verwag het.

Hy was nie eers volgens haar veronderstel om met haar te praat nie. Verder wanneer hy praat sê Hy heeltemal iets anders as wat sy verwag het van ‘n man. In plaas daarvan om net nog ‘n man te word wat haar wil misbruik, kom bied Hy vir haar die lewenswater aan.

Voor Hy dit egter doen, vra hy haar om haar man te gaan haal en sy is eerlik om te erken dat sy nie ‘n man het nie. Jesus het dit reeds geweet en vertel aan haar dat sy die waarheid praat. Dan bied Hy haar die lewende water wat haar sieledors sal versadig aan.

JOHANNES 4

Die Samaritaanse vrou.

9En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat 'n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek 'n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie.

10Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.

11Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water?

12U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee?

13Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry;

14maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.

15Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie.

16Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hier.

17Die vrou antwoord en sê: Ek het nie 'n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie 'n man nie;

18want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê.


Miskien het jy ook ‘n sieledors wat nog nie geles is nie. Hierdie lewenswater is vir almal beskikbaar. Wat moet ons doen as ons daarvan wil drink?

Ons moet die waarheid erken. Die waarheid oor ons lewe, die waarheid oor Jesus. Dus moet ons erken dat Jesus die Seun van die lewende God is, en daarna moet ons die sondige dinge waarmee ons besig is erken en bely.

Daarna sal ons die lewende water ontvang en dit sal soos ‘n fontein in ons oorborrel vir almal om te sien. Hierdie vrou kon net eenvoudig nie stil bly oor hierdie lewende water wat sy ontvang het nie.

Niemand wat Jesus as hulle Saligmaker aanvaar en van Sy lewende water elke dag uit Sy woord drink kan stilbly daaroor nie. Dit is die grootste geskenk wat ons nog ooit ontvang het, en een wat ons nooit moet suinig wees om met ander te deel nie, dit sal nooit opraak, oud raak, weg raak nie. Hoe meer jy hierdie geskenk met ander deel, hoe kosbaarder word dit.

Deel vandag die lewende water wat Jesus aan jou gegee het, wat jou sieledors geles het en elke dag nog les, met ander.

Wees bly vir ander se geluk


Goeiedag Vriende,

Heerlike wind stil dag en die Pieterpol is besig om vir my ‘n baie mooi liedjie te sing.

Vanoggend wil ek gesels daaroor om geliefdes te laat gaan. Hiermee bedoel ek nie aan die dood af te staan nie. Kom ek verduidelik.

Jare gelede, het ons besluit om ons oudste seun na ‘n hoërskool in Suid-Afrika te stuur. ‘n Skool waar hy ‘n groot keuse in sport gehad het, en ook net so ‘n groot keuse in akademie.

Hy was in die sewende hemel van geluk oor die vooruitsig om na hierdie skool te gaan. Die voorbereidings is getref en ons het die reis van 1500km aangepak. Daar was hy goed ontvang.

Toe ons hom groet en daar agterlaat moes ek maar op my tande byt om die trane terug te byt. Hoekom? Omdat ek dit nie vir hom wou moeilik maak nie. Vir die eerste paar kilometers weg van hom het ek vir die eerste en die laaste maal gehuil.

Ons kind was gelukkig. Hy het vinnig aangepas en was geliefd onder sy nuwe maats en by die onderwysers. Hy het uitgeblink op akademiese en sport gebied soos nog nooit voorheen nie.

Vriende en kennisse het gevra: hoe kry jy dit reg om jou kind so ver van jou weg te stuur?

Maklik: As my kind gelukkig is, is ek gelukkig. Hoe kan ek hom daardie geluk ontneem omdat ek selfsugtig is en hom naby my wil hou?

Soms moet ons van ons self af wegkyk as ons geliefdes veranderings in hulle lewe maak wat hulle gelukkiger sal maak. Soms moet ons dink aan hoe lekker dit sal wees as hulle gelukkig is en hulle dit gun. Gelukkig wees omdat hulle gelukkig is.

Ons is so vasgevang in hierdie wêreld waar almal net aan hulle self dink, aan hulle eie geluk dink, dat ons vergeet om gelukkig te wees as ons geliefdes gelukkig is.

Jesus was ons voorbeeld – vir Hom het dit nooit gegaan oor sy eie geluk nie, maar om Sy Vader te behaag en ander gelukkig te maak en te help.

Kom ons loop in die spore van ons Meester, kyk ‘n slag weg van onsself en wees gelukkig omdat ons mense gelukkig is, al beteken dit dat hulle dalk nie by ons is nie.

 

Dinsdag 14 November 2023

Jy het vergeet!


Goeiemôre Vriende,


Betrokke hier by ons in Windhoek, ons kyk uit vir die reën.

Vanoggend wil ek deel oor iets wat ons almal ken: vergeet!
Hoe dikwels, hoor jy jou man, jou vrou, jou kind, jou vriende aan jou sê oor iets wat baie belangrik vir jou was: 'Ai, ek is so jammer ek het vergeet!'


Ons self vergeet soms goed. Ons vergeet die winkellysie, ons vergeet om die kraan vir die tuin toe te draai, ens. Daagliks vergeet ons dinge. Soms vergeet ons van ons Vader, totdat die spreekwoordelike 'paw-paw die fan slaan'.


Dan kom Jesaja in hoofstuk 49:15-16 en vertel ons hoe God oor ons voel. Hoe belangrik ons vir Hom is.


Jesaja 49:15 Kan 'n vrou haar eie baba vergeet,
haar nie ontferm oor die kind
wat sy in die wêreld gebring het nie?
Selfs al sou so iets kon gebeur,
Ek sal jou nie vergeet nie.
16Ek het jou naam in my handpalms gegraveer,
Ek sien jou mure altyd voor my.


Hier kom vra God die vraag of 'n vrou haar baba kan vergeet. Hy het reeds geweet dat daar vroue gaan wees wat hulle babas gaan weggooi, nooit weer aan hulle gaan dink nie, maar daarvoor het Hy ook voorsiening gemaak in sy belofte aan ons. Hy verseker ons, al sal 'n vrou ook haar skoot se vrug verwerp, Hy sal ons nooit vergeet nie, Hy het ons name in sy handpalm graveer.


Nie op sy arm of been of iewers op sy lyf nie, op Sy handpalm. Daar waar Hy dit altyd kan sien. Is dit nie vir jou kosbaar nie, dit is beslis vir my.


Die Een wat die hele wêreld elke dag in stand hou, wat dag en nag na ons smeking, versoeke, gebede luister, vergeet ons steeds nie.


Want by ons as mense is die volgende verskoning na 'Jammer, ek het vergeet' gewoonlik 'Ek is so besig, dit is hoekom'.


Ons kan juis nie bekostig om van ons Vader, Jesus ons Koning en die Heilige Gees ons Trooster te vergeet as ons soooooo besig is nie. Hoe anders gaan jy deur jou 'besig' kom as jy nie Sy hulp het nie?
Sorg dat jy jou besige dag, jou besige tyd, jou besige lewe altyd elke dag begin deur dit met die Een te bespreek wat reeds vir jou die antwoorde gereed het, wat reeds vir jou die mate van krag en energie gereed het, wat reeds vir jou die emmertjie genade vir die dag gereed het - dan mag ons dalk baie minder belangrike dinge vergeet.


Al vergeet jy alles in jou lewe, kan jy nie bekostig om van ons Drie-Enige God te vergeet nie.

Maandag 13 November 2023

Dankbaarheid ...


Goeiedag Vriende,

Ek hoop julle het ‘n heerlike, rustige naweek gehad. Hier by ons was dit snikkend warm, maar ons het darem gisteraand ‘n paar druppels gekry wat dit bietjie afgekoel het.

Vanoggend gesels ek graag weer oor dankbaarheid, hoe kan ons anders? Ons het gister ons tweede dankdiens gehard en gedurende hierdie dankdiens het mense getuig van ons Koning se goedheid in die jaar wat verby is.

Een van die gesinne wat getuig het, was die van ons Namibiese Rugby kaptein wat die land gelei het tydens die wêreldbeker. ‘n Jongman met ‘n pragtige vrou en twee kindertjies.

Hy het onder andere ‘n paar jaar gelede vir vyf jaar vir Frankryk rugby gespeel. Met die wêreldbeker kom Namibië toe teen Frankryk te staan. Gedurende hierdie wedstryd, duik hy die Franse kaptein, en hulle koppe stamp teen mekaar. Dit was so ‘n hard duikslag dat die Franse kaptein se skedel gekraak het. Die Namibiese Kaptein se wedstryd eindig net daar met ‘n geel kaart wat later na ‘n rooi kaart gegradeer word nadat dit bekend word wat die omvang van die besering is.

Chaos volg vir hierdie jongman en sy familie. Buiten die teleurstelling om nie die wedstryd te kon klaar speel nie, breek die hel los in Frankryk. Hy ontvang doodsdreigemente, sosiale media ontplof soos ‘n vulkaan met allerhande lelike dinge wat hom toegesnou word.

Sy vrou en kinders word na hom geneem in die hotel. Sy vrou waarsku voor die tyd hulle seuntjie van vyf om te onthou dat sy pappa dalk kan hartseer wees omdat hy ‘n rooikaart gekry het. Die mannetjie stap by die hotel kamer in en sê aan sy pappa: Pappa, ek is jammer dat jy ‘n rooi kaart gekry het, maar dit is ok, kan ons nou gaan karretjies speel asseblief.

Hy maak hierdie hele drama wat die wêreld besig is mee, as niks af nie. Hy ken sy Pappa, en weet wie hy is en dat hy die rooikaart-situasie ook sal hanteer.

Dit is dan ook die jongman se getuienis, ongeag hoe teleurgestel hy was, hy het geweet sy Vader sal hom hierdeur ook dra.

Hebreërs 12:28Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.

Die wêreld om ons is veranderlik, maar ons God is onwankelbaar en altyd dieselfde. Kyk om jou en wanneer jy glo jy het niks om voor dankbaar te wees nie, sal jy vind daar is iemand anders wat nog minder as jy het om voor dankbaar te wees.

Doen dan weer ‘n opname en jy sal vind, dat jy ‘n oorvloed van dinge het waaroor jy moet dankbaar wees. Loop jou pad met jou hand in die van Christus, en jy sal altyd bewus wees van hoeveel jy het om voor dankbaar te wees.

Vrydag 10 November 2023

Jou gedagtes ...


 
Goeiedag Vriende,

Ek verneem dat die hitte daar by julle aangekom het, of dan ten minste beslis in die Kaap. Hier by my is 35 warm maar draaglik, ek weet daar by julle is dit anders met die vog. Sterkte as dit by julle ook so warm is.

Gisteraand by die Bybelstudie groep waar ek inskakel, het ons gesels en gekyk na hoe gevaarlik ons gedagtes is. Dit is eintlik waar al die onheil begin. Sonder dat jy agterkom dink jy gedagtes van kwaad, gedagtes van vergelding, gedagtes van wellus en baie meer. Jou brein vorm denkpatrone, wat soos wildpaadjies in die veld is. En jou gedagtes gaan onwillekeurig op daardie paadjies as jy hulle nie doelbewus keer nie.

Kyk wat vra God van ons in Romeine 12.

1En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.


Eerstens word ons gemaan om ons as lewende en heilige offers vir ons Vader te gee.

Tweedens word ons gemaan om nie soos die wêreld te dink en te doen nie. Hoe sal ons dit regkry? Die antwoord is ook daar: ‘… laat God julle verander deur julle denke te vernuwe …’

Ons sal nie maklik daardie denkpatrone op ons eie verander nie. Dit mag denkpatrone wees van haat en vergelding teenoor iemand wat ons seer gemaak het. Dit mag denkpatrone wees van begeerte van iemand ander se goed. Dit mag denkpatrone wees van jaloesie omdat dit so goed gaan met iemand anders en sovele meer.

Hoe moet ons nou maak? Kom ons kyk na wat Paulus sê in 2 Korintiërs.

2 Korintiërs 10: 3Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie.

4Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies

5en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Nooit stry ons die stryd alleen nie. Met die hulp van die Heilige Gees kan ons dit regkry. Sodra ons hierdie verkeerde gedagte begin dink, stop ons dit. Vra ons onsself of God wat ons gedagtes sien, gelukkig sal wees met daardie gedagte. Vra ons Hom om daardie gedagte net weg te neem.

Maklik? Nee, nie maklik nie. Oor en oor totdat ons denkpatrone ontwikkel wat vir God welgevallig is.

Afrekening vir die dinge wat mense aan ons doen, behoort nie aan ons nie. Daarom kan ons elke keer as iemand ons seermaak of te na kom net na ons Vader gaan en dit net daar by Hom gaan los. Hom vra vir Sy vrede oor die aangeleentheid en nie verder ons eie lewens versuur met haat gedagtes nie.

Kom ons neem daardie negatiewe gedagtes dadelik gevange en weier om ons verder siek te maak daarmee. Dit is die dinge wat ons laat hartseer raak, laat depressief raak.

Kies vandag om jou gedagtes te leer om op paadjies van dankbaarheid, liefde, vergifnis en vreugde te stap.

Donderdag 09 November 2023

Hoor jy ...?



Goeiemôre Vriende,

Uit ‘n reeds warm Windhoek, maar daar is sekerlik verligting in die windjie wat roer aan die blare.

Hoe gaan dit vanoggend met jou? Ja, ek wil werklik weet.

Wag jy op ‘n antwoord van God af op iets? Wat is jou verwagting? Hoe dink jy gaan Hy jou antwoord?

Vanoggend deel ek graag met julle een van my mees gunsteling verse in die Woord van God, 1 Konings 19:12-13

Hier is Elia besig om te vlug vir sy lewe omdat Hy God se opdragte uitgevoer het. Ons sien hoe God hom beskerm, hom voed dat hy die reis kan aanpak en hom neem na daar waar Hy met hom wil praat.

1 Konings 19: 11Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.”
Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 
12Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte.
13Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy 'n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”


Ons as mense glo omdat God so Almagtig is Hy met ‘n bulderende stem sal praat, want dit is mos wat ons doen as ons gehoor wil word.

So dikwels verhef jy jou stem teenoor jou vrou/man, jou kinders, jou vriende en dan volg die vraag agterna: Het jy my gehoor! Ons wil seker maak ons word gehoor.

Hier in Konings kom leer God ons weer iets, ons hoef nie te bulder of op mense te skree vir hulle om ons te hoor nie. Hy wat ons God is doen dit nie eers met ons nie, en Hy het alle reg om dit te doen.

Dit is vir my so ontsettend pragtig:

Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte.

13Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak …

Die Skepper God fluister vir ons in die windstilte!

So sag, so teer, so pragtig.

Dit beteken ons moet mooi luister, altyd verwag om Sy stem te hoor, want anders gaan ons die mis deur die geraas van die wêreld.

Tog het Elia dadelik geweet en gehoor, want hy was ingestel, het geglo dat sy God hom nooit in die steek sal laat nie, het gewag vir daardie antwoord.

Eerstens moet ons miskien gaan kyk na die manier waarop ons met mense en veral ons eie mense omgaan. Skree ons die hele tyd om gehoor te word en al die tyd lê die antwoord in ons fluistering?

Tweedens, miskien moet ons van vandag af anders luister en dan sal ons God se stem hoor. Sal ons die antwoord hoor waarvoor ons wag. Ons wag dalk vir ‘n wind wat rotse breek, ‘n aardbewing of vuur, maar dit is nie hoe ons geliefde, liefdevolle, genadige en almagtige Vader met sy kinders handel en praat nie.

Kom ons volg ons Vader se voorbeeld as ons praat. Kom ons luister na die fluistering van die windstilte – dit is waar ons antwoorde lê.

Woensdag 08 November 2023

Wysheid en geloof

 

Dagsê Vriende,

Dit is weereens vir my ‘n voorreg om die boodskap wat ons Vader op my hart lê te bring. 

Ons het gister oor wysheid gesels, en ek wil daarmee voortgaan.

Gister het Salomo ons vermaan om wys op te tree. Vandag kyk ons na waar kan ons hierdie wysheid bekom as ons voel ons het dit nie.

Jakobus vertel ons eers dat ons dankbaar moet wees as ons beproewinge op ons pad het. En ons het beslis almal. Hy troos ons dat dit is ons sterker maak in ons geloof.

Dan vertel hy ons hoe maklik dit is om wysheid te bekom, vra vir God en Hy sal dit vir jou gee.

Jakobus 1

Geloof en wysheid

2My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 
3want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.
4En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. 
5As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. 
6Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. 
7-8So 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

Hou dit daarby op? Nee, dit doen nie, want soos in alles verwag ons Vader dat ons ons deel sal doen om te wys dat ons ernstig is oor Hom.

Jakobus maan ons teen die een ding wat ons almal ken, almal al gedoen het. Terwyl ons so bid, besluit ons in ons klein breintjies reeds, dit is onmoontlik. Ons gee nie vir God kans om sy Almag aan ons te bewys nie. Ons twyfel, ons glo nie.

Hy vermaan ons om nie te twyfel nie. Verder gaan hy aan en waarsku ons dat as ons so onbestendig is, ons niks van God moet verwag nie.

Hoekom voel dit dan vir my asof ons in ons eie pad staan om ons Vader se guns en seëning te ontvang? Of hoe voel julle daaroor?

Mag ons elke dag ryker word in wysheid omdat ons dit van ons Vader vra en nie vir een oomblik twyfel dat Hy dit aan ons sal gee nie.

Dinsdag 07 November 2023

Dankbaarheid


In my skreeu
en my gille
wat teen die plafon
weergalm
hoor U my dankbare hart
vir woorde en sinne
van U ontvang
en nog 'n storie maak ...
is
Waar is jou hart
gebore
op hierdie mooi
sonskyn dag
U seën en guns alleen
hoop ek die vibrasies
van my dankbaarheid
in skreeu en gille ge-uit
val soos 'n loflied
in U Vader hart ...
(c) Marsofine Krynauw

Maandag 06 November 2023

Wysheid



Goeiedag Vriende,

Die koelte het van Namakwaland af hier in Windhoek aangekom en ons verwelkom dit met ope arms na die paar dae van 36+ grade.

Vanoggend praat ons Vader met my uit Spreuke 9 en ek hoop Hy sal ook met jou praat daardeur.

Almal van ons wil elke dag meer wysheid hê en ook almal van ons kry elke dag te doen met mense wat net verkeerdom is. Wat net nie wil luister na dit wat ons Vader van ons vra en hoor hoe goed Hy is nie.

Hier kom leer die wyse Salomo vir ons ‘n paar dinge en terwyl ek dit lees, is dit asof daar ‘n lig aangaan in my brein.


SPREUKE 9

1Wysheid het vir haar 'n huis gebou met sewe klippilare.

2Sy het geslag en wyn reggesit,

sy het haar tafel gedek

3en haar bediendes na die stad toe gestuur

om van die hoogste plek af te roep:

4“Kom hiernatoe, almal wat nog moet leer!”

En vir dié wat kennis kortkom, het sy gesê:

5“Kom eet by my,

kom drink van die wyn wat ek reggesit het!

6Neem afskeid van die onkunde, dat julle kan lewe,

kom op die pad van die insig!”

7Wie iemand so opvoed dat hy 'n ligsinnige mens word,

moet die verwyt daarvoor dra;

wie iemand so leer dat hy 'n goddelose word,

doen dit tot sy eie skande.

8Moenie 'n ligsinnige mens probeer opvoed nie,

hy sal jou daarvoor haat.


Voed 'n wyse op, en hy sal lief wees vir jou.

9Gee jou aandag aan 'n wyse mens, en hy kry meer wysheid,

leer 'n regverdige, en sy kennis vermeerder.

10Wysheid begin met die dien van die Here;

wie die Heilige ken, het werklik insig.

11As jy wysheid het, sal jy lank lewe,

jou lewensjare sal vermeerder word.

12As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan;

as jy 'n ligsinnige mens is, dra jy alleen die las.

13Dwaasheid is soos 'n vrou wat luidrugtig bly klets,

stadig van begrip en sonder kennis van sake.

14Sy sit by haar voordeur,

haar stoel staan op die hoogste plek in die stad,

15en sy roep na dié wat verbykom,

elkeen besig om sy gang te gaan:

16“Draai af hiernatoe, almal wat nog onervare is!”

Sy sê vir dié wat kennis kortkom:

17“Gesteelde water is soet,

kos wat stilletjies geëet word, is lekker!”

18Dié wat na haar luister,

besef nie dat die dood self daar wag nie,

dat dié wat hulle deur haar laat nooi het,

klaar diep in die doderyk is nie.



Hy kom waarsku ons teen dwase mense, om nie ons asem op hulle te mors nie, want hulle wil in elk geval nie reg gehelp word nie.

Hy kom vertel ons dat wysheid met die dien van ons Drie-Enige God begin.

Hy kom gee ons ‘n belofte dat ons lewens verleng sal word as ons met wysheid lewe.

En ook dat ons nie alleen sal wees nie, want ons Vader sal met ons wees.

Al hierdie dinge sal die dwaas nooit hê nie, want hy maak staat op sy eie insigte. Hy word gelei deur sy eie begeertes.

Ek is baie seker dat terwyl elkeen hierdie kosbare stuk uit die Woord lees, julle ook soos ek sal dink aan mense wat jy al op jou pad teë gekom het wat presies is soos Salomo hier beskryf.

Nou wat moet ons nou doen, hy maan ons dan om hulle nie te probeer reghelp nie.

Hoe dankbaar kan ons vir gebed wees. Hoe dankbaar kan ons wees dat ons Vader ons harte ken en sien. Die bedoeling wat ons het met elke mens.

Ons kan vir sulke mense bid. Ons kan bid dat God hulle sal intrek vir sy koninkryk, die waarheid van sy Woord aan hulle sal openbaar deur Sy Heilige Gees. Hulle twisgierige harte sal verander en hulle tot ander insig sal bring.

Net Sondag met ons Dankdiens het ek die voorreg gehad om te luister na ‘n jongman se getuienis oor hoe God sy hart wat vol verbittering en haat teenoor sy ma was wat nooit vir hom daar was nie, verander het. Hoe God hom van ‘n opstandige, woedende mens wat gedurig net wou seermaak en breek verander het na ‘n sagmoedige mens met soveel genade en liefde vir ander.

Kom ons wandel in wysheid, volg die raad van Salomo en leer meer en meer oor wysheid uit die Woord van God en pas dit toe in ons lewens. Dan sal ons die beloftes wat daar opgeteken staan ook ontvang.

Gee om terwyl jy kan.

                                                Almut en ek in Reno, Nevada, besig met ons
                                                                         berry juice.
 
Goeiemôre Vriende,

‘n Nuwe week en ‘n vars nuwe môre. Een hier in Windhoek waar ek wakker geraak het met die wete een van die mense wat ‘n groot impak op my lewe gehad het is nie meer daar nie. Skielik en baie, baie onverwags.

Vrydag is ‘n vriendin van my oorlede vir wie ek die voorreg gehad het om vyf jaar haar regter en soms haar linkerhand te wees. Het ek dit verwag? Nee ek het nie, want sy was net 49 jaar oud, ‘n jongvrou wat gesond geleef het, wat nog laas jaar die Desert Dash, ‘n fietswedren wat van Windhoek oor die Gamsberg, deur die woestyn via Walvisbaai tot in Swakopmund strek, gery het.

Verstom en verlam toe ek die nuus kry, moes ek hoor dat sy kanker gehad het. Sy was so ‘n privaat persoon dat baie min mense dit geweet het, selfs nie die wat nader as die gewone mens aan haar was het geweet nie.

Daar is twee dinge wat ek graag uit hierdie verlies met julle wil deel:

Die een is, ons ken nie die uur, dag of jaar wanneer ons geliefde, vriendin, vriend, of familielid gaan sterf nie – maak seker dat die mense om jou weet hoe lief jy vir hulle is, bou wonderlike herinneringe saam.

Tweedens, as enige een van hierdie mense is jou lewe nie vir Jesus aanvaar het as hulle Saligmaker nie, nog nie ‘n verhouding met Hom het en gereed is om enige tyd te gaan nie, bid, en bid aanhoudende dat ons Vader God daardie mense sal intrek vir Sy koninkryk. Dat jy kan seker wees wanneer hierdie persoon sterf, is hulle gered.

My troos in hierdie tyd van skok en verlies is ryk. Ek staan op die woorde van Dawid.


Psalm31:5Maar ek vertrou op U, Here,

ek sê: U is my God.

16My tye is in u hand.


Verder het ek die wonderlikste herinneringe van Almut en my tye saam. Herinneringe aan harde werk, aande en nagte in die kantoor. Tye wat die een die ander bemoedig het as die moeilik gaan met die werk.

Herinneringe van Exco-vergaderings waar ons dae lank gesit het en na die bestuur moes luister en onderlangs vir mekaar briefies geskryf het oor hoe dinge in die werklikheid werk. Want sien die mense aan die bestuur weet nie altyd hoe dit werk nie, hulle dink net hulle weet hoe hulle dit wil hê.

Tye wat sy in hierdie selfde vergaderings, net na my sou kyk en sien hoe die sweet my afstroom nadat ek in menopose gegaan het, dan die naaste nota boek sou gryp en my koel waai. Die ander om die tafel sou net toekyk en wonder.

Die jare wat ons oorsee gaan trofeejag konfensies bywoon het. Haar druk program en talle funksies wat sy moes bywoon … Marso, wat moet ek aantrek, Marso lyk ek goed genoeg om ons land te verteenwoordig, en vele ander vrae.

Een van my mooiste herinneringe is hoe ons altyd die NAPHA lede tydens hierdie konfensies kon mislei as ons saans genooi was vir ‘n drankie. Sien nie een van ons het enigiets met alkohol gebruik nie. Dan sou Almut net sê: Marso sal vir ons iets gaan kry. Die iets wat gewoonlik Berry juice, waaroor ons albei mal was, maar ‘n dit het ‘n diep rooi kleur gehad en dan het ons dit in die mooiste rooiwyn glase geniet. Die res het geglo ons drink rooiwyn. Dit was ons geheim waaroor ons altyd gegiggel het.

So kan ek aangaan vir lank. Hierdie kosbare herinneringe sal my dra wanneer ek haar mis, en my Vader sal my elke dag dra, want Hy is mos daar in die goeie en die slegte tye.

Vrydag 03 November 2023

Sal jy staan?

 

Goeiemôre Vriende,

Dit is Vrydag, die week het regtig so vinnig verby gesnel. Steeds glo ek alhoewel daar mense is wat nog nie klaar is met die werk wat hulle die week wou afhandel nie, is hulle ook dankbaar vir die ruskans.
Vanoggend lees ek Job 2 en lees ‘n baie waardevolle les raak wat Job vir ons agtergelaat het.

Job word getref deur pynlike sere as deel van die duiwel se plan om hom te laat opstaan teen God. Dit was ook nie die begin van die rampe wat hom getref het nie, hy het reeds al sy kinders en sy groot en kleinvee verloor.

Steeds het satan se plan nie gewerk nie. Job het bly staan.

Job 2:9En sy vrou het vir hom gesê: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!”
10Toe sê hy vir haar: “Jy praat nou soos 'n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”

Vandag weet ek nie of daar nog mense met so ‘n sterk geloof soos Job is nie. So maklik beskuldig ons God as daar iets in ons lewens verkeerd gaan. As met ons moet gebeur wat met Job gebeur het, wonder ek wat ons reaksie sal wees.

Job staan vas en vra: moet ons dan nie die slegte wat met ons gebeur ook vat as ons bereid is om al die seëning te vat wat na ons kant toe kom nie?

Wie van ons gaan sit en maak ‘n opname van al die wonderlike dinge wat God al vir ons gedoen het as ‘n ramp ons tref? Nee, ons kyk ons net vas in die ramp.

Miskien moet ons Job se perspektief op die lewe aanleer. Daar gebeur daagliks soveel wonderlike dinge met ons wat uit ons Vader se vrygewige hand kom. Dit aanvaar ons baie male as vanselfsprekend, sonder om eers daaraan te dink of Hom daarvoor te dank. Dit is ‘n heel ander saak as daar iets slegs met ons gebeur.

God ons Vader bly God – deur goed en sleg. Hy bly lief vir ons, en bly ons elke dag se maat van genade verniet gee. Ons moet in Hom geanker bly, want Hy is immers ook die Een wat ons deur die swaar tye sal dra.

Luister gerus na die lied se woorde, dit is so gepas vir hierdie boodskap.

Mag julle ‘n mooi en rustige naweek geniet.

youtube.com/watch?v=22WoEYfuZN0

Donderdag 02 November 2023

Sonsak oor Kavango


 As die son
in goud agter
die boomtoppe val
die gewelf die doek word
geskilder in sagte pastelle
van pers, appelkoos, en poeier blou
die bome hulself
verlaas betrag
in die groot Kavango se spieël
wat spieëlglad
en geruisloos
sy loop loop
die geheimenisse in sy waters
goed bewaar
die mens gefnuik
deur die stilheid
die vrede
wat oor die groot Kavango
homself tuismaak
met sonsak
‘n vrede vol sinistere
geheime
verborge deur die waters
van die groot Kavango
waar die krokodil en seekoei
skuil hou ongesiens
totdat jy dit waag
om hul habitat te betree
geniet dus die vrede
met groot respek
verlustig jou in die kleur palet
maar hou jouself
net op jou plek
want die groot Kavango
moet jy respekteer.
(c) Marsofine Krynauw


Die pragtige foto is geneem deur my vriendin Heidrun Preschel, net twee dae gelede.

Vrolike hart ...

Goeiemôre Vriende,


Uit ‘n heerlike sonnige Windhoek, hoop ek dat dit goed gaan met elkeen van julle daar in my hartland. Dat die koring mooi staan of julle dalk al besig is om te oes. Vir die vroue, wat skoolgaande kinders het, sterkte met die eksamen wat reeds aan die gang is.

Vanoggend luister ek na een van die oordenkings en die pastoor praat oor ‘n vrolike hart wat hand aan hand gaan met dankbaarheid. Die wyse koning Salomo het ook groot waarde aan ‘n vrolike hart geheg.

Spreuke 17: 22 'n Vrolike hart bevorder die genesing, maar 'n verslae gees laat die gebeente uitdroog.

Nou hoor ek almal protesteer oor hoe kan hulle ‘n vrolike hart hê met soveel uitdagings, met ‘n liggaam wat hierdie tyd van die jaar moeg is, met die gesukkel met kinders wat nie wil leer nie, ensovoorts.
Dan vertel hierdie pastoor ‘n storie wat ons almal iets kan leer.

‘Daar was eendag ‘n man wat ‘n baie mooi hoed in ‘n winkel gesien het, maar hy het nie geld daarvoor gehad nie. Hy gaan toe terug huis toe en begin spaar daarvoor. Toe sy geld genoeg is, gaan hy terug na die winkel en koop die hoed.

Baie gelukkig en ingenome sit hy dit dadelik op sy kop en stap by die winkel uit. Toe hy op die sypaadjie staan, kom daar ‘n groot bus verby en die wind van die bus ruk die hoed van sy kop en die bus ry bo-oor sy splinter nuwe hoed waarvoor hy so lank gespaar het.

Die man begin dadelik God te loof en te prys daar op die sypaadjie. ‘n Man wat langs hom staan, kyk verstom na hom en vra: Hoekom loof en prys jy die Here? Die bus het pas oor jou hoed waarvoor jy so lank gespaar het gery!
Hy antwoord: Ek loof en prys die Here omdat my kop nie in die hoed was toe die bus daaroor gery het nie.’

Vriende, ons is baie in situasies of besig om te sukkel met uitdagings wat ons laat sukkel om ‘n vrolike hart en dankbaarheid te hê. Tog soos hierdie man met die hoed, het ons altyd baie om voor dankbaar te wees en ‘n vrolike hart oor te hê as ons na ons situasies sal kyk met die gesindheid van hierdie man.

Soms moet ons net stilstaan en besin en besef dat ons koppe baie meer waardevol is as die hoed. Ons kyk ons so vas in die situasie dat ons nie die seëning daarin raak sien nie.

Laat ons vandag dankbaar wees as dit net die hoed is waaroor die bus ry! En nie vergeet om ons Vader daarvoor te dank nie.

Ek wil julle laat met C J Langenhoven se raad:

Dis die smorende vuur wat swaarkry
en tog nie die kos kan gaarkry
dis die vrolike vlam wat klap en kraak
dis hy wat sy taak tot vermaaklikheid maak
en sy swaarkry
met lekkerkry klaarkry.



Hoe wonderlik het Langenhoven nie Spreuke 17:22 in digterstaal omskep nie. Met 'n swaarmoedige gesindheid kry ons niks klaar nie, maar met 'n vrolike gesindheid baie seker.

Woensdag 01 November 2023

My goud ...


Aan die dag se soom

het ek begin droom

na 'n lang, lang vermoeiende dag

van die jou lag

hier langs my

waar ons die dag kom groet

jou arm, warm

besitlik om my lyf

as jy my teen jou aantrek

jou sagte fluisterwoorde

wat jy soos sagte akkoorde

speel op die snare van my hart

ek voel jou asem teen my wang

net voor jou lippe myne vind -

jou hartklop teen myne

wat soos eggo's

teen die heuwels van my hart speel

wyl die son sy goudgloed sprei

oor berg en meer

nestel die wete in my hart

ek kies jou weer en weer

jy is my goud van die môrestond

my son se goudgloed in die aand.

©Marsofine Krynauw

Die rustigheid van God



Goeiedag Vriende,

Elders hoor ek is dit weer winter. In Witrivier reën dit en in die Vrystaat is dit weer winter. Ons in Namibië is egter geseënd met somer, ‘n windjie wat die blare so liggies roer op hierdie eerste dag van November.

Vir hierdie maand is die tema van my Bybelstudie ‘Die rustigheid wat God gee’ – ek dink baie gepas, omdat almal hierdie tyd van die jaar stokflou is.

Vanoggend wil ek met julle ‘n gebed deel vir November wat deur Reinhold Niebuhr geskryf is:


God, skenk my die kalmte

om dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie,

die moed om die dinge te verander wat ek kan

en die wysheid om te weet wat die verskil is.

Om een dag op ‘n slag te leef,

een oomblik op ‘n slag te geniet,

swaarkry te aanvaar as die weg na vrede,

die sondige wêreld te vat soos dit is,

en nie soos ek dit sou wou hê nie,

in die vertroue dat God alles ten goede sal laat meewerk

as ek in oorgawe aan sy wil leef –

sodat ek redelik gelukkig sal wees in hierdie lewe

en vir ewig die hoogste geluk by Hom sal ervaar.

Amen


In hierdie gebed is daar soveel wyshede in, oorgawe, onvoorwaardelike vertroue op ons Vader. Maak dit jou gebed vir November 2023 elke dag. Laat dit jou leefstyl raak om toegewyd, dankbaar en gehoorsaam te leef. Nie toe te laat dat die wêreld se dinge ons intrek en ontstel nie, en dit net oorgee aan ons Vader.

Mag hierdie November die beste November in ons lewens raak ongeag die uitdagings en moegheid. Mag ons vrede en vreugde in ons God aansteeklik wees vir ander.

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...