Vrydag 15 Maart 2024

Jy het 'n uitnodiging ...

Goeiedag Vriende, 

Die koelte hou nog hier in die voormiddag, met ‘n windjie wat so liggies die blare roer. Verder gaan dit goed en skryf ek heerlik. So voor die naweek wil ek nog vir laas met julle kom gesels uit ons Vader se rykdom van beloftes.

Gisteraand by die Bybelstudie, gee ons Bybelstudie leidster, wat gisteraand ‘n vrou was, vir my ‘n lantern in die hand, een wat brand al was dit nog helder daglig. Sy gee my ‘n soort van ‘n raaisel en vra dat ek die raaisel volg om iets te vind. Ek kyk haar toe so skeef-kop aan soos ‘n getroue skaaphond soms doen.

Sy gee my toe ‘n leidraad om my te help waar ek moet begin soek. Die leidraad was so goed, dat ek dadelik geloop het met my lampie en die versteekte item gaan vind het. Dit was twee kerse met ‘n rooi lintjie vasgebind en ‘n kaartjie waar op daar staan: “Uitnodiging aan Marsofine Krynauw, Kom ...”

Met die naweek op hande, sit jy dalk vanaand alleen by die huis, terwyl jy weet van jou vriende, of mense wat sê hulle is jou vriende braai heerlik saam. Of jou vriendinne is reeds besig om by een of ander kwekery saam tee te drink, maar jy is nie genooi nie.

Soms vra jy vir jou vrou of man, hoekom is ons altyd die mense wat almal moet nooi, hoekom word ons nie genooi nie.

Die antwoord daarop is moeilik, en ons sal dit dalk nooit weet nie. Miskien is dit maar net dat die ander nie inisiatief het nie, of nie die persoonlikheid het om mense te onthaal nie.

Hoe dit ook al sy, daar is een baie belangrike Persoon wat ons elke dag uitnooi. Lees bietjie saam met my ‘n vers wat ons vroeër die week ook reeds gelees het.

Matteus 11: 28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Jy mag dalk nooit van jou vriende of vriendinne of familie ‘n uitnodiging ontvang nie, maar jy ontvang elke dag ‘n uitnodiging van die Koning van die heelal en jy het ‘n keuse of jy op daardie uitnodiging gaan reageer.

Jesus nooi jou om te kom net soos jy is, of jy vet of maer, ryk of arm, baie of min aansien het, of jy met ‘n Mercedes of ‘n trekker ry, of jy baie berese of nog nooit in jou lewe gereis het nie – niks maak aan Hom saak nie. Jy bly kosbaar vir hom, Hy wil jou aan sy tafel hê. Hy wil jou voed, hy wil saam met jou lag, saam met jou bly wees, saam met jou huil, jou optel en troos as jy seer het.

Hy het geen moeite of ontbering ontsien om jou aan sy tafel te kan hê nie.

Buiten die kaartjie met die uitnodiging, was daar die twee kerse wat ek gevind het. Wat simboliseer dit?

Dit simboliseer die gelykenis van die 5 wyse maagde met die vol lampe en ekstra olie. Daar was ook 5 dwase maagde wat nie ekstra olie gebring het nie en hulle het uit olie uit gehardloop en was nie gereed toe die Bruidegom opgedaag het nie.

As jy die uitnodiging van die Koning ontvang, moenie op jou louere rus nie, wees gereed. Sorg dat jy genoeg olie in jou lamp het en neem nog ekstra saam, vir dit wat jy nie weet wat voor is nie.

Hoe berei ons ons voor vir hierdie uitnodiging? Presies soos Jesus vir ons vertel in die res van daardie vers – leer van my.

PSALMS 119:105 A

U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad.

Gebruik hierdie lamp wat ons Vader vir ons gegee het en onthou al nooi niemand jou nie, jy het ‘n staande uitnodiging elke dag van die Koning van die heelal: ‘Kom ...

Hierdie naweek as jy so by jouself sit en wonder oor jou vriende en hoekom jy nie genooi is nie, neem jou Bybel en antwoord op Jesus se uitnodiging en word vervul, verkwik en geniet sy vrede wat alle verstand te bowe gaan.

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...