Goeiedag Vriende,
Nog ‘n wonderlike, helder, sonskyn dag in Windhoek deur ons Vader aan ons geskenk. ‘n Dag met nuwe geleenthede om ‘n verskil te maak in ander se lewens. ‘n Dag om ons Vader te eer met alles wat ons aanpak.
Gister het ons gesels daaroor dat ons alleen ons vertroue op ons Vader moet stel, want mense sal ons teleurstel, maar God nooit.
Nog ‘n wonderlike, helder, sonskyn dag in Windhoek deur ons Vader aan ons geskenk. ‘n Dag met nuwe geleenthede om ‘n verskil te maak in ander se lewens. ‘n Dag om ons Vader te eer met alles wat ons aanpak.
Gister het ons gesels daaroor dat ons alleen ons vertroue op ons Vader moet stel, want mense sal ons teleurstel, maar God nooit.
Vandag kom kyk ons na eensaamheid, om alleen te wees, om te voel jy het niemand wat omgee of jou ondersteun nie.
Ons het almal verskillende persoonlikhede. Sommige mense floreer net tussen baie mense, ander doen weer beter met mense nou en dan en ander hou daarvan om op hulle eie te wees.
Eensaamheid het soms niks te doen met of jy mense om jou het of nie. Ekself en ek is seker van julle het ook al dit ondervind dat jy in ‘n geselskap sit of tussen mense is, maar steeds eensaam voel.
In tye wanneer jy nie rustigheid in jou siel het nie, of daar uitdagings en probleme in ons lewens is, kan dit maklik gebeur dat ons eensaam voel. Dat ons voel niemand gee om nie.
Jou kinders is dalk net nie daar nie, jou familie is dalk ver, jou vriende is dalk besig met hulle eie dinge. Jy voel verstote en alleen.
Dan kom Jesus in Johannes en Hy vra ons om nie onsself jammer te kry nie, maar ook bemoedig Hy ons.
Johannes 16:32 Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is.
Selfs Jesus, ons Verlosser, Seun van God was alleen sonder mense wat hom ondersteun het. Dit nadat hulle geweet het wat sy omstandighede was.
Tog kom gee Hy ons die wonderlike troos – Ek was nie alleen nie, en so sal jy ook nooit wees nie.
Vir jare het ek hiermee gestoei toe ek nog getroud was. Ek het my eie waarde gemeet aan hoeveel tyd my man aan my spandeer, of nie spandeer nie. Ek het myself wysgemaak dat die mense waarmee hy sy naweke en aande deurbring belangriker as ek moet wees. Vandag weet ek dit is alles leuens, my waarde lê nie hoeveel tyd enige ander mense met my spandeer nie, maar in die feit dat ek ‘n dogter van die Koning is.
Ek het my Vader gevra, help my om nie my geluk te bou op die teenwoordigheid van ander nie. Help my om op my beste te funksioneer alleen ... net met U as my metgesel.
En Hy het.
Vandag is ek so gelukkig dat ek nie omgee om alleen te wees nie. Ek geniet dit om kreatief besig te wees net met my Vader as inspirasie en my geselskap.
Ons as kinders van die Allerhoogste kan nooit alleen wees nie, want ons het Immanuel – God met ons – wat die Heilige Gees is. Hy is binne ons, om ons en omring ons. Ons moet net tot daardie besef kom – as jy ou geluk op ‘n ander mens se teenwoordigheid bou, is jy op die heel verkeerde pad.
Net van God moet jy afhanklik wees. Jy kan jou familie en vriende liefhê en vir hulle omgee, maar hulle moet nooit God se plek in jou lewe oorneem nie.
As jy vandag alleen voel, weet dat jy nie alleen is nie. God met jou, is met jou. Gesels met Hom, soos wat jy met jou vriende of familie gesels, Hy hou daarvan as jy met Hom gesels. Lees sy Woord en brand sy beloftes in jou hart ... dan sal jy weet dat jy nooit alleen kan wees as jy ‘n kind van God is nie.
Wat ‘n wonder dat ons Metgesel nooit moeg raak, nooit te besig is, of nooit weg gaan met vakansie nie. Hy is altyd daar, altyd gereed om na jou te luister, jou te bemoedig en jou te dra.
Vandag as jy in jou tuin loop en al die skeppingswerk van ons Vader sien, weet dat Hy saam met jou daar is en soos hy elke blommetjie elke dag laat groei, so groei Sy teenwoordigheid in jou as jy Hom toelaat om jou Metgesel te wees.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking