Vrydag 19 Januarie 2024

Geklee met Christus


Goeiemôre Vriende,

Die week is haas verby en uiteindelik is alles vir 2024 aan die gang. Kinders is terug skool toe en ouers is volstoom aan die werk. Die boere in die Olifantsriviervallei het begin druiwe oes en in Namakwaland is die vee boere besig om soos meeste van die tyd jakkalse te bestry.

Gisteroggend het ons gepraat oor wat ons saai en om in geloof te saai.

Gisteraand by die Bybelstudie groep waarby ek inskakel, het ons die gelykenis van die Saaier in Markus 4 behandel.

Daar is gepraat oor hoe grond voorberei word voor daarin gesaai kan word. ‘n Proses wat ons wat of boere is of van ‘n boerdery omgewing af kom goed ken.  Een van die manne het verduidelik dat as grond so voorberei is, losgemaak met die regte voeding daarin en net laat lê word, dan sal onkruid baie vinnig wellig daar groei.

Dit is so toepaslik op ons as mense se lewens, ons Vader is die Boer wat die grond van ons harte voorberei. As ons nie goeie saad daarin saai nie, kom die onkruid dadelik op.

Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat hoe meer ons God toelaat om die onkruid uit te kap en uit te trek in ons lewens, hoe meer plek sal daar wees vir die goeie van Sy woord. So sal ons dan goeie vrug dra.

Dit sluit so mooi aan by vanoggend se boodskap. Kom ons kyk na Romeine 13 en die vermaning daarin.

Romeine 13

Liefde vir die naaste, waaksaamheid, reinheid.

8WEES aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die wet vervul.

9Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

10Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.

11En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.

12Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.

13Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.

14Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.

Vir God om ons lewens voor te berei om ‘n goeie oes te lewer, moet ons bereid wees. Ons met eerlik met onsself wees, en God toelaat om die dinge wat nie in lyn met sy woord is uit te kap. Daarna moet ons gehoorsaam wees aan Sy woord en die leiding van die Heilige Gees.

Hier in Romeine 13 kom kry ons ‘n hele paar riglyne, maar die een wat vasstaan is in vers 14. Die opdrag om ons te beklee met Christus. As jy ‘n kledingstuk aantrek, bedek dit jou liggaam, dit pas aan jou lyf en jy dra dit die hele dag met jou saam. Mense sien jou mooi rok of jou mooi hemp en broek. Hulle erken jou later aan jou styl van jou klere.

So sal ons ook erken word as kinders van God, mense wat goeie vrug dra, as ons ons met Christus beklee. Die dinge wat in vers 13 genoem word en nog baie meer sal nie meer in jou lewe bespeur word nie. Jy sal geklee wees in eerlikheid, betroubaarheid, sagmoedigheid, eensgesindheid, liefde, vreugde, vrede, barmhartigheid en al die ander dinge wat Jesus so mooi vir ons kom leer het hier op aarde.

Dit sal jou volg, dit sal jou uitrusting van keuse wees elke oggend. Daar sal nie meer plek in jou lewe vir die onkruid wees nie.

Die vyand sal alles probeer om sy voet in die deur te kry, maar as ons op Christus staan wat ons Rots is, het hy geen kans nie. As Christus soos ‘n kleed om jou gevou is, is jy veilig en wandel jy deur Sy krag.

Hoe lyk jou hart se grond? En hoe lyk jou lewensklerekas? Dit kan net jy in eerlikheid antwoord.

Jesus wag om jou hart se grond met lewegewende voeding voor te berei en al die onkruid te verwyder. Klee jouself elke dag met Hom. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...