Vrydag 08 Maart 2024

Ons Vader is Almagtig


 Goeiedag Vriende,

Jammer ek het julle gister afgeskeep. Dit was net erg besig omdat my nuutste boek uitgekom het vroeg oggend en ek met die bemarkingsvideo besig was. Steeds is ek dankbaar. So het die derde maand afgeskop en is die eerste week al weer verby.

Vanoggend so aan die einde van die week praat ek graag oor die almag van ons Vader. Dit was weer opvallende vanoggend drie van die oordenkings waarmee ek vanoggend besig was dieselfde hoof gedagte het – die almag van God en sy beloftes aan ons.

In Josua 1 beveel God vir Josua om sterk en vasberade te wees omdat hy met hom sal wees. Om vir niks terug te staan nie, om nie bang te wees nie. Hy weet dat Josua dit nie in sy eie krag kan doen nie, maar hy belowe dat hy daar sal wees en dan is enigiets moontlik. Dieselfde geld vir ons lewens. Die uitdaging kan vir ons onmoontlik lyk om te oorbrug, maar vir God is dit heeltemal moontlik. Met God sal ons daardeur kom.

Josua 1:9Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

Dan gaan ons aan na Habakuk, en vertel hy ons dat ons God se magtige teenwoordigheid oral oor die aarde geken sal word. Hoe sal dit geken word? Dit word deur jou en my lewe geken, deur die struikelblokke en uitdagings wat ons oorkom wat mense nie kan verstaan hoe ons dit oorkom het en nog steeds so positief is of steeds soveel vreugde in ons lewens het nie.

Deur ons getuie van wat God vir ons gedoen het en steeds doen. Deur onsself sal ons nie die dood van ‘n kind, ‘n lewensmaat, ‘n ouer, ‘n vriendin kan oorkom nie. Deur ons self sal ons nie die kind wat in dwelms verval of die lewensmaat wat in alkoholisme verval het kan aanvaar en ondersteun nie. Net met God se hulp, net deur op ons knieë te bly kan ons daardie groot struikelblokke oorkom en kan ons mense genesing kry. God kan ‘n jongmens wat in dwelms verval het, genees en so ook die persoon wat in alkoholisme verval het.

Habakuk 2: 14Soos waters die seebodem bedek,

so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word.

Jona kom vertel ons dat hy daar was waar hy eintlik geen uitweg gehad het nie, die walvis en watermassa van die see was om hom. Daar was niks wat hy vir homself kon doen nie. Tog toe hy uitgeroep het in gebed in hierdie situasie, was God reeds daar.

God is alom teenwoordig, ons vergeet dit so maklik. Hy wag net vir ons om met Hom te praat. Hy ken reeds jou gedagtes, jou nood, jou uitdaging, maar wag vir jou om jou afhanklikheid van Hom te verklaar.

Nou kan jy vra, maar hoekom moet ek eers vra, eers bid? Doen ons nie dieselfde met ons kinders nie. Ons ken hulle behoeftes en wense, tog wil ons hê hulle moet vir ons vra vir hulp. Ons wil voel hulle het ons nodig en waardeer ons. God ons Vader wil ook voel ons het hom lief en waardeer hom.

Jona 2: 6Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge,

die aarde het my vir altyd toegesluit.

Maar U, Here my God, het my van die dood gered.

7Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink,

en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel.

 

Kom ons gaan hierdie naweek in met die wete ons Vader is Almagtig en alom teenwoordig. Daar is niks wat Hy nie kan doen nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...