Môre, môre Vriende,
Een van daardie stil dae wat jy net weet hierdie is ‘n dag waar die hitte ons gaan bekruip. Dankbaar vir groot skadu bome en ‘n waaier om dit baie beter te maak. Die hitte is die voorloper vir die reën, so ons is dankbaar.
Vanoggend luister ek na die twee oordenkings en dit val my op dat hulle so verskillende en tog ook so eenders is.
Ons is aan die begin van ‘n jaar en uit ondervinding weet ons dat alles nie net gaan klopdisselboom gaan hierdie jaar nie. Dat jy en ek, al is ons kinders van God, nie net alles reg gaan doen of die regte besluite gaan maak hierdie jaar nie. Dat ons ook gaan droogmaak ...
Wat nou gemaak? Die een pastoor vergelyk hierdie dinge wat ons gaan doen wat verkeerd is, wat nie behaaglik vir ons Vader is nie, met vullis. Almal van ons weet dat as ons nie gereeld skoon maak nie, gaan alles in verval in ons huise. Hoekom weet ons dit dan nie ook vir ons geestelike lewe nie?
Soos ons die vullis elke week uitsit om opgetel te word en verwyder te word, so moet ons elke dag ook eerlik met onsself wees. Moet ons met ons Vader praat en erken dat ons verkeerd gedoen het, en Sy vergifnis vra. Hy belowe om ons te vergewe en dit te vergeet.
Job maan ons om te sorg dat ons hande skoon is as ons vry en sonder vrees wil leef.
Job 11:13 AS jý jou hart berei en jou hande uitbrei na Hom
14 — as daar ongeregtigheid in jou hand is, verwyder dit, en laat geen onreg in jou tente woon nie —
15 ja, dan sal jy jou aangesig kan ophef, vry van smet; en jy sal vasstaan sonder om te vrees.
Gee elke dag daardie dinge aan God wat jy weet jy verkeerd gedoen het. Miskien verkeerde woorde, verkeerde optrede teenoor jou familie of vriende, verkeerde besluite wat nie in God se wil vir jou is nie.
Gooi dit in die vullisdrom en laat God dit verwyder en vergeet daarvan.
Kyk net in Jesaja 55 kom maak Hy ons die belofte as ons Hom soek, en ons verkeerde weë verlaat, sal Hy ons seën met voorspoed.
Die dinge wat ons voorheen seer gemaak het soos die doringbome en distel se dorings wat ons afknou as ons naby kom, sal Hy vervang met sipres en mirtebome. Vreugde en vrede, groei en prag dit is wat Hy ons in die plek van die seer en slegte dinge belowe as ons dit net vir Hom kom gee.
Jesaja 55: 6 Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.
7Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.
8Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here.
9Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.
10Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter;
11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.
12 Want met vreugde sal julle uittrek en met vrede gelei word; die berge en heuwels sal voor julle in gejubel uitbreek, en al die bome van die veld in die hande klap.
13 Vir 'n doringboom sal 'n sipres opgaan; vir 'n distel sal 'n mirteboom opgaan; en dit sal vir die Here wees tot 'n naam, tot 'n ewige teken wat nie uitgeroei sal word nie.
Hoekom sal ons die verkeerde ding (vullis) bly ophoop totdat dit so baie is dat dit ons oorweldig, hoekom gee ons dit nie net elke dag vir ons Vader nie? Hy sal dit wegneem en ons los met ‘n skoon hart-huis en ons sipresse en mirtebome gee om ons hart-tuin mee te versier wat ons vrede en vreugde sal verskaf.
Kom ons hou ons hart-huise skoon in hierdie jaar. En geniet die sipres en mirte wat in ons tuin gedy.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking