Hier in Windhoek is dit ‘n heerlike betrokke, koel oggend. Hier by my is alles so stil en rustig en ek is dankbaar. Tog weet ek dat almal nie in die bevoorregte posisie is wat ek is nie. Almal kan nie soos ek sonder ‘n wekker wakker word, hul koffie gaan maak, dit rustig geniet, daarna in vrede stiltetyd hou en dan hulle dag begin nie.
Net gister luister ek na my vriendin in Duitsland – sy is ‘n Suid-Afrikaner wie se man in Duitsland gaan werk het. Hulle woon al ses of sewe jaar daar. Sy het al redelik vlot Duits leer praat en ook baie gelukkig dat sy dit gedoen het.
Want soos enige jongvrou moet sy ook werk. Dit kan sy nie doen as sy nie kan Duits praat nie. Sy werk Maandae as hulp by twee diep bejaarde mense, doen hulle inkopies, versorg die tannie se hare, was die wasgoed, stryk, maak die huis skoon. Die res van die week doen sy of aanlyn onderrig in Engels vir Duitse kinders of gee klas in Engels aan Duitse kinders by ‘n skool of selfs tuis. Dan het sy self ‘n tiener dogter wat sy skool toe neem, en ‘n man wat soms van die huis werk, daarby nog ‘n huis om te versorg.
Sy raak soms nie kant of wal nie, en gister was weer een van daardie dae. Sy jaag van die een plek na die ander om klas te gee, tussendeur gaan haal sy haar dogter by die skool, voor sy weer op pad is na die volgende afspraak vir nog ‘n Engelse les. Vanaand soek haar gesig kos en die huis moet ook skoon kom iewers.
Haar woorde aan my gister was: So tussen lesse, trek ek net vinnig by ‘n parkeer area in en doen my stilte tyd.
Die vraag vanoggend is, almal is besig, almal is moeg. Waar vind jy rus?
Die antwoord sal baie gee as: Om net ‘n naweek of dag of week af te vat en te gaan rus. Tog is dit nie die antwoord nie, want net laas week het ‘n vriend van my wat met verlof was vir drie weke die volgende stelling gemaak: Dit was vandag my eerste dag terug by die werk en dit voel of ek nog nooit verlof gehad het nie.
Dan kom Jesus in Matteus en nooi ons:
Matteus 11: 28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”
Ons steek altyd net by vers 28 vas, maar vergeet om aan te lees na wat die voorwaarde is om hierdie rus te ontvang. Jesus nooi ons om te kom, maar Hy sê ook: neem my juk op en leer van my ...
Ons dink dit is ons liggame wat moeg is, maar dit is nie ... dit is ons gemoed wat moeg is. Deur van Jesus te leer, leer Hy ons hoe om elke situasie in ons lewens op die regte manier te hanteer en dit sal ons rus vir ons gemoed gee. Ons sal nie meer spook en stoei met vrae of ons dit reg of verkeerd hanteer het nie. Verder sal die Heilige Gees ons leiding gee as ons gewillig is om te leer en te luister.
Jesus het reeds die spore getrap, ons moet net volg en dan sy uitnodiging en aanvaar om rus by Hom te vind as ons Hom leer ken het soos ‘n eie broer.
Kom ons soek rus op die regte plek, en hou op onsself verder vermoei deur dit op die verkeerde plek te soek. Rus sal jy vind as jy stil raak by die voete van jou Middelaar. Daarvoor het jy nie ‘n week of maand nodig nie, net ‘n tydjie elke dag.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking