Maandag 22 Januarie 2024

Hoop ...


Goeiemôre Vriende,

Hier by my in Windhoek is die wind bietjie aan die gang vanoggend. Hoop daar by julle was dit ‘n rustige naweek en begin julle die week met nuwe energie. Ek is opgewonde, want ek gaan soos ons Vader wil môre in Omaruru by my dogter kuier vir die res van die week. So ek sien uit daarna om my kleinkinder te sien en net te wees. As ek dalk stiller as altyd is, glo ek julle sal verstaan.

Kom ons kyk vandag na iets waarsonder ons as kinders van ons Vader nie kan leef nie – hoop.

As ons nie hoop het nie, kan ons maar op ‘n bondeltjie gaan sit en dood gaan. As ons nie ‘n verwagting het oor ons toekoms, of ons kinders se toekoms nie, dan is dit maar baie hartseer.

Nou kan jy my vra, nou hoe kan ek hoop of hoekom moet ek nog hoop. Alles lyk maar bra donker vir jou.

Wel die antwoord is baie duidelik in die Woord van God. Ons hoop omdat ons so oneindig bevoorreg is om kinders van God te wees. En ons hoop is HY.

Ek deel graag ‘n paar van die bemoedigende verse uit die Woord met julle.

Romeine 8:24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.

Klaagliedere 3: 21Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:

22 Get. dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie;

23hulle is elke môre nuut; u trou is groot.

24Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.

25 Tet. Goed is die Here vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.

26Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die Here.

Romeine 15:13 En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!

Wat ook al dit is waarop jy hoop, miskien al lankal hoop, staan vas, want jy staan nie alleen nie. Die Woord belowe ons dat die Gees, Immanuel, God met ons, vir ons pleit.

Die Woord belowe ons dat God ons harte deurgrond en weet wat daarin is.

Die Woord belowe ons dat God self ons hoop is. Klaagliedere 3:24 stel dit so mooi: Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.

Dus is ons hoop op die Almagtige Skepper van hemel en aarde – dit beteken dat daar niks is wat Hy nie tot stand gebring het en ook niks is wat Hy nie kan doen vir ons nie.

Jy het geen rede om hoop te verloor nie, volhard en weet God sien jou hart.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...