Goeiedag Vriende,
En daar is ons skielik in die derde maand van die jaar. Ek hoop die hitte het darem al skiet gegee by julle. Hier by ons was dit vanoggend sommer erg fris. Ons het oor die naweek ‘n paar lekker buie gehad.
Ek verstaan dat Maart Vrouemaand is. Ek hoop ons manlike digters sal my dit vergun om hierdie week te begin met 'n paar woorde oor vroue.
In my eie lewe was daar 'n paar merkwaardige vroue, al het ek hulle al vroeg verloor. Die eerste vrou wat heel bo aan my lysie in my lewe was, is my tante. Die vrou wat my nie in die lewe gebring het nie, maar wat my groot gemaak het soos haar eie.
Wat 'n merkwaardig vrou was sy nie? 'n Vrou met 'n ernstige hart probleem, en kanker, maar dit het haar nie gekeer om vir haar familie en almal om haar om te gee nie. Om te bemoedig nie, om te bid nie. By haar het ek 'n groot gedeelte van my mense wees geleer. 'n Vrou wat vir vreemdelinge in die middel van die nag sou opstaan en vir hulle kosmaak en sorg dat hulle 'n plek het om te slaap.
Die tweede vrou, is die kleurling vrou, wat my help groot maak het. Net so 'n uitstaande vrou. Sy aan sy het sy en my tante gewerk, en as die een nie daar was nie, was die ander. Hulle het trane af gedroog, bemoedig, geleer en gelag.
Ek onthou baie goed, toe ek 'n tiener meisie was,
kon ek Elsie se siel op strykdae heerlik uittrek. My kos was altyd in koerante
en komberse toegedraai dat dit kan warm bly tot ek van die skool kom. Sy het op
die kombuistafel op strykkomberse gestryk. En die kos was aan die eenkant
toegemaak. Dan wou ek nie self my kos inskep nie, maar hê sy moet.
"Marsofine, ek stryk, skep jou kos!"
"Maar Elsie dit is lekkerder as jy dit skep," sou ek aanhou. Dan wil sy nie. Ek het dan net gewag tot sy na die koolstoof loop om die volgende warm yster te gaan haal, dan het ek lankuit op die tafel gaan lê dat sy nie kon stryk nie. Baie vies, moes sy dan my my sin gee en my kos inskep, tot my groot vermaak.
Ons was onafskeidbaar. By haar het ek net so baie
geleer.
Vandag wil dit voorkom of vrou wees nie meer vir vroue belangrik en iets is om op trots te wees nie.
Of jy nou 'n besigheidsvrou, 'n huisvrou, 'n sportvrou, 'n beroepsvrou is, maak nie saak nie. Jy bly 'n vrou ... 'n unieke wese deur God geskape. Daar is geen ander skepsel soos jy nie. Geen ander skepsel het God geskape om die een te wees wat die nageslag in die lewe bring nie.
Daar is soveel unieke karaktertrekke wat God in ons ingebou het, maar ons misken dit. Vandag wil ek graag uit die een Boek wat ek weet die waarheid verkondig met julle deel hoe 'n goddelike vrou moet lyk.
Spreuke 31
10'n Knap vrou is baie werd,
baie meer as edelstene.
11Haar man steun op haar
en pluk die vrugte van haar werk.
12Sy bring vir hom net voordeel, nie
nadeel nie,
haar hele lewe lank.
13Sy maak wol en vlas bymekaar
en geniet dit om dit te verwerk.
14Sy is soos die handelskepe,
sy bring die kos van ver af in.
15Sy staan op as dit nog nag is
en maak kos vir haar huisgesin;
ook haar slavinne kry hulle deel.
16Sy oorweeg die waarde van 'n stuk grond
en koop dit,
sy sit dit onder wingerd met geld wat sy
self verdien het.
17Sy pak die werk aan met krag,
haar hande staan vir niks verkeerd nie.
18Sy stel vas of die wins goed is,
haar lamp bly heelnag brand.
19Sy werk met die spinwiel,
haar hande bly besig met die weefstoel.
20Sy het 'n oop hand vir die armes,
sy is vrygewig teenoor die behoeftiges.
21Sy is gerus oor haar huisgesin as dit
sneeu:
hulle dra almal warm klere.
22Sy maak self vir haar dekens
en sy dra klere van linne en wol.
23Haar man is welbekend by die stadspoort
waar hy saam met die leiers beraadslaag.
24Sy maak klere en verkoop dit,
sy lewer gordels aan die handelaars.
25Alles aan haar spreek van 'n sterk en
edel persoonlikheid;
sy ken geen kommer oor die toekoms nie.
26As sy praat, is dit met wysheid;
as sy leiding gee, is dit met liefde.
27Sy hou goeie toesig oor haar
huishouding;
lui is sy nie.
28Haar kinders prys haar,
haar man bewonder haar:
29“Daar is baie knap vrouens,
maar jy oortref hulle almal!”
30Uiterlike skoonheid hou nie,
'n mooi voorkoms is nie alles nie;
as sy die Here dien,
dán verdien 'n vrou om geprys te word.
31Gee haar wat haar toekom vir alles wat
sy doen;
laat haar werk haar roem wees in die
stadspoorte.
Kan ons in hierdie maand vir die vrou, waar gaan kyk na wat God van ons vra as vroue? Kan ons weer ons plek vind in die samelewing, nie op wat die wêreld van ons verwag en vir ons opdis nie, maar wat ons Skepper ons gemaak het om te wees.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking