Maandag 18 Maart 2024

Na trane kom lag

 

Vriende,

Jammer dat ek nog nie by julle uitgekom het vanoggend nie. Hier was dit nou voorwaar 'n potblou Maandag vanoggend. Nou is my rug so kwaad vir my dat ek niks anders kan doen behalwe tik vir die res van die dag nie. Dit sal ook weer reg kom gelukkig. Hoop julle naweek was rustig.

Vanoggend lees ek Psalm 30 en dit val my weer op hoe vol genade ons Vader vir ons is.

Psalm 30

Vir altyd sal ek U loof

1'n Psalm. 'n Lied vir die inwyding van die tempel. Van Dawid.

2Ek wil u lof verkondig, Here, want U het my gered

en my vyande nie laat bly wees oor my nie.

3Here my God, ek het na U geroep om hulp

en U het my gesond gemaak.

4Here, U het my gered van die doderyk,

my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe.

5Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien,

loof sy heilige Naam!

6Waarlik, sy toorn duur net 'n oomblik,

maar sy goedheid lewenslank.

Gisteraand was daar nog trane

en vanmôre lag ek al weer.

Ons lees nie hier dat ons Vader ontsteld raak met ons nie, maar wel dat sy toorn net vir 'n rukkie duur en Hy ons dan weer vergewe en verder vir ons lief bly.

Is dit nie ook hoe Hy verwag ons moet met ons familie, vriende en medemense omgaan nie? Ja, ons mag kwaad word, maar ons mag nie kwaad bly nie en ook nie sondig terwyl ons kwaad is nie.

Bedoelende nou is ek kwaad vir Piet, in plaas daarvan dat ek vrede maak beswadder ek nou Piet se naam by almal wat wil luister.

Vanoggend sê een van die pastore waarna ek luister 'n baie waar ding. Hy sê die Onse Vader gebed is die gevaarlikste gebed wat ons ons kinders of enigiemand kan leer om te bid.

Hoekom? Omdat ons in daardie gebed verklaar: 'vergeef ons ons sondes, net soos ons die vergewe wat teen ons sondig' - werklik?

Wat is die implikasie van hierdie woorde?

Die implikasie is dat as ek en jy nie bereid is om ons naaste, ons broer, ons suster, ons vriend te vergewe vir iets nie, hoef ons Vader ons ook nie te vergewe nie.

Dus as jou vriend vir jou gejok het, en jy kom dit agter en is kwaad. Jy voel verraai, jy voel dat dit net nie iets is wat jy kan vergewe nie, want hoe vertrou jy weer die persoon.  Dan hoef God jou ook nie te vergewe sou jy vir iemand ander jok nie – en Hy sal dadelik weet as jy dit doen, want Hy weet alles.

Dink dus volgende keer as jy hierdie gebed bid, baie mooi oor wat jy bid en wees vir seker dat jy nie dalk ‘n oordeel oor jouself bring nie.

Wees hou om te vergewe al was jy nie die skuldige party nie, want dit is die voorbeeld wat ons van Jesus gekry het.

Laat ons dankbaar wees in die wete dat al kry ons swaar, ons Vader weer ons vreugde sal herstel.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...