Donderdag 11 Januarie 2024

Nie sonder Jesus nie ...


Dagsê Vriende

Vanoggend was ek al vroeg besig ... moet aansoek doen vir ‘n nuwe paspoort en julle weet almal dit is maar ‘n irriterende taak. Tog is ek vol moed, my vorm is ingevul en my dokumente gereed. DV môre is my dag vir die rye by Binnelandse Sake.

Ons almal het daagliks in ons lewens dinge wat ons moet doen waarna ons miskien nie uitsien nie. Dit is gewoonlik waar daar ander mense nodig is om daardie ding te laat gebeur. Dus kan ons dit nie op ons eie reg kry nie. Wanneer jy jou paspoort, bestuurlisensie, of wat ook al moet hernu, wanneer jy jou belastingaanslag moet ingee, wanneer jy jou munisipalerekeninge moet betaal – jy alleen kan dit nie doen nie, want jy het iemand agter ‘n toonbank nodig om jou te help.

Dit kan baie frustrerend wees, baie uitputtend en baie sleg. Ons kan nie ander se manier van optrede bepaal of reguleer nie, net ons eie. Maklik sal dinge nie altyd vir ons wees nie. Die keuse hoe jy optree en reageer op die ander persoon se optrede is waar die geheim lê.

Ek neem juis hierdie aller daagse goed vandag as voorbeelde, want die spreekwoord lui mos: dit is die klein jakkalsies wat soms die wingerde verniel.

In Korintiërs kom Paulus en hy maak dit duidelik dat ons nie oral ‘n rooi tapyt sal hê wat vir ons uitgerol gaan word nie. Dat ons teenstand, vyandigheid, onvriendelikheid, moedswilligheid op die lyf sal loop.

2 Korintiërs 4:7 Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.

8 In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;

ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;

9 ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,

op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

En wat nou? Nou is die antwoord, as jy en ek sonder God in enige situasie in storm, word dit meesal ‘n gemors van onmeetbare proporsies. Die persoon is onvriendelik, vra jou dokumente wat jy nie saam gebring het nie, is bloot net onbehulpsaam of moeilik om te benader. Jy vervies jou op die plek en B A N G! ‘n Oorlog wat jy nie gaan wen nie.

Miskien is die persoon al die dinge wat jy beleef, maar dan is dit mos nog steeds waar dat: ‘n sagte woord die grimmigheid afkeer. As jy en ek met ‘n Jesus-gesindheid daar in stap, sal niks ons kan omkrap nie. Ons kalmte sal later veroorsaak dat die persoon ook anders begin optree. Maar ons wil mos nooit die minste wees nie, ons wil dit mos op ons eie manier doen.

Jesus het selfs in die tuin van Getsemane nog sy vyand se oor terug gesit ... nederig en die vrede bewaarder tot op die einde. Dit is die gesindheid waarmee ons dinge moet aanpak. Uitdagings sal daar wees, maar verslaan sal ons nooit wegstap as ons dit met Jesus aanpak nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...