Goeiemôre Vriende,
Vertrou almal het ‘n heerlike naweek gehad. Sommige het dalk soos ek nie heeltemal afgeskakel nie en nog tussendeur aangegaan met die dinge wat gedoen moet word. Op ‘n plaas is altyd werk. Dit is ook so dat as mens werk soek in en om jou huis, sal jy altyd iets vind wat jou aandag nodig het. Afskakel moet ons soms afskakel ook. Ek gaan nou so bietjie stadiger gaan, want my volgende boek se manuskrip is by my Uitgewer, en daaroor is ek dankbaar.
Hierdie jaar is ons tema by die gemeente waarby ek inskakel: ‘Greater things are yet to come’. Baie gepas het ons Pastoor gister gepraat van eenheid en hoe ons saam sterker staan, ook hoe ons Vader ons elkeen ‘n gawe gegee het. Daardie gawes saam, is wat God se koninkrykswerk hier op aarde makliker maak.
In die wêreld waarin ons in hierdie tyd leef, waar daar soveel klem gelê op hoe jy met uitstyg, hoe jy nie van ander afhanklik moet wees nie, hoe jy altyd die antwoorde moet hê. Daar word allerhande fensie name daarvoor gegee. En as jy nie in daardie boksie pas nie, word jy gesien as ‘n mislukking.
NIE WAAR NIE!!!
Dit is net nog ‘ leuen van die vyand wat so verfyn is dat almal dit moet glo. Dat elke mens nou so ‘n groot eie ek het, dat hulle skaars by die voordeur van hulle huise kan ingaan.
In Efesiërs 4 word dit baie duidelik gemaak dat ons nie almal Staats Presidente, of Konings, of Besturende Direkteure, of Dokters, of wat ook al kan wees nie.
Efesiërs 4: 1Ek druk julle dit op die hart, ek wat 'n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.
4Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het.
5Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.
7Aan elkeen van ons is 'n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het.8Daarom sê die Skrif:
“Toe Hy na die hoogte opgevaar het,
het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.”
9Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. 10Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.
11En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars.
12Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.
13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.
14Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.
15Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.
Net soos Paulus dit aan die kerk in Efese verduidelik het, so is dit ook met ons as mense in die gemeenskap.
Ons elk een het ‘n ander gawe, ‘n ander persoonlikheid, en tog het ons Vader dit bedoel dat ons in liefde hierdie verskillende gawes sal gebruik om as eenheid in liefde mekaar en Hom te dien.
Ons wat almal weet hoe afhanklik die samelewing van die boere is vir hul voedsel, sal dit sekerlik beter verstaan.
Mense het nie net vleis nodig om te oorleef nie, hulle het ook groente en vrugte nodig.
So is ons elkeen se gawes wat ons ontvang het nodig, om ‘n eenheid te vorm – soos ‘n masjien wat baie dele het en as almal nie saamwerk nie, werk dit nie.
Dan sal ons sterk staan en as die een swak is sal die ander hom of haar dra. Niks sal ons kan onderkry nie, ons sal mekaar respekteer elkeen vir sy of haar unieke gawe en ons Vader se hart behaag.
In ons huishouding, in ons werk, in ons verhoudings – dit is onnodig dat daar moet afguns en jaloesie wees. Dat daar die ewig wedywering moet wees. Elkeen het sy of haar eie bydrae om te lewer.
Kan ons begin konsentreer om mekaar se gawes te waardeer in plaas daarvan dat ons afgunstig op mekaar is. Om mekaar te respekteer in ons uniekheid. En om ons Vader so te eer met ons persoonlikhede. Dit is die verskillende kleure en soorte blomme wat 'n tuin pragtig maak.
Wat ‘n wonderlike voorbeeld het ons nie in die Drie-Eenheid!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking