Donderdag 18 Januarie 2024

Geloof en tyd ... wat jy saai ...

Goeiedag Vriende,

Vanoggend is dit alles heerlik nat en vars, want gisteraand het ons heerlike reën gehad. Was dit nou vir jou wonderlik. Dit was vir my so lekker, dat ek nie omgegee het om uit te gaan en sopnat te raak nie. Dit laat my dink aan my gedig wat ek ‘n paar jaar gelede geskryf het, As ‘n boer dans ... Ek plaas dit hier onder vir julle om te lees.


As ʼn boer dans . . .

Met geboë skouers sit hy daar
tuur ver oor die kaal, godsverlate Grunau-vlaktes
geen grashalm of bossie om na te kyk
net die lugspieëling wat hom verneuk
die kaal vlaktes soos panne vol water laat lyk . . .


hy is ʼn boer
of nee, hy was ʼn boer
droogte op droogte op droogte
het hom kaal gestroop
dat al wat oor is
die geraamtes van sy dooie diere
langs droë suipkrippe is


so staar hy al vir maande
niks siende voor hom uit
want daar is niks om te sien
hy skrik op uit sy mymering
het hy hom verbeel
het hy donder en blitse sien speel


dan plons die eerste vet druppels
genadewater op die stofmoeë aarde neer
eers te verstom om te reageer
al harder kom die druppels neer
tot ʼn grys gordyn sy sig versper
die strome oor die vlaktes stroom


dis dan dat hy sy voete vind
en soos ʼn baldadige kind
gaan dans in die reën en wind
totdat hy deurdrenk
van genadewater en dankbaarheid
weer neersak in sy stoel
in ongeloof toekyk
hoe die Vader die lugspieëling verneuk
die vlaktes met Sy genadewater vul


as ʼn boer dans in die reën
is dit net God se seën . . .
(c) Marsofine Krynauw


Dit sluit so mooi aan by wat Pastoor Nolan vanoggend gedeel het oor geloof. Hy het ook die boer as ‘n voorbeeld gebruik van onvoorwaardelike geloof. En uit ondervinding dink ek hier aan ons Namakwaland boere – daar is geen waarborg vir ‘n goeie reën jaar nie. Tog saai hy sy lande, tog vertrou hy dat sy Vader die nodige reën sal stuur om hierdie in ‘n goeie oes om te sit.

2 Korintiërs 9: 6 Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.

In hierdie vers verwys Paulus wel na dankoffer, maar dit is nie net op dankoffer van toepassing nie. Dit is in die algemeen van toepassing.

Sou die boer net een land saai omdat hy bang is dit is weer ‘n droë jaar, sal hy net daardie land se opbrengs hê om te oes as dit wel goed reën. So hy moet in geloof al sy lande saai en vertrou dat sy Vader die reën sal stuur.

Dieselfde geld vir ons verhoudings met ons vrou/man, ons kinders, ons vriende. As ons nie tyd in sit en moeite doen met ons verhoudings nie, kan ons nie ‘n goeie oes verwag nie.

Tyd en geloof gaan hand aan hand. As die boer nie die tyd neem om al sy lande te saai nie, kan hy nie ‘n oes verwag nie. As jy ‘n grasperk by jou huis aanplant en dit nooit water en voeding gee nie, sal niks daarvan kom nie.

Dieselfde is waar van ons verhoudings. As jy jou kind nie met liefde versorg en leer wat reg en verkeerd is nie, sal daar geen goeie oes wees nie. As jy nie met jou eggenoot tyd spandeer nie, sal daardie boompie net kwyn en vrek. Bowenal, as jy nie elke dag tyd met God spandeer om Sy hart vir jou te leer ken nie, hoe verwag jy dat jy net wil ontvang uit sy hand.

God het niks van ons nodig nie ... tog hunker Hy na ons liefde. Hoe wys ons dit vir Hom? Deur tyd met Hom in sy woord te spandeer, deur met Hom te praat en aan Hom te wys deur ons lewens dat ons op Hom alleen vertrou en in Hom alleen glo vir ons voorsiening. Deur soos Jesus die lig te wees en sy mense met respek te behandel.

Ek glo vandag se gedagte sal ons wat van ‘n boerdery agtergrond kom, baie goed verstaan – wat jy saai, sal jy maai.

Laat ons dan nie karig saai en ‘n groot oes verwag nie. Maar laat ons oorvloedig saai en verstom staan oor wat God daarmee doen.

Nie een van die twee dinge wat God van jou vra is joune nie – geloof en tyd kom albei van Hom – gebruik dit dan om Hom te eer.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...