Goeiemôre Vriende,
Hier raak dit baie duidelik koeler in die nag en oggende, ek sien gisteraand op Facebook dat van die Boesmanlanders praat van koue by hulle. So dat hulle geheel sop en kerrieafval gemaak het. Wel ek het nie koue nodig om enige een van daardie te maak nie, want ek vrek oor albei.
Kom ons gesels vandag bietjie oor integriteit. Ons woord van eer soos ons daarmee grootgeword het.
Ek kan nog goed onthou as kind dat daar nie geskrewe kontrakte vir ooreenkomste was nie. Vir die eerlike mense, het dit goed gewerk as die ander persoon ook eerlik was, maar as die ander persoon skelm was, het dit maar sleg uitgedraai soms.
Daarvan het ek eerstehandse kennis opgedoen toe my Pappa skielik oorlede is. Hy was ‘n bouer en was besig om vir ‘n hele paar mense huise, slagpale en nog wat te bou. Daar was nêrens kontrakte nie, met die gevolg toe hy sterf, het hierdie mense net stil gebly en dit wat reeds gebou was verniet gekry. Op navraag van die grootmense wat ons versorg het, was die antwoorde net: ‘waar is die kontrak’.
Gelukkig is dit maar daardie mense se probleem,
want God het vir my broer en my mooi gesorg deur mense wat vir ons omgegee het.
Dit geld egter nie net vir groot kontrakte nie, maar ook vir beloftes wat ons aan ons man/vrou, vriend/vriendin, kinders, familie of selfs kennisse maak.
Soms maak jy ‘n belofte wat jy terwyl jy dit maak reeds weet jy nie gaan kan nakom nie. Soms maak jy ‘n belofte en is so besig dat jy daarvan vergeet.
Een ding wat ek as moeder geleer het, as jou kinders jonk is, moet nie aan hulle beloftes maak wat jy nie nakom nie. Dit is vir hulle baie ontstellende en beslis nie reg nie.
Moet aan niemand ‘n belofte maak wat jy nie kan nakom nie, dit is wat die Woord ons leer.
Die probleem is dat ons soms so hard probeer om mense te plesier dat ons links en regs beloftes maak, terwyl ons nie die tyd het of die middele om daardie beloftes na te kom nie. Ons wil net goed lyk in die mens se oë. Op die einde doen jy baie meer skade as jy daardie belofte nie nakom nie.
Leer om ‘nee’ te sê as jy werklik nie kan nie.
Matteus 5
Die aflê van 'n eed
33“Verder het julle gehoor dat daar van
die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en 'n
eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’
34Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n
eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; 35nie by die
aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit
is die stad van die groot Koning.
36Jy moet ook nie jou kop op die spel
plaas as jy 'n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie.
37Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”
Hierdie gedeelte het my laat terug dink aan daardie gesegde wat ons almal ken: ‘ek sit my kop op ‘n blok’. Ek wonder hoeveel van ons sal nog koppe gehad het as ons koppe moes rol wanneer ons nie ons beloftes kon nakom nie?
Dieselfde geld vir daardie stukkie wat altyd so aangelas word by ‘n belofte: ‘ek sweer op die Bybel’. Hier bo is die Woord baie duidelik dat ‘n belofte net ‘n ja of ‘n nee hoef te wees en wat ook al bykom is verkeerd en heel onnodig. As jou woord jou eer is is dit al wat nodig is.
As jou kind nie mag TV kyk ‘n sekere tyd van die dag nie, moet asseblief hom of haar nie verwar deur een dag in te gee op hul gesanik om wel TV te kyk daardie tyd nie. As dit nee is is dit nee elke dag, daar is nie uitsonderings nie.
Of is dit so: vandag mag jy nie vloek nie my kind, maar môre is dit okei?
Jesus se woorde staan vas, jou nee moet jou nee wees en jou ja jou ja.
Kom ons gaan leef as mense met integriteit. Wees eerlik met jouself en met ander. As jy nie kan nie, is dit nee. As jy kan, is dit ja.
Leë beloftes is sonde ...
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking