Goeiedag Vriende,
‘n Pragtige dag
hier in Windhoek, en hoe geseënd is ons om die nuwe dag te sien en in te gaan.
Vir my die dag waarop ek my eerste boek vir 2024 gaan klaar skryf, en ek is
dankbaar.
Vanoggend praat
ons oor die hart van God. Deur die jare is daar in soveel gemeentes gepreek dat
as jy net God dien, kan jy verder doen wat jy wil. As jy Sondagoggend in die
kerk sit, kan jy maar na kerk gaan drink, jou vrou emosioneel aftakel, jou
kinders verskreeu, jou besigheidsvennoot bedrieg.
Dit is ‘n leuen
wat steeds geglo word, omdat dit mense pas. Dit pas hulle om hulle gewetens te
kan sus met – ek gaan elke Sondag kerk toe, ek lees so af en toe my Bybel, of
ek gee baie geld vir die kerk.
In vandag se tye
word dit dan nog aangevuur met: Jy moet onthou dat die grootste gebod die van
die liefde is, en God het ons almal lief, ongeag wat ons doen.
Ook ‘n leuen van
die duiwel af, wat mense pas en hulle wil glo.
Kom ons begin
deur na Romeine 2:7 te kyk:
Romeine 2:7 aan
die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid
soek — die ewige lewe;
8maar aan
die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid
gehoorsaam is — grimmigheid en toorn;
Dan gaan ons
verder en ons kyk na Spreuke na die dinge wat duidelik aangegee word wat God
haat.
*Spreuke 6:16 - “Die
Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ‘n afsku het” (Spr.6:16). Die
verandering van ses na sewe is ‘n bepaalde manier van skryf en praat met ‘n
bepaalde betekenis. Hierdie uitdrukking beteken die volgende: Hierdie is nie ‘n
vaste getal, asof dit die enigste dinge is wat die Here haat nie. Hier noem Hy
sewe dinge wat Hy haat.
Vs 17a – Oë wat
straal van hoogmoed. Hoogmoed kan mens nie wegsteek nie. Dit wys in jou oë.
Vs 17b – ‘n Tong
wat lieg. Wanneer lieg ‘n mens? Sondag 43 in die Kategismus verduidelik wanneer
mens lieg. Jy vertel ‘n leuen wanneer jy:
Kwaad steek of
laster.
Iemand onverhoord
en ligtelik veroordeel.
Alle vorme van
lieg en bedrieg nie vermy nie, maar doen.
Die waarheid nie
liefhet nie, maar verander.
Nie opreg is in
wat jy sê en bely nie, maar vals.
Vs 17c – Hande wat met bloed bevlek is. Dit is
‘n sonde van dade. Die Here verbied in ‘n gebod dat ek niemand met gedagtes,
woorde gebare en nog minder met die daad mag onteer, beledig, haat of doodmaak
nie.
Vs 18a – Gedagtes
wat met komplotte besig is. Dit is wanneer jy in jou hart met kwaad teen iemand
anders besig is.
Vs 18b– Voete wat
net een koers ken, die van die kwaad.
Vs 19a – ‘n
getuie wat lieg. Jy vertel ‘n leuen wanneer jy getuienis oor iemand anders gee wat
nie waar is nie.
Vs 19b – Iemand
wat rusie stook tussen broers. Jy beïnvloed ‘n persoon teen iemand anders deur
kwaad te steek, sodat daar onenigheid tussen mense kom.
* https://www.gkerkakasia.org.za/2019/01/wysheid-is-om-te-haat-wat-die-here-haat-spr-616/
Vriende gaan lees
gerus die hele gedeelte, ek haal net ‘n stuk daarvan aan om te wys dat daar
dinge is wat God haat.
God is liefde,
ja, maar die heel eerste ding wat ons sal doen as ons God en Jesus liefhet, sal
wees om gehoorsaam te wees aan sy woord. En oral in die woord is daar onderwysings
oor wat verkeerd is, wat ons nie mag doen nie, wat God se hart seer maak en Hom
bedroef.
Jy is self ‘n
ouer, is dit vir jou aanvaarbaar as jou kind wat jy liefhet en so mooi leer oor
wat reg is, gaan en jou voertuig steel, ‘n ongeluk daarmee maak en dan nog die
skuld op iemand anders pak?
Sal dit vir jou
aanvaarbaar wees as jou kind iemand dood maak omdat hy nie sy sin kan kry nie?
Sal dit vir jou
aanvaarbaar wees as jou kind elke dag jou en jou vroue vloek en beledig?
Ek glo nie enigiemand
se antwoord hierop sal ja wees nie. Net so is dit met God. Jy het nog steeds
jou kind lief, maar sy of haar optrede keur jy nie goed nie, breek jou hart.
Net so het God ons steeds lief as ons so droog maak, maar dit dra nie Sy
goedkeuring weg nie en dit kan ons uit die hemel uit hou.
Wanneer ons in
berou na Hom gaan, na Jesus gaan en ons sondes bely, dan is Hy so regverdig en
vol genade om ons te vergewe. Jesus se woorde aan die prostitute wat almal wou
stenig staan hier soos ‘n paal bo water:
Johannes 8:10Toe
het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van
hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”
11“Niemand
nie, Here,” sê sy.
Toe sê
Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen
nie.”
Hy het dadelik
vergifnis gegee, maar onmiddellik daarna haar gemaan om nie weer te sondig nie.
Nee, vriende, ons kan nie net leef soos ons wil nie. Ons moet toegewyd aan die
Drie-Eenige-God leef, aan Hom gehoorsaam wees en in Jesus se voetspore volg,
dan sal ons die ewige lewe beërwe.
Net so min soos
jy jou kind kan toelaat om verkeerd te doen, net so min kan jy ongehoorsaam
wees aan God en glo jy is steeds reg met Hom.
Laat ons nie ons
self laat mislei deur die ‘go-with-the-flow’ aanslag van die lewe nie, maar
laat ons die Woord van God lees en daarby hou.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking