Donderdag 28 Maart 2024

Liefdesoffer

Goeiedag Vriende,

In Windhoek is dit koel, maar die sonskyn tog na die reën wat ons gister gehad het. Ek sien Mariental is daar dele wat oorstroom is. Hierdie weet het ons begin met damme wat baie laag was, en kyk net hoe het ons Vader voorsien.

Hier op die Donderdag voor Paasfees, het ek ‘n vraag aan jou. Hoe gaan jy jou Paasnaweek deurbring?

Is jy reeds met vakansie iewers terwyl dit skoolvakansie is vir jou kinders?

Gaan jy die naweek saam met vriende kamp en jouself geniet?

Gaan jy tuis bly, in die tuin werk, of dinge in en om jou huis herstel?

As jy in Windhoek of Namibië bly, gaan jy Swakopmund toe vir ‘n lui lekker naweek?

Wat ook al jou antwoord is op bogenoemde vrae, is my volgende vraag die belangrikste – onthou jy wat ons hierdie naweek herdenk. 

Weet jy dat hierdie naweek die mees belangrike naweke in mense heugenis is?

Weet jy wat Jesus Christus duisende jare gelede vir jou en my op hierdie naweek gedoen en opgeoffer het?

Of is dit vir jou net nog ‘n naweek waarop jy nie hoef te werk nie en dit saam met jou vriende kan geniet?

Daar is niks fout daarmee om te gaan rus, weg te breek nie, die belangrike ding is dat ons heel eerste vir Jesus sal saam neem. Maak nie saak waarheen jy gaan en wat jy gaan doen nie, Hy moet altyd die ere plek en eerste plek opneem.

Vir my is dit moeilik om te dink en my verstand daarom te draai, hoeveel lyding en pyn en smart Christus vir my moes deurmaak. Dat Hy nog steeds elke dag vir my instaan by ons Vader, omdat Hy my so lief het, omdat Hy weier dat my siel verlore moet gaan.

Hoe kry ons dit dan reg om so maklik te vergeet van Paasfees en Jesus se offer? Kan ons so ondankbaar en so onverskillig wees?

Vriende Jesus is altyd daar en wagtende vir ons om Hom te erken, om dit wat Hy vir ons gedoen het te eer en dankbaar te wees daaroor, om dit te deurleef so goed ons kan saam met Hom dat die wonder van die lewe wat Hy vir ons gekoop het met sy bloed, deel van ons lewens kan word.

Waar jy ook al gaan, en wat jy ook al dien hierdie Paasnaweek, word op Goeie Vrydag net vir ‘n halfuur stil en dink aan hoe Jesus op pad is na die kruis, hoe Hy wat self God is bloed gesweet het en gepleit het as dit moontlik is dat die beker by Hom moet verby gaan, maar steeds gevra het vir ons Vader se wil. In gehoorsaamheid daarin berus het en die kruisweg gewandel het, ALLEEN. Dink aan hoe hy gegesel is, bespot is, verneder is, vir ons. Dink aan hoe Hy daar aan die kruis dood gebloei het en steeds vir die moordenaar vergifnis gehad het, soos Hy keer op keer vir ons het. En selfs daar vir Vader God gevra het om ons te vergewe ... omdat ons nie weet waarmee ons besig is nie!

Hoe hard moet ons harte wees as hierdie ons nie raak nie, as hierdie ons nie van binne uitmekaar wil skeur nie? Laat jou trane van dankbaarheid vloei as jy hieraan dink.

Dan op Paas Maandag, vier die oorwinning wat Jesus Christus se bloed vir jou gekoop het, die ewige lewe saam met Hom. Prys Hom, loof en eer Hom. Laat jou dankbaarheid en lofliedere na Hom opgaan soos ‘n soete geur.

Laat hierdie Paasfees nie net nog ‘n naweek vir jou wees nie, maar laat dit jou aanraak en jou lewe verander om in dankbaarheid te leef vir die liefdesoffer wat Jesus vir ons gebring het.

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...