Goeiemôre Vriende,
Uit ‘n koel, nat Windhoek, waar die son pas deur die wolke gebreek het. Ons het gister namiddag meer as net ‘n paar druppels gehad, en was dit nou vir jou heerlik.
Vanoggend kom praat ons Vader met ons uit Romeine. Hy praat met ons oor ons liggame, iets wat ons baie male misbruik, misken en mee handel net soos ons goed dink. Tog is dit eintlik mos nie ons s’n om mee te maak wat ons wil nie, of hoe?
Ons mishandel ons liggame deur verkeerde spys en drank. Ons misbruik ons liggame deur aan allerhande verkeerde praktyke deel te neem om ons eie begeertes te voed. Ons kleur ons velle in met ink en maak gate waar daar ook al moontlik ‘n plek is.
Ons doen dinge aan ons liggame asof ons nie dink God se volmaakte skeppingswerk is goed genoeg vir ons nie. Ek wonder soms hoe ons Vader voel as Hy elke dag so na ons kyk.
Kom ons plaas onsself vir ‘n paar minute in Sy skoene, met respek gesê. Jy as man van die huis bou vir jou die perfekte braaiarea. Jy doen moeite en werk vir dae daaraan. Dan staan jy terug en kyk daarna en voel trots op jou hande werk. ‘n Paar dae later kom jy by die huis en hoor ‘n gekap. Dan vind jy jou vrou by jou braai en sy is besig om ‘n gedeelte daarvan af te kap. Jou hart wil gaan staan, maar haar mening is dat sy dit anders wil hê.
Hoe sal jy daaroor voel? Sal jy dit net so geredelik aanvaar? Wat sal jy van jou vrou se optrede dink? Hoe sal jy handel?
Nou kom ons by die vroue, jy maak vir jou die pragtigste uitrusting vir jou dogter se troue. Dit is ‘n ingewikkelde ontwerp, maar jy druk deur en werk saans tot in die nag om dit perfek te kry dat dit jou pas soos ‘n handskoen. Wanneer dit klaar is, pas jy dit aan en draai in die rondte voor die spieël, jy is baie tevrede en gelukkig. Jy wys dit aan jou dogter en al jou vriendinne wat daar aankom. Jy is so trots daarop dat jy die in jou spaarkamer voor die kas laat hang dat jy elke keer daarna kan kyk as jy daarin loop.
‘n Paar dae later gaan jy dorp toe en wanneer jy terug keer en weer by jou spaarkamer inloop lyk jou pragtige uitrusting heel anders, heel misvorm. Iemand het nie van jou rok se hals gehou nie, en ook nie van die moue nie. Hulle het dit verander en dit is ‘n algehele gemors in jou oë.
Hoe sal jy daaroor voel? Sal jy dit net so geredelik aanvaar? Wat sal jy van jou vrou se optrede dink? Hoe sal jy handel?
Hier is wat God se woord van ons verwag.
Romeine 12:1EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.
2En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
As ek so na die vers kyk lyk dit my of ons nie kan doen met ons liggame wat ons wil nie. Jesus is ons voorbeeld, hy het heilig gelewe en in gehoorsaamheid aan ons Vader. Dit is wat Hy van ons ook verwag.
Wanneer ons so ons liggame misbruik, mismaak en net aan ons eie begeertes oorgee, glo ek Hy moet ook soos die man voel wie se braai sy vrou wou verander en die vrou wie se pragtige perfekte rok iemand gaan uitmekaar knip het.
Wees bedag daarop dat jou liggaam ook ‘n geskenk van God is, perfek gevorm en aanmekaar geweef deur Homself. Hoekom is dit nie goed genoeg vir jou nie?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking