Dit voel my ek is nou eers met vakansie, want ek het mos deurgewerk toe almal vakansie gehou het. Ek hou baie van die idee ... alles so rustig en teen ‘n stadiger pas. Daar is beloftes van reën vandag, en ons sien uit.
Van gisteraand af het die gedagte net in my kop gemaal dat mens nie op mense se beloftes kan staat maak nie. En dit maak nie saak wie dit is nie. Dit kan soms mense wees wat jy baie vertrou en glo. Dit is gewoonlik wanneer dit ons die meeste ontstel.
Ek het eers gewonder hoekom dink ek daaraan, want daar is nie eintlik rede vir my om daaraan te dink nie. Dit is net toe ons Vader my vanoggend weer kom wys toe ek die oordenkings ontvang.
Die heel eerste oordenking wat ek luister handel oor dat ons alleen op God kan vertrou en nie op mense nie. God se beloftes staan vas in sy Woord, nie soos mense wat beloftes maak om jou net te mislei of net goed te voel oor hulself nie.
Romeine 10: 11Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
Die volgende oordenking waarna ek luister is Psalm 23:1 die kern vers en die boodskap weereens, God alleen is ons beskermer, ons voorsiener, die enigste een waarop ons kan vertrou.
Psalm 23: Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
Nou kan jy dalk vir my vertel maar jy kom baie dinge kort. Dan vra ek jou: Het jy al onvoorwaardelik op God begin vertrou vir alles in jou lewe? As jy het, sal jy niks kort kom nie en kan jy maar weet Hy sal jou nooit alleen los nie.
Daarna kom ek by my eie stiltetyd in my Bybelstudie boek uit en is die vers Joshua 1:5b en 9. Dit is ‘n vers wat my al vir baie jare na aan die hart lê, dit is die vers wat ons hoofseun in matriek met ons laaste afsluiting voor ons klaar gemaak het met skool vir ons gegee het. Dit is nog steeds waar.
Josua 1:5b Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. 6Wees sterk, wees vasberade, ...
9Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”
Weereens is dit ‘n belofte dat God ons nooit sal alleen laat of teleurstel nie.
‘n Vriend of vriendin, jou baas, of jou man of vrou luister na jou en in daardie oomblik besluit hulle om ‘n belofte te maak wat jou sal hoop gee of laat beter voel of net hulle beter in jou oë sal laat lyk. Wanneer daardie belofte egter uitgevoer moet word, het hulle baie meer verskoning oor hoekom hulle dit nie kan doen nie.
God is nie ‘n mens wat leë beloftes maak nie en ook nie een wat vir jou leuens sal vertel net om jou valse hoop te gee nie.
Laat ons in hierdie jaar ons hoop alleen op ons Vader sit, op Hom alleen vertrou vir alles wat ons nodig het. Of dit nou vrede vir jou siel, of finansies, of gesondheid, of wat ook al is – niks is te nietig of te groot vir Hom nie. Hy sal jou versorg in alles wat jy nodig is en vir jou eie bes wil volgens Sy wil is.
Staan vas in die wete dat daar Een is wat jou nooit sal teleurstel nie, nooit alleen sal laat nie, jou trane sal afdroog, en Sy beloftes staan vas in alle omstandighede. Hy het jou lief en dit kan niks in die hele Heelal verander nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking