Donderdag 14 Maart 2024

Dankbaarheid teenoor trots ...

Goeiedag Vriende,

Hier is dit lekker koel, maar natuurlik sal die son sy werk nie ophou doen tot die kraaie gaap nie. Tog het ons die hitte nodig vir die reën om te kom.

Vanoggend wil ek weer gesels oor die dinge wat ons vir ons Vader doen. Soos kos wat jy vir iemand gee wat jy weet nie kos het nie. Ou klere wat jy vir ‘n gesin gee wat swaarkry. Daardie uitreik wat jy mee maak van jou gemeente. Daardie siek of bejaarde persoon wat jy besoek en wie se dag of week of maand jy net maak. 

So dikwels sien ons dat mense en selfs gemeentes foto’s van hierdie liefdadigheidswerk op sosiale media deel en breed glimlag vir die lof wat hulle dan toegeswaai word. Ek as skrywer en digter sien gereeld hoe mede-skrywers en digters aan kompetisies deelneem en vir ‘n week daarna hulle sertifikate en trofees aan die wêreld tentoonstel. 

Jesus is baie duidelik daaroor in sy Bergrede: 

MATTHÉÜS 6

Bergpredikasie (vervolg). Liefdadigheid, gebed en vas.

1PAS op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie.

2Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie 'n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg.

3Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie,

4sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde. 

Niemand moet weet wat jy vir die minderbevoorregtes doen nie. Dit is jou opdrag van jou Vader. Hy sal jou daarvoor eendag self beloon. Dieselfde met jou gawes, jy het dit van God ontvang, die eer kom Hom toe. 

Daardie storie van ‘jy kan trots wees op jouself’ werk nie in God se boeke nie. 

Wat doen ek – wanneer ek ‘n boek wat uitgekom het adverteer, sal ek heel eerste die eer aan my Vader gee. Ek besef maar te goed, elke woord, sin, gedagte en my storielyn in daardie boek kom net van my Vader af. Ek weet dit, want ek bid dit elke dag wat ek skryf van Hom af.

Ons moet besef dat alles wat ons besit, aan ons Vader behoort. Wat ons dus doen as ons liefdadigheidswerk doen, is net om wat aan ons Vader behoort te deel. Of dit nou tyd, of kos, of klere of bemoediging of gebed is. 

Ons het dus geen rede op ons eie beuel te blaas nie en dit is ook nie wat God van ons verwag nie. Ons kan net nederig en dankbaar wees vir die voorreg dat ons Vader deur ons werk om ander te seën. 

Wanneer jy weer iets vir iemand doen, dink daaraan dat jy eerder dankbaar as trots moet wees. Dankbaar omdat ons Vader aan jou in soveel oorvloed gegee het dat jy dit kan deel. Dankbaar dat Hy jou gekies het om sy verlengstuk te wees om ander te seën.

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...