Goeiemôre Vriende,
Vanoggend uit ‘n pragtige koel, nat Windhoek groet ek julle. Dit is Saterdag en Sondag en nog deur die nag lekker sag gereën. Ons het so 20mm gekry. Dankbaar!
Dankie vir almal wat op die pos oor Sonja van Rhyn reageer het, kan ons haar asseblief in ons gebede hou.
Vanoggend wil ek die vraag vra: Na watter stem luister jy?
Die lewe is nie net maanskyn en rose nie – dit is voorwaar ‘n uitdrukking wat ons almal ken. Wat die uitkoms bepaal is hoe ons daarna kyk en hoe ons die uitdagings hanteer.
Die gebeurtenis met Bileam en Balak is vir my ‘n pragtige voorbeeld van hoe om die uitdagings in ons lewens te hanteer.
‘n Koning, Balak, laat Bileam spesiaal kom om Jakob te vervloek. Hy laat hom kom omdat hy weet hy is ‘n man wat as hy praat gebeur dinge so. Vir hom is dit alles Bileam se eie goedheid, maar Bileam weet dat niks uit homself is nie.
Hy weier nie die koning nie, hy stel net sy voorwaarde – wat is sy voorwaarde? Sy voorwaarde is, dat hy eers by sy God sal hoor wat hy moet doen. Dit is ook presies wat hy dan doen.
Sonder om te vrees dat die koning hom dalk kan leed aandoen as hy nie doen wat hy vra nie, staan hy op sy God se woord en is gehoorsaam. Balak vra hom ‘n tweede maal, en weereens hou hy by sy voorwaarde en hoor eers by God wat hy moet doen.
Dan maan hy Balak en sê vir hom: Die God wat hy dien is nie ‘n mens dat Hy op sy woord ooit sal terug gaan nie, die beloftes wat Hy aan Jakob gemaak het, sal Hy nooit herroep nie.
Numeri 23:19 God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?
Net so is dit in ons lewens. Die beloftes wat God aan ons gemaak het, sal Hy nooit herroep nie. Staan ons soos Bileam? Of wankel ons omdat een of ander wêreld se maghebber ons probeer dwing om te dink soos die wêreld dink en doen?
As die Woord van God vir ons so duidelik vertel wat ons mag en nie mag nie, watter verskoning het ons? As ons terug dink aan ons lewens en onthou hoe ons Vader ons keer op keer gedra het, watter verskoning het ons om ongehoorsaam te wees. Ons nie eers by Hom uit te vind wat Sy wil is vir ons nie.
Sy tyd is nie ons tyd nie, tog sal Hy ons nooit in
die steek laat nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking