Goeiedag Vriende,
Hier roer die windjie die blare en ons is
dankbaar, ander mag die sweet ons dalk aftap. In Namibië is die môre ons
Onafhanklikheidsdag en die meeste besighede en mense gaan gesluit wees op
Vrydag ook. Mense neem ‘n lekker langnaweek. Ek word gelukkig nie meer geraak
deur vakansiedae nie, want ek is mos permanent met vakansie! Verder is ek
opgewonde, want my kleindogter kom vandag. Die skole het ‘mid term break’ hier
in ons land. Vir die volgende twee weke gaan ek dus dalk stiller wees, maar ek
sal steeds probeer om elke dag ‘n gedagte te deel.
Die Woord is mos ons voedsel, so daarsonder kan ons tog nie.
Vanoggend praat ons oor eensgesindheid of eenheid. Kom ons kyk wat Matteus 18:19 daarvan sê en gesels dan daaroor.
Matteus 18:19Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, 20want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”
Nou kan ons die vraag vra: Hoe moeilik kan dit nou wees om saam met iemand te stem?
Wel, die vyand ken ook hierdie vers, en daarom sal hy altyd sy bes doen om tweespalt te bring tussen man en vrou, tussen vriende, tussen families, tussen kollegas. Omdat hy weet, as mense saamstem is hulle binne God se wil en kan hulle soveel meer vermag.
Hierdie is ‘n skrik waarin ons baie dikwels val. Ons eie ek kom in die pad, ons wil altyd die een wees wat reg is en aandui hoe dinge gedoen moet word. So werk ons reg in die vyand se hand.
Daar is wel nog ‘n voorwaarde, die motief van ons hart moet ook reg wees as ons saamstem. As jy net saamstem om die saak afgehandel te kry, of saamstem omdat dit in jou guns kan tel, is daar ook nie eenheid nie. Die motiewe van albei se harte moet wees om in God se wil te handel.
As man en vrou saam bid, maar een van die partye doen dit net omdat hy of sy die ander wil beïndruk of plesier, is dit nie vir God welgevallig nie. Ons Vader ken mos ons hart se bedoeling. Daar is dus nie regtig eenheid nie.
Die dinge waaroor ons verskil met ander is soms so onbenullig, so onnodig, en glad nie die moeite werd nie. Ons word gewaarsku dat ons stryd op aarde nie teen vlees en bloed is nie, tog verblind die vyand ons so met sy leuens dat ons so dink. Al die tyd is dit net sy manier om verwarring en onmin tussen ons te saai dat ons kan swak wees. Hy weet as ons saamstem, ‘n eenheid is, is ons sterk, want dan is ons in ons Vader se wil en Sy krag is ons krag.
Wees bedag daarop in jou daaglikse wandel dat die vyand jou nie mislei en jy swak bly omdat jy in tweespalt bly lewe nie.
ROMEINE 12:16-18 AFR53
... wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
Jy sal verstom staan om te sien dat jy baie meer regkry
deur met mense in liefde en eensgesindheid te leef as wanneer jy gedurig veg. ‘n
Strydlustige persoon se vlaggie val vinnig as jy met hulle in liefde en
rustigheid handel en die vyand stap uit as die verloorder.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking