Goeiemôre Vriende
Lekker koel oggend, maar die son het reeds begin werk, die termometer beloof om vandag sommer goed te styg. Gelukkig werk ek nie in die son op ‘n land of in die veld nie, vir die manne en vrou wat doen, baie sterkte met die hitte.
Vanoggend lees ek Lukas 5:12 – 16, ‘n gedeelte wat ons almal al baie gelees het. Maar vanoggend kom tref Jesus se antwoord in vers 13 my reg voor die bors.
Ons weet al almal dat in daardie dae mense nie naby melaatses gekom het nie. Tog het hierdie man uit desperaatheid na Jesus gegaan en hom gesmeek om hom te genees.
Lukas 5
Die gesondmaking van 'n melaatse.
12 EN terwyl Hy in een van die stede was,
kom daar 'n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy
aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig.
13Daarop steek Hy die hand uit en raak hom
aan en sê: Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat.
14Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand
te vertel nie; maar, sê Hy, gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou
reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot 'n getuienis.
15 Maar die gerug aangaande Hom is nog
meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister en deur Hom
van hulle siektes genees te word.
16 Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.
Hoekom het dit my so getref? Die Koning van die wêreld, die Een deur wie alles ontstaan het, die Lig, die Waarheid, die Weg en die Amen op alles in hierdie heelal deins nie weg nie. Praat ook nie die man aan omdat hy hom waag nader het nie. Nee! Hy antwoord onmiddellik: ‘Ek wil ...’
Sit jouself vir ‘n wyle in Jesus se skoene. As iemand wat jy ken, of nie ken nie, na jou sou kom wat jy weet aan ‘n baie aansteeklike siekte ly. Jou vra om te help. Wat sal jou reaksie wees?
Sal jy die persoon wegstuur uit vrees dat jy ook sal siek raak. Sal jy die persoon aanpraat oor sy onverantwoordelikheid om met ‘n aansteeklike siekte tussen mense te beweeg? Of sal jy soos Jesus dood eenvoudig ook sê: Ek wil jou help.
So staan Jesus nog elke dag by ons, en net so verklaar Hy hom nog elke dag bereid om ons met alle, ja alles in ons lewens te help. Hy maak nie verskonings nie. Hy stuur nie die persoon weg nie. Hy praat hom nie aan nie. Hy help hom!
So seker as wat jou kleuter is dat as hy van die hoë plek af spring jy as sy ouer hom sal vang. Dat hy of sy nie sal val nie, so seker is dit dat Jesus ons sal vang, ons wil help. Ons kan ook soos daardie kleuter net ontspan in die seker wete ons Koning wil!
Wat is daar vandag wat jy wil hê Jesus moet vir jou doen? As dit iets is wat volgens God se riglyne vir jou lewe is, sal Jesus dit vir jou wil doen.
Vra Hom en vertrou soos ‘n kleuter.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking