Goeiemôre Vriende,
Hier in Windhoek het ons opgestaan in ‘n baie koel, reënerige Donderdag. Vandag is Onafhanklikheidsdag by ons en dus ‘n vakansiedag.
Ek wil juis vanoggend daaroor gesels – in die wêreld is onafhanklikheid ‘n groot ding. Kinders wil onafhanklik wees van hul ouers. Vroue wil onafhanklik wees van hulle mans. In besigheid en mens se privaat lewe wil hulle onafhanklik wees, op hulle eie kan funksioneer en niks van niemand vra nie.
In God se Woord en sy wil vir ons lyk egter heeltemal anders. Hy vra dat ons algeheel afhanklik van Hom sal wees. Dat ons algeheel sal oorgee aan Hom in alles. Alles in Sy hand sal los en sal vertrou dat Hy dit vir ons tot ons beswil sal laat geskied.
Hy vra dat ons nie ons eie planne sal maak nie. Nie op ons eie krag en insig sal staat maak nie.
Hier is ‘n hele klomp verse uit die Woord wat aan ons vertel dat ons op ons Vader moet staatmaak vir alles en van Hom afhanklik moet wees.
Psalm 62: 6Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!
7Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie.
8By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God.
9Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is 'n toevlug vir ons. Sela.
10 Ja, nietigheid is die mensekinders, leuens is die aansienlikes; in die weegskaal moet hulle opgaan, almal saam is hulle minder as nietigheid.
11Vertrou nie op verdrukking en bou geen ydele hoop op rowery nie; as die vermoë aangroei, sit daar die hart nie op nie!
12 Een ding het God gespreek, twee is dit wat ek gehoor het: dat die sterkte aan God behoort,
13en aan U, o Here, behoort die goedertierenheid; want U vergeld elkeen na sy werk.
Want Ek, die Here jou God,
gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê:
Wees nie bevrees nie, Ek help jou.
Jesaja 41:13
Vertrou op die Here met jou hele hart
en steun nie op jou eie insig nie.
Ken Hom in al jou weë,
dan sal Hý jou paaie gelykmaak.
Spreuke 3:5-6
Die hart van die mens dink sy weg uit,
maar die Here rig sy voetstappe.
Spreuke 16:9
Al beswyk my vlees en my hart —
God is die rots van my hart
en my deel tot in ewigheid.
Psalm 73:26
Ek slaan my oë op na die berge:
waar sal my hulp vandaan kom?
My hulp is van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
Psalm 121:1-2
Baie planne is in 'n man se hart,
maar die raad van die Here, dié sal bestaan.
Spreuke 19:21
Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
Johannes 15:5
Hy gee die vermoeide krag
en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.
Jesaja 40:29
Hy kan jou voet nie laat wankel nie;
jou Bewaarder kan nie sluimer nie.
Psalm 121:3
Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.
Matteus 6:34
Die Here is my herder;
niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê in groen weivelde;
na waters waar rus is, lei Hy my heen.
Psalm 23:1-2
Ek stel die Here altyddeur voor my;
omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.
Psalm 16:8
Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.
Eksodus 14:14
As die Here die huis nie bou nie,
tevergeefs werk die wat daaraan bou;
as die Here die stad nie bewaar nie,
tevergeefs waak die wagter.
Psalm 127:1
Die seën van die Here — dit maak ryk,
en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.
Spreuke 10:22
As ek dink: My voet wankel —
dan ondersteun u goedertierenheid my, o Here!
Psalm 94:18
Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.
1 Kronieke 29:14
Uit die benoudheid het ek die Here aangeroep;
die Here het my verhoor in die ruimte.
Psalm 118:5
Bewaar my, o God,
want by U skuil ek.
Psalm 16:1
Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie,
en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie,
maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig,
omdat U 'n welbehae in hulle gehad het.
Psalm 44:4
O Here, God van die leërskare, herstel ons;
laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!
Psalm 80:20
As ek so deur die verse lees, lyk dit nie vir my of ons Vader vreeslik waarde heg aan onafhanklikheid nie. Hier in Afrika is dit ‘n groot gebeurtenis, dit word elke jaar gevier met baie duisende der duisende rande wat spandeer word. Maar na die vieringe gaan dieselfde mense wat dit gevier het honger, hulle het steeds nie skole waar hul kinders opvoeding kan ontvang nie, hulle het steeds nie ‘n werk wat hulle ‘n inkomste bring nie en so kan ek aangaan.
Wat beteken dit dan dat hulle onafhanklik is of hulle land onafhanklik is. Hoe onafhanklik is ‘n land as dit steeds van ander lande voedsel, eletronieseware, motors, boumateriaal en nog ‘n elle lange lys ander dinge moet invoer?
Onafhanklikheid in die wêreld lyk vir my dus maar na ‘n groot klug. Net so is dit ook ‘n versinsel in mense se lewens, ‘n manier om die eie ek te verhef. Want jy kan op jou eie voete staan.
Nee, jy kan nie! Want die suurstof wat jy inasem kom van God af, Hy laat jou asemhaal en wakkerword elke oggend. As Hy vandag sy genade en liefde en hand van ons onttrek, vergaan die wêreld in dadelik.
Bedink bietjie hierdie onafhanklikheid van jou en wat dit jou in die sak bring. Wees baie eerlik met jouself, kan jy werklik sonder God klaar kom? Kan jy werklik sonder jou man, vrou, kind, pa, ma of vriend se liefde en ondersteuning klaar kom?
Kom ons hou op om die wêreld se leuens te glo – dat lande onafhanklik is, dat mense onafhanklik is, dat instansies onafhanklik is – hulle is nie, want dan moes hulle niks van iets of iemand anders nodig gehad het nie.
Kies vandag om afhanklik te wees van God en geniet die ondersteuning van die mense wat Hy op jou pad plaas om Sy hande en voete te wees.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking