Dinsdag 30 Januarie 2024

Gierigheid en begeerte.


Môre, môre Vriende,

Hier by my ‘n wonderlike sonskyn dag, maar ek verneem dat dit daar in die Kaap weer vreeslik brand. Ai, dit is baie sleg. Kom ons staan saam en bid elkeen waar ons is dat ons Vader uitkoms sal gee en die brande sal laat ophou.

Glo jy dat Hy dit kan doen? Hy kan – onthou Hy het ‘n woord gespreek en die hele heelal geskep daardeur. God kan die onmoontlike doen, ja vandag nog.

Dit sluit aan by wat ek vandag met julle wil deel. Dit is een van die onderwerpe wat soms sensitief kan wees, afhangende van waar jy staan.

Wanneer is genoeg vir jou genoeg? Wanneer het jy genoeg besittings, genoeg geld, ‘n groot genoeg huis, ‘n luuks genoeg voertuig? Ek kan aangaan, maar ek is seker julle kry die prentjie.

Ons as mense is net soms nooit tevrede met wat ons het nie. Ons begeer die buurman of buurvrou of ons vriend of vriendin se besittings.

Hoekom kan ek nie ook so ‘n groot plaas met al die regte implemente en genoeg water hê nie? Hoekom kan ek nie ook in ‘n dubbelverdieping huis woon en met ‘n Ferarri ry nie? Hoekom kan ek nie ook oorsee reis soos my vriendin nie?

Ons begeer, en ons bly gulsig. Nog meer, nog meer en nog meer!

Die Woord van God belowe ons dat ons ons nie oor die dag van môre hoef te bekommer nie, want God sal voorsien. Nee Hy sal nie vir jou gulsigheid voorsien nie, want jy het dit nie werklik nodig nie.
In Lukas 12 waarsku Jesus self teen gierigheid en hebsug.

Lukas 12:15Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”

Beteken dit dat God nie wil hê dat dit voorspoedig met ons moet gaan nie? Nee, maar Hy bly na jou hart kyk. Neem hierdie goed van jou jou weg van Hom? Veroorsaak dit dat jy jou verbeel jy het God nie meer nodig nie, want kyk net hoe goed gaan dit met jou.

Aan die ander kant – jy wat nie die dubbelverdieping het nie, nie die Ferarri ry nie, nie die spog plaas het nie – het jy al honger gaan slaap?

Die antwoord is tien teen een nee. As jy ‘n dak oor jou kop het, brood om te eet en ‘n voertuig om mee oor die weg te kom, is jy reeds meer geseënd as miljoene in hierdie wêreld van ons. Dink maar net aan die mense in Suid-Afrika. Hoevele mense het hul werk verloor oor die afgelope jare? Het geen inkomste nie, kry nie weer werk nie. Sit in ‘n sink gehuggie en weet nie werklik waar môre se brood eers vandaan moet kom nie. Kinders wat nie kan skool gaan nie, want daar is net nie geld vir enigiets nie.

Dink jy nie dat jy dan eintlik ‘n miljoenêr is nie?

Ons Vader sorg vir sy kinders. Hy sien jou hart, hy sien wat jy bereid is om van jou kant te doen aan die situasie, as jy iets kan doen. Hy weet ook dat jy nie ‘n spogplaas, of dubbelverdieping, of oorsese reis, of Ferarri nodig het om Hom te vertrou nie.

Kan ons op ‘n plek kom wat ons ophou om te begeer, altyd meer te begeer, altyd beter te begeer en op God te vertrou vir dit wat ons nodig het?

Kan ons ag slaan op Jesus se vermaning dat ons lewens nie afhang van die duur leer stel wat in die sitkamer staan en stof vergaar nie.

Kan ons op ‘n plek kom waar ons dankbaar sal wees vir dit wat ons het en bereid wees om te deel met die wat werklik nie het nie, sonder om te oordeel?

Mag ons Vader ons gierigheid verander in mededeelsaamheid in die wete dat Hy môre weer sal voorsien vir wat ons nodig het.

God bly die fontein wat ons lewenstuin voed - elke dag.

Maandag 29 Januarie 2024

Na watter stem luister jy?



Goeiemôre Vriende,

Vanoggend uit ‘n pragtige koel, nat Windhoek groet ek julle. Dit is Saterdag en Sondag en nog deur die nag lekker sag gereën. Ons het so 20mm gekry. Dankbaar!

Dankie vir almal wat op die pos oor Sonja van Rhyn reageer het, kan ons haar asseblief in ons gebede hou.

Vanoggend wil ek die vraag vra: Na watter stem luister jy?

Die lewe is nie net maanskyn en rose nie – dit is voorwaar ‘n uitdrukking wat ons almal ken. Wat die uitkoms bepaal is hoe ons daarna kyk en hoe ons die uitdagings hanteer.

Die gebeurtenis met Bileam en Balak is vir my ‘n pragtige voorbeeld van hoe om die uitdagings in ons lewens te hanteer.

‘n Koning, Balak, laat Bileam spesiaal kom om Jakob te vervloek. Hy laat hom kom omdat hy weet hy is ‘n man wat as hy praat gebeur dinge so. Vir hom is dit alles Bileam se eie goedheid, maar Bileam weet dat niks uit homself is nie.

Hy weier nie die koning nie, hy stel net sy voorwaarde – wat is sy voorwaarde? Sy voorwaarde is, dat hy eers by sy God sal hoor wat hy moet doen. Dit is ook presies wat hy dan doen.

Sonder om te vrees dat die koning hom dalk kan leed aandoen as hy nie doen wat hy vra nie, staan hy op sy God se woord en is gehoorsaam. Balak vra hom ‘n tweede maal, en weereens hou hy by sy voorwaarde en hoor eers by God wat hy moet doen.

Dan maan hy Balak en sê vir hom: Die God wat hy dien is nie ‘n mens dat Hy op sy woord ooit sal terug gaan nie, die beloftes wat Hy aan Jakob gemaak het, sal Hy nooit herroep nie.

Numeri 23:19  God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

Net so is dit in ons lewens. Die beloftes wat God aan ons gemaak het, sal Hy nooit herroep nie. Staan ons soos Bileam? Of wankel ons omdat een of ander wêreld se maghebber ons probeer dwing om te dink soos die wêreld dink en doen?

As die Woord van God vir ons so duidelik vertel wat ons mag en nie mag nie, watter verskoning het ons? As ons terug dink aan ons lewens en onthou hoe ons Vader ons keer op keer gedra het, watter verskoning het ons om ongehoorsaam te wees. Ons nie eers by Hom uit te vind wat Sy wil is vir ons nie.

Sy tyd is nie ons tyd nie, tog sal Hy ons nooit in die steek laat nie.

Maandag 22 Januarie 2024

Hoop ...


Goeiemôre Vriende,

Hier by my in Windhoek is die wind bietjie aan die gang vanoggend. Hoop daar by julle was dit ‘n rustige naweek en begin julle die week met nuwe energie. Ek is opgewonde, want ek gaan soos ons Vader wil môre in Omaruru by my dogter kuier vir die res van die week. So ek sien uit daarna om my kleinkinder te sien en net te wees. As ek dalk stiller as altyd is, glo ek julle sal verstaan.

Kom ons kyk vandag na iets waarsonder ons as kinders van ons Vader nie kan leef nie – hoop.

As ons nie hoop het nie, kan ons maar op ‘n bondeltjie gaan sit en dood gaan. As ons nie ‘n verwagting het oor ons toekoms, of ons kinders se toekoms nie, dan is dit maar baie hartseer.

Nou kan jy my vra, nou hoe kan ek hoop of hoekom moet ek nog hoop. Alles lyk maar bra donker vir jou.

Wel die antwoord is baie duidelik in die Woord van God. Ons hoop omdat ons so oneindig bevoorreg is om kinders van God te wees. En ons hoop is HY.

Ek deel graag ‘n paar van die bemoedigende verse uit die Woord met julle.

Romeine 8:24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat 'n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.

Klaagliedere 3: 21Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:

22 Get. dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie;

23hulle is elke môre nuut; u trou is groot.

24Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.

25 Tet. Goed is die Here vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.

26Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die Here.

Romeine 15:13 En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!

Wat ook al dit is waarop jy hoop, miskien al lankal hoop, staan vas, want jy staan nie alleen nie. Die Woord belowe ons dat die Gees, Immanuel, God met ons, vir ons pleit.

Die Woord belowe ons dat God ons harte deurgrond en weet wat daarin is.

Die Woord belowe ons dat God self ons hoop is. Klaagliedere 3:24 stel dit so mooi: Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.

Dus is ons hoop op die Almagtige Skepper van hemel en aarde – dit beteken dat daar niks is wat Hy nie tot stand gebring het en ook niks is wat Hy nie kan doen vir ons nie.

Jy het geen rede om hoop te verloor nie, volhard en weet God sien jou hart.

Vrydag 19 Januarie 2024

Rut-oomblik


 Rut oomblik

Jou eie smart

het jy gekies

om agter te los

in jou geboorte land

‘n ander onbaatsugtig

by te staan …

 

In ‘n vreemde land

het jy daagliks gegaan

om afval are

vir oorlewing op te tel

 

Jou toekoms onseker

tog het God reeds geweet

Sy plan vir jou

is perfek …

 

Iemand het jou

omgee hart gesien

en skielik

was jy verbaas

deur die oorvloed

wat daar was.

 

Jou skoonheid is gemerk

sy liefde onbeperk

hy moes jou neem as vrou

en so voorsien jou God

in dubbelmaat

 

Vrou met die hart

vir jou medemens

God sien ook

jou hart se wens

en wanneer jy

dit die minste verwag

jy nog besig is om te wik

gaan Hy jou seën

met ‘n Rut-oomblik

jou arms vul

met koringare vet

en ‘n rare liefde

wat geen perke het

Wees geduldig

bly wag

op God se Rut-oomblik

net vir jou.

© Marsofine Krynauw

19 Januraie 2024

Geklee met Christus


Goeiemôre Vriende,

Die week is haas verby en uiteindelik is alles vir 2024 aan die gang. Kinders is terug skool toe en ouers is volstoom aan die werk. Die boere in die Olifantsriviervallei het begin druiwe oes en in Namakwaland is die vee boere besig om soos meeste van die tyd jakkalse te bestry.

Gisteroggend het ons gepraat oor wat ons saai en om in geloof te saai.

Gisteraand by die Bybelstudie groep waarby ek inskakel, het ons die gelykenis van die Saaier in Markus 4 behandel.

Daar is gepraat oor hoe grond voorberei word voor daarin gesaai kan word. ‘n Proses wat ons wat of boere is of van ‘n boerdery omgewing af kom goed ken.  Een van die manne het verduidelik dat as grond so voorberei is, losgemaak met die regte voeding daarin en net laat lê word, dan sal onkruid baie vinnig wellig daar groei.

Dit is so toepaslik op ons as mense se lewens, ons Vader is die Boer wat die grond van ons harte voorberei. As ons nie goeie saad daarin saai nie, kom die onkruid dadelik op.

Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat hoe meer ons God toelaat om die onkruid uit te kap en uit te trek in ons lewens, hoe meer plek sal daar wees vir die goeie van Sy woord. So sal ons dan goeie vrug dra.

Dit sluit so mooi aan by vanoggend se boodskap. Kom ons kyk na Romeine 13 en die vermaning daarin.

Romeine 13

Liefde vir die naaste, waaksaamheid, reinheid.

8WEES aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die wet vervul.

9Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

10Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.

11En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.

12Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.

13Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.

14Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.

Vir God om ons lewens voor te berei om ‘n goeie oes te lewer, moet ons bereid wees. Ons met eerlik met onsself wees, en God toelaat om die dinge wat nie in lyn met sy woord is uit te kap. Daarna moet ons gehoorsaam wees aan Sy woord en die leiding van die Heilige Gees.

Hier in Romeine 13 kom kry ons ‘n hele paar riglyne, maar die een wat vasstaan is in vers 14. Die opdrag om ons te beklee met Christus. As jy ‘n kledingstuk aantrek, bedek dit jou liggaam, dit pas aan jou lyf en jy dra dit die hele dag met jou saam. Mense sien jou mooi rok of jou mooi hemp en broek. Hulle erken jou later aan jou styl van jou klere.

So sal ons ook erken word as kinders van God, mense wat goeie vrug dra, as ons ons met Christus beklee. Die dinge wat in vers 13 genoem word en nog baie meer sal nie meer in jou lewe bespeur word nie. Jy sal geklee wees in eerlikheid, betroubaarheid, sagmoedigheid, eensgesindheid, liefde, vreugde, vrede, barmhartigheid en al die ander dinge wat Jesus so mooi vir ons kom leer het hier op aarde.

Dit sal jou volg, dit sal jou uitrusting van keuse wees elke oggend. Daar sal nie meer plek in jou lewe vir die onkruid wees nie.

Die vyand sal alles probeer om sy voet in die deur te kry, maar as ons op Christus staan wat ons Rots is, het hy geen kans nie. As Christus soos ‘n kleed om jou gevou is, is jy veilig en wandel jy deur Sy krag.

Hoe lyk jou hart se grond? En hoe lyk jou lewensklerekas? Dit kan net jy in eerlikheid antwoord.

Jesus wag om jou hart se grond met lewegewende voeding voor te berei en al die onkruid te verwyder. Klee jouself elke dag met Hom. 

Donderdag 18 Januarie 2024

Geloof en tyd ... wat jy saai ...

Goeiedag Vriende,

Vanoggend is dit alles heerlik nat en vars, want gisteraand het ons heerlike reën gehad. Was dit nou vir jou wonderlik. Dit was vir my so lekker, dat ek nie omgegee het om uit te gaan en sopnat te raak nie. Dit laat my dink aan my gedig wat ek ‘n paar jaar gelede geskryf het, As ‘n boer dans ... Ek plaas dit hier onder vir julle om te lees.


As ʼn boer dans . . .

Met geboë skouers sit hy daar
tuur ver oor die kaal, godsverlate Grunau-vlaktes
geen grashalm of bossie om na te kyk
net die lugspieëling wat hom verneuk
die kaal vlaktes soos panne vol water laat lyk . . .


hy is ʼn boer
of nee, hy was ʼn boer
droogte op droogte op droogte
het hom kaal gestroop
dat al wat oor is
die geraamtes van sy dooie diere
langs droë suipkrippe is


so staar hy al vir maande
niks siende voor hom uit
want daar is niks om te sien
hy skrik op uit sy mymering
het hy hom verbeel
het hy donder en blitse sien speel


dan plons die eerste vet druppels
genadewater op die stofmoeë aarde neer
eers te verstom om te reageer
al harder kom die druppels neer
tot ʼn grys gordyn sy sig versper
die strome oor die vlaktes stroom


dis dan dat hy sy voete vind
en soos ʼn baldadige kind
gaan dans in die reën en wind
totdat hy deurdrenk
van genadewater en dankbaarheid
weer neersak in sy stoel
in ongeloof toekyk
hoe die Vader die lugspieëling verneuk
die vlaktes met Sy genadewater vul


as ʼn boer dans in die reën
is dit net God se seën . . .
(c) Marsofine Krynauw


Dit sluit so mooi aan by wat Pastoor Nolan vanoggend gedeel het oor geloof. Hy het ook die boer as ‘n voorbeeld gebruik van onvoorwaardelike geloof. En uit ondervinding dink ek hier aan ons Namakwaland boere – daar is geen waarborg vir ‘n goeie reën jaar nie. Tog saai hy sy lande, tog vertrou hy dat sy Vader die nodige reën sal stuur om hierdie in ‘n goeie oes om te sit.

2 Korintiërs 9: 6 Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.

In hierdie vers verwys Paulus wel na dankoffer, maar dit is nie net op dankoffer van toepassing nie. Dit is in die algemeen van toepassing.

Sou die boer net een land saai omdat hy bang is dit is weer ‘n droë jaar, sal hy net daardie land se opbrengs hê om te oes as dit wel goed reën. So hy moet in geloof al sy lande saai en vertrou dat sy Vader die reën sal stuur.

Dieselfde geld vir ons verhoudings met ons vrou/man, ons kinders, ons vriende. As ons nie tyd in sit en moeite doen met ons verhoudings nie, kan ons nie ‘n goeie oes verwag nie.

Tyd en geloof gaan hand aan hand. As die boer nie die tyd neem om al sy lande te saai nie, kan hy nie ‘n oes verwag nie. As jy ‘n grasperk by jou huis aanplant en dit nooit water en voeding gee nie, sal niks daarvan kom nie.

Dieselfde is waar van ons verhoudings. As jy jou kind nie met liefde versorg en leer wat reg en verkeerd is nie, sal daar geen goeie oes wees nie. As jy nie met jou eggenoot tyd spandeer nie, sal daardie boompie net kwyn en vrek. Bowenal, as jy nie elke dag tyd met God spandeer om Sy hart vir jou te leer ken nie, hoe verwag jy dat jy net wil ontvang uit sy hand.

God het niks van ons nodig nie ... tog hunker Hy na ons liefde. Hoe wys ons dit vir Hom? Deur tyd met Hom in sy woord te spandeer, deur met Hom te praat en aan Hom te wys deur ons lewens dat ons op Hom alleen vertrou en in Hom alleen glo vir ons voorsiening. Deur soos Jesus die lig te wees en sy mense met respek te behandel.

Ek glo vandag se gedagte sal ons wat van ‘n boerdery agtergrond kom, baie goed verstaan – wat jy saai, sal jy maai.

Laat ons dan nie karig saai en ‘n groot oes verwag nie. Maar laat ons oorvloedig saai en verstom staan oor wat God daarmee doen.

Nie een van die twee dinge wat God van jou vra is joune nie – geloof en tyd kom albei van Hom – gebruik dit dan om Hom te eer.

Woensdag 17 Januarie 2024

Jy is nooit alleen!


Goeiedag Vriende,

Nog ‘n wonderlike, helder, sonskyn dag in Windhoek deur ons Vader aan ons geskenk. ‘n Dag met nuwe geleenthede om ‘n verskil te maak in ander se lewens. ‘n Dag om ons Vader te eer met alles wat ons aanpak.

Gister het ons gesels daaroor dat ons alleen ons vertroue op ons Vader moet stel, want mense sal ons teleurstel, maar God nooit.

Vandag kom kyk ons na eensaamheid, om alleen te wees, om te voel jy het niemand wat omgee of jou ondersteun nie.

Ons het almal verskillende persoonlikhede. Sommige mense floreer net tussen baie mense, ander doen weer beter met mense nou en dan en ander hou daarvan om op hulle eie te wees.

Eensaamheid het soms niks te doen met of jy mense om jou het of nie. Ekself en ek is seker van julle het ook al dit ondervind dat jy in ‘n geselskap sit of tussen mense is, maar steeds eensaam voel.

In tye wanneer jy nie rustigheid in jou siel het nie, of daar uitdagings en probleme in ons lewens is, kan dit maklik gebeur dat ons eensaam voel. Dat ons voel niemand gee om nie.

Jou kinders is dalk net nie daar nie, jou familie is dalk ver, jou vriende is dalk besig met hulle eie dinge. Jy voel verstote en alleen.

Dan kom Jesus in Johannes en Hy vra ons om nie onsself jammer te kry nie, maar ook bemoedig Hy ons.

Johannes 16:32 Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is.

Selfs Jesus, ons Verlosser, Seun van God was alleen sonder mense wat hom ondersteun het. Dit nadat hulle geweet het wat sy omstandighede was.

Tog kom gee Hy ons die wonderlike troos – Ek was nie alleen nie, en so sal jy ook nooit wees nie.
Vir jare het ek hiermee gestoei toe ek nog getroud was. Ek het my eie waarde gemeet aan hoeveel tyd my man aan my spandeer, of nie spandeer nie. Ek het myself wysgemaak dat die mense waarmee hy sy naweke en aande deurbring belangriker as ek moet wees. Vandag weet ek dit is alles leuens, my waarde lê nie hoeveel tyd enige ander mense met my spandeer nie, maar in die feit dat ek ‘n dogter van die Koning is.

Ek het my Vader gevra, help my om nie my geluk te bou op die teenwoordigheid van ander nie. Help my om op my beste te funksioneer alleen ... net met U as my metgesel.

En Hy het.

Vandag is ek so gelukkig dat ek nie omgee om alleen te wees nie. Ek geniet dit om kreatief besig te wees net met my Vader as inspirasie en my geselskap.

Ons as kinders van die Allerhoogste kan nooit alleen wees nie, want ons het Immanuel – God met ons – wat die Heilige Gees is. Hy is binne ons, om ons en omring ons. Ons moet net tot daardie besef kom – as jy ou geluk op ‘n ander mens se teenwoordigheid bou, is jy op die heel verkeerde pad.

Net van God moet jy afhanklik wees. Jy kan jou familie en vriende liefhê en vir hulle omgee, maar hulle moet nooit God se plek in jou lewe oorneem nie.

As jy vandag alleen voel, weet dat jy nie alleen is nie. God met jou, is met jou. Gesels met Hom, soos wat jy met jou vriende of familie gesels, Hy hou daarvan as jy met Hom gesels. Lees sy Woord en brand sy beloftes in jou hart ... dan sal jy weet dat jy nooit alleen kan wees as jy ‘n kind van God is nie.
Wat ‘n wonder dat ons Metgesel nooit moeg raak, nooit te besig is, of nooit weg gaan met vakansie nie. Hy is altyd daar, altyd gereed om na jou te luister, jou te bemoedig en jou te dra.

Vandag as jy in jou tuin loop en al die skeppingswerk van ons Vader sien, weet dat Hy saam met jou daar is en soos hy elke blommetjie elke dag laat groei, so groei Sy teenwoordigheid in jou as jy Hom toelaat om jou Metgesel te wees.

Dinsdag 16 Januarie 2024

Sy woord is sy eer ...

Goeiedag Vriende,

Dit voel my ek is nou eers met vakansie, want ek het mos deurgewerk toe almal vakansie gehou het. Ek hou baie van die idee ... alles so rustig en teen ‘n stadiger pas. Daar is beloftes van reën vandag, en ons sien uit.

Van gisteraand af het die gedagte net in my kop gemaal dat mens nie op mense se beloftes kan staat maak nie. En dit maak nie saak wie dit is nie. Dit kan soms mense wees wat jy baie vertrou en glo. Dit is gewoonlik wanneer dit ons die meeste ontstel.

Ek het eers gewonder hoekom dink ek daaraan, want daar is nie eintlik rede vir my om daaraan te dink nie. Dit is net toe ons Vader my vanoggend weer kom wys toe ek die oordenkings ontvang.
Die heel eerste oordenking wat ek luister handel oor dat ons alleen op God kan vertrou en nie op mense nie. God se beloftes staan vas in sy Woord, nie soos mense wat beloftes maak om jou net te mislei of net goed te voel oor hulself nie.

Romeine 10: 11Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

Die volgende oordenking waarna ek luister is Psalm 23:1 die kern vers en die boodskap weereens, God alleen is ons beskermer, ons voorsiener, die enigste een waarop ons kan vertrou.

Psalm 23: Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.

Nou kan jy dalk vir my vertel maar jy kom baie dinge kort. Dan vra ek jou: Het jy al onvoorwaardelik op God begin vertrou vir alles in jou lewe? As jy het, sal jy niks kort kom nie en kan jy maar weet Hy sal jou nooit alleen los nie.

Daarna kom ek by my eie stiltetyd in my Bybelstudie boek uit en is die vers Joshua 1:5b en 9. Dit is ‘n vers wat my al vir baie jare na aan die hart lê, dit is die vers wat ons hoofseun in matriek met ons laaste afsluiting voor ons klaar gemaak het met skool vir ons gegee het. Dit is nog steeds waar.

Josua 1:5b Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. 6Wees sterk, wees vasberade, ...
9Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”

Weereens is dit ‘n belofte dat God ons nooit sal alleen laat of teleurstel nie.

‘n Vriend of vriendin, jou baas, of jou man of vrou luister na jou en in daardie oomblik besluit hulle om ‘n belofte te maak wat jou sal hoop gee of laat beter voel of net hulle beter in jou oë sal laat lyk. Wanneer daardie belofte egter uitgevoer moet word, het hulle baie meer verskoning oor hoekom hulle dit nie kan doen nie.

God is nie ‘n mens wat leë beloftes maak nie en ook nie een wat vir jou leuens sal vertel net om jou valse hoop te gee nie.

Laat ons in hierdie jaar ons hoop alleen op ons Vader sit, op Hom alleen vertrou vir alles wat ons nodig het. Of dit nou vrede vir jou siel, of finansies, of gesondheid, of wat ook al is – niks is te nietig of te groot vir Hom nie. Hy sal jou versorg in alles wat jy nodig is en vir jou eie bes wil volgens Sy wil is.

Staan vas in die wete dat daar Een is wat jou nooit sal teleurstel nie, nooit alleen sal laat nie, jou trane sal afdroog, en Sy beloftes staan vas in alle omstandighede. Hy het jou lief en dit kan niks in die hele Heelal verander nie.

 

Maandag 15 Januarie 2024

Uniek ... saam is ons beter!


Goeiemôre Vriende,

Vertrou almal het ‘n heerlike naweek gehad. Sommige het dalk soos ek nie heeltemal afgeskakel nie en nog tussendeur aangegaan met die dinge wat gedoen moet word. Op ‘n plaas is altyd werk. Dit is ook so dat as mens werk soek in en om jou huis, sal jy altyd iets vind wat jou aandag nodig het. Afskakel moet ons soms afskakel ook. Ek gaan nou so bietjie stadiger gaan, want my volgende boek se manuskrip is by my Uitgewer, en daaroor is ek dankbaar.

Hierdie jaar is ons tema by die gemeente waarby ek inskakel: ‘Greater things are yet to come’. Baie gepas het ons Pastoor gister gepraat van eenheid en hoe ons saam sterker staan, ook hoe ons Vader ons elkeen ‘n gawe gegee het. Daardie gawes saam, is wat God se koninkrykswerk hier op aarde makliker maak.

In die wêreld waarin ons in hierdie tyd leef, waar daar soveel klem gelê op hoe jy met uitstyg, hoe jy nie van ander afhanklik moet wees nie, hoe jy altyd die antwoorde moet hê. Daar word allerhande fensie name daarvoor gegee. En as jy nie in daardie boksie pas nie, word jy gesien as ‘n mislukking.

NIE WAAR NIE!!!

Dit is net nog ‘ leuen van die vyand wat so verfyn is dat almal dit moet glo. Dat elke mens nou so ‘n groot eie ek het, dat hulle skaars by die voordeur van hulle huise kan ingaan.

In Efesiërs 4 word dit baie duidelik gemaak dat ons nie almal Staats Presidente, of Konings, of Besturende Direkteure, of Dokters, of wat ook al kan wees nie.


Efesiërs 4: 1Ek druk julle dit op die hart, ek wat 'n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

4Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het.

 5Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.

7Aan elkeen van ons is 'n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het.8Daarom sê die Skrif:
“Toe Hy na die hoogte opgevaar het,
het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.”

9Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. 10Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.

11En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars.
12Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.
13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.
14Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.
15Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.
Net soos Paulus dit aan die kerk in Efese verduidelik het, so is dit ook met ons as mense in die gemeenskap.

Ons elk een het ‘n ander gawe, ‘n ander persoonlikheid, en tog het ons Vader dit bedoel dat ons in liefde hierdie verskillende gawes sal gebruik om as eenheid in liefde mekaar en Hom te dien.
Ons wat almal weet hoe afhanklik die samelewing van die boere is vir hul voedsel, sal dit sekerlik beter verstaan.

Mense het nie net vleis nodig om te oorleef nie, hulle het ook groente en vrugte nodig.
So is ons elkeen se gawes wat ons ontvang het nodig, om ‘n eenheid te vorm – soos ‘n masjien wat baie dele het en as almal nie saamwerk nie, werk dit nie.

Dan sal ons sterk staan en as die een swak is sal die ander hom of haar dra. Niks sal ons kan onderkry nie, ons sal mekaar respekteer elkeen vir sy of haar unieke gawe en ons Vader se hart behaag.
In ons huishouding, in ons werk, in ons verhoudings – dit is onnodig dat daar moet afguns en jaloesie wees. Dat daar die ewig wedywering moet wees. Elkeen het sy of haar eie bydrae om te lewer.

Kan ons begin konsentreer om mekaar se gawes te waardeer in plaas daarvan dat ons afgunstig op mekaar is. Om mekaar te respekteer in ons uniekheid. En om ons Vader so te eer met ons persoonlikhede. Dit is die verskillende kleure en soorte blomme wat 'n tuin pragtig maak.

Wat ‘n wonderlike voorbeeld het ons nie in die Drie-Eenheid!

Vrydag 12 Januarie 2024

Toekomsverwagtinge ...


 Dagsê Vriende,

Hier by ons so ‘n bietjie van ‘n onplesierige oggend met die wind wat waai, maar dit sal ook weer oorgaan. Miskien is dit juis die wind wat vir ons reën bring, so ek sal dit vat. Vanoggend is ek dankbaar dat ek rustig was oor my uitstappie Binnelandse sake toe om my paspoort aansoek in te gee. Alles daar is  goed georganiseerd deesdae en ek was werklik in en uit. Wat sal dit my nou in elk geval gebaat het om my daaroor te bekommer. My volgende boek is klaar, daaroor prys ek my Vader vir Sy guns en woorde aan my. So op die Vrydag is alles wel met my siel.

Gister het ons gesels oor ons gesindheid waarmee ons ding aanpak, vandag wil kyk ons na ons toekoms verwagting.

Al woon ek in Namibië, is ek tog bewus van die dinge wat in my geboorteland aangaan. Hoor ek van die politiek, die kragkrisis, die onregverdigheid, die moord en doodslag en so kan ek aangaan. Steeds raak dit my nie so naby soos vir elkeen wat daar woon nie, selfs die wat in my ou Namakwaland woon word daardeur geraak.

Dit is maklik ingetrek te word by al hierdie dinge, om op die wa te spring en woedend te wees oor die dinge. Om te voel dat ons land noue op pad is na ‘n gewisse dood en verval.

Weereens is hoe jy daaroor voel ‘n keuse. Ek hoor jy brom dat jy daar is in die middel van als, en hoe het jy ‘n keuse.

As jy jou hoop en verwagting op die land se ekonomie plaas, of die besluite van die regering, of hoe jou buurman optree, dan my vriend is jy gedoem. Jy sal van vandag na môre net meer moedeloos word.

Die ander keuse wat jy het is om op God se woord te beloftes te staan. Om jou toekomsverwagting op God alleen te stel. Die Een wat weet wat môre en oormôre gaan gebeur.

In Jeremia praat Hy met Israel, maar ons is ook Sy kinders en Sy volk, so ons kan hierdie belofte ook vir ons self neem.

Jeremia 31:16So sê die Here: Bly stil, moenie huil nie,

moenie trane in jou oë hê nie!

Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word,

sê die Here,

jou kinders sal uit die vyand se land terugkom.

17Daar is 'n toekoms vir jou nageslag, sê die Here,

jou kinders sal na hulle besitting toe terugkom.

Wanneer ons fokus op ons God bly, die Een wat die Heelal in ses dae geskape het – die hele Heelal, elke dier, plant, kontinent, see, woude, berge – A L L E S – is ook die Een wat ons toekoms in Sy liefdevolle hand hou.

As ons na Jesus se Bergrede gaan kyk vind ons ook daar die antwoord:

Matteus 5:3 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

Die sleutel wat die deure van alles in ons lewens oopsluit, is Jesus. Ons voorsiening, ons guns, ons gesondheid, ons vrede, ons toekoms.

As ons dag vir dag ons hand in Syne sit, en ons toekomsverwagting op Hom alleen stel, sal ons staande bly, ongeag die politiek of land se ekonomie.

Jy kan wegtrek na ‘n ander land, maar onthou net dat uitdagings ‘n manier het om saam te trek. Al hoekom dit so wonderlik klink en lyk vir jou, is omdat jy nie die omstandighede daar ken soos jy dit in jou eie land ken nie. Elke land het sy eie uitdagings, sy eie politiek, sy eie goed en sleg.

Dit maak nie saak wat jou adres is nie, as jy nie jou verwagting op die Een stel wat weet wat môre inhou nie, gaan dit baie wankelmoedig wees. Gaan jy van dag tot dag voel asof jy op stormsee op ‘n bootjie is en eendag gaan ‘n brande kom en jou bootjie gaan sink.

Hoekom wil jy jou vertroue stel in mense wat jy nie ken nie, nie weet of hulle integriteit het en jou belange op hulle hart dra nie?

Maar nie in die Een wat reeds bewys het aan die kruis dat Hy jou liefhet, vir jou omgee, jou beste belange op Sy hart dra, dat jy toekoms vir Hom so belangrik was dat Hy daarvoor gesterf het, nie.

Miskien is dit tyd dat jy bietjie moet gaan dink oor jou keuse, daar is net een keuse om te maak en die is vir Jesus.

Donderdag 11 Januarie 2024

Nie sonder Jesus nie ...


Dagsê Vriende

Vanoggend was ek al vroeg besig ... moet aansoek doen vir ‘n nuwe paspoort en julle weet almal dit is maar ‘n irriterende taak. Tog is ek vol moed, my vorm is ingevul en my dokumente gereed. DV môre is my dag vir die rye by Binnelandse Sake.

Ons almal het daagliks in ons lewens dinge wat ons moet doen waarna ons miskien nie uitsien nie. Dit is gewoonlik waar daar ander mense nodig is om daardie ding te laat gebeur. Dus kan ons dit nie op ons eie reg kry nie. Wanneer jy jou paspoort, bestuurlisensie, of wat ook al moet hernu, wanneer jy jou belastingaanslag moet ingee, wanneer jy jou munisipalerekeninge moet betaal – jy alleen kan dit nie doen nie, want jy het iemand agter ‘n toonbank nodig om jou te help.

Dit kan baie frustrerend wees, baie uitputtend en baie sleg. Ons kan nie ander se manier van optrede bepaal of reguleer nie, net ons eie. Maklik sal dinge nie altyd vir ons wees nie. Die keuse hoe jy optree en reageer op die ander persoon se optrede is waar die geheim lê.

Ek neem juis hierdie aller daagse goed vandag as voorbeelde, want die spreekwoord lui mos: dit is die klein jakkalsies wat soms die wingerde verniel.

In Korintiërs kom Paulus en hy maak dit duidelik dat ons nie oral ‘n rooi tapyt sal hê wat vir ons uitgerol gaan word nie. Dat ons teenstand, vyandigheid, onvriendelikheid, moedswilligheid op die lyf sal loop.

2 Korintiërs 4:7 Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.

8 In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;

ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;

9 ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,

op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

En wat nou? Nou is die antwoord, as jy en ek sonder God in enige situasie in storm, word dit meesal ‘n gemors van onmeetbare proporsies. Die persoon is onvriendelik, vra jou dokumente wat jy nie saam gebring het nie, is bloot net onbehulpsaam of moeilik om te benader. Jy vervies jou op die plek en B A N G! ‘n Oorlog wat jy nie gaan wen nie.

Miskien is die persoon al die dinge wat jy beleef, maar dan is dit mos nog steeds waar dat: ‘n sagte woord die grimmigheid afkeer. As jy en ek met ‘n Jesus-gesindheid daar in stap, sal niks ons kan omkrap nie. Ons kalmte sal later veroorsaak dat die persoon ook anders begin optree. Maar ons wil mos nooit die minste wees nie, ons wil dit mos op ons eie manier doen.

Jesus het selfs in die tuin van Getsemane nog sy vyand se oor terug gesit ... nederig en die vrede bewaarder tot op die einde. Dit is die gesindheid waarmee ons dinge moet aanpak. Uitdagings sal daar wees, maar verslaan sal ons nooit wegstap as ons dit met Jesus aanpak nie.

Woensdag 10 Januarie 2024

Gehoorsame kinders ... dit is God se hart!


 Goeiedag Vriende,

‘n Pragtige dag hier in Windhoek, en hoe geseënd is ons om die nuwe dag te sien en in te gaan. Vir my die dag waarop ek my eerste boek vir 2024 gaan klaar skryf, en ek is dankbaar.

Vanoggend praat ons oor die hart van God. Deur die jare is daar in soveel gemeentes gepreek dat as jy net God dien, kan jy verder doen wat jy wil. As jy Sondagoggend in die kerk sit, kan jy maar na kerk gaan drink, jou vrou emosioneel aftakel, jou kinders verskreeu, jou besigheidsvennoot bedrieg.

Dit is ‘n leuen wat steeds geglo word, omdat dit mense pas. Dit pas hulle om hulle gewetens te kan sus met – ek gaan elke Sondag kerk toe, ek lees so af en toe my Bybel, of ek gee baie geld vir die kerk.

In vandag se tye word dit dan nog aangevuur met: Jy moet onthou dat die grootste gebod die van die liefde is, en God het ons almal lief, ongeag wat ons doen.

Ook ‘n leuen van die duiwel af, wat mense pas en hulle wil glo.

Kom ons begin deur na Romeine 2:7 te kyk:

Romeine 2:7 aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek — die ewige lewe;

8maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is — grimmigheid en toorn;

Dan gaan ons verder en ons kyk na Spreuke na die dinge wat duidelik aangegee word wat God haat.

*Spreuke 6:16 - “Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ‘n afsku het” (Spr.6:16). Die verandering van ses na sewe is ‘n bepaalde manier van skryf en praat met ‘n bepaalde betekenis. Hierdie uitdrukking beteken die volgende: Hierdie is nie ‘n vaste getal, asof dit die enigste dinge is wat die Here haat nie. Hier noem Hy sewe dinge wat Hy haat.

Vs 17a – Oë wat straal van hoogmoed. Hoogmoed kan mens nie wegsteek nie. Dit wys in jou oë.

Vs 17b – ‘n Tong wat lieg. Wanneer lieg ‘n mens? Sondag 43 in die Kategismus verduidelik wanneer mens lieg. Jy vertel ‘n leuen wanneer jy:

 Iemand anders se woorde verdraai.

Kwaad steek of laster.

Iemand onverhoord en ligtelik veroordeel.

Alle vorme van lieg en bedrieg nie vermy nie, maar doen.

Die waarheid nie liefhet nie, maar verander.

Nie opreg is in wat jy sê en bely nie, maar vals.

 Vs 17c – Hande wat met bloed bevlek is. Dit is ‘n sonde van dade. Die Here verbied in ‘n gebod dat ek niemand met gedagtes, woorde gebare en nog minder met die daad mag onteer, beledig, haat of doodmaak nie.

Vs 18a – Gedagtes wat met komplotte besig is. Dit is wanneer jy in jou hart met kwaad teen iemand anders besig is.

Vs 18b– Voete wat net een koers ken, die van die kwaad.

Vs 19a – ‘n getuie wat lieg. Jy vertel ‘n leuen wanneer jy getuienis oor iemand anders gee wat nie waar is nie.

Vs 19b – Iemand wat rusie stook tussen broers. Jy beïnvloed ‘n persoon teen iemand anders deur kwaad te steek, sodat daar onenigheid tussen mense kom.

* https://www.gkerkakasia.org.za/2019/01/wysheid-is-om-te-haat-wat-die-here-haat-spr-616/

Vriende gaan lees gerus die hele gedeelte, ek haal net ‘n stuk daarvan aan om te wys dat daar dinge is wat God haat.

God is liefde, ja, maar die heel eerste ding wat ons sal doen as ons God en Jesus liefhet, sal wees om gehoorsaam te wees aan sy woord. En oral in die woord is daar onderwysings oor wat verkeerd is, wat ons nie mag doen nie, wat God se hart seer maak en Hom bedroef.

Jy is self ‘n ouer, is dit vir jou aanvaarbaar as jou kind wat jy liefhet en so mooi leer oor wat reg is, gaan en jou voertuig steel, ‘n ongeluk daarmee maak en dan nog die skuld op iemand anders pak?

Sal dit vir jou aanvaarbaar wees as jou kind iemand dood maak omdat hy nie sy sin kan kry nie?

Sal dit vir jou aanvaarbaar wees as jou kind elke dag jou en jou vroue vloek en beledig?

Ek glo nie enigiemand se antwoord hierop sal ja wees nie. Net so is dit met God. Jy het nog steeds jou kind lief, maar sy of haar optrede keur jy nie goed nie, breek jou hart. Net so het God ons steeds lief as ons so droog maak, maar dit dra nie Sy goedkeuring weg nie en dit kan ons uit die hemel uit hou.

Wanneer ons in berou na Hom gaan, na Jesus gaan en ons sondes bely, dan is Hy so regverdig en vol genade om ons te vergewe. Jesus se woorde aan die prostitute wat almal wou stenig staan hier soos ‘n paal bo water:

Johannes 8:10Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”

11“Niemand nie, Here,” sê sy.

Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Hy het dadelik vergifnis gegee, maar onmiddellik daarna haar gemaan om nie weer te sondig nie. Nee, vriende, ons kan nie net leef soos ons wil nie. Ons moet toegewyd aan die Drie-Eenige-God leef, aan Hom gehoorsaam wees en in Jesus se voetspore volg, dan sal ons die ewige lewe beërwe.

Net so min soos jy jou kind kan toelaat om verkeerd te doen, net so min kan jy ongehoorsaam wees aan God en glo jy is steeds reg met Hom.

Laat ons nie ons self laat mislei deur die ‘go-with-the-flow’ aanslag van die lewe nie, maar laat ons die Woord van God lees en daarby hou.

Dinsdag 09 Januarie 2024

Sit die vullis uit ...


Môre, môre Vriende,

Een van daardie stil dae wat jy net weet hierdie is ‘n dag waar die hitte ons gaan bekruip. Dankbaar vir groot skadu bome en ‘n waaier om dit baie beter te maak. Die hitte is die voorloper vir die reën, so ons is dankbaar.

Vanoggend luister ek na die twee oordenkings en dit val my op dat hulle so verskillende en tog ook so eenders is.

Ons is aan die begin van ‘n jaar en uit ondervinding weet ons dat alles nie net gaan klopdisselboom gaan hierdie jaar nie. Dat jy en ek, al is ons kinders van God, nie net alles reg gaan doen of die regte besluite gaan maak hierdie jaar nie. Dat ons ook gaan droogmaak ...


Wat nou gemaak? Die een pastoor vergelyk hierdie dinge wat ons gaan doen wat verkeerd is, wat nie behaaglik vir ons Vader is nie, met vullis. Almal van ons weet dat as ons nie gereeld skoon maak nie, gaan alles in verval in ons huise. Hoekom weet ons dit dan nie ook vir ons geestelike lewe nie?

Soos ons die vullis elke week uitsit om opgetel te word en verwyder te word, so moet ons elke dag ook eerlik met onsself wees. Moet ons met ons Vader praat en erken dat ons verkeerd gedoen het, en Sy vergifnis vra. Hy belowe om ons te vergewe en dit te vergeet.

Job maan ons om te sorg dat ons hande skoon is as ons vry en sonder vrees wil leef.

Job 11:13 AS jý jou hart berei en jou hande uitbrei na Hom

14 — as daar ongeregtigheid in jou hand is, verwyder dit, en laat geen onreg in jou tente woon nie —
15 ja, dan sal jy jou aangesig kan ophef, vry van smet; en jy sal vasstaan sonder om te vrees.


Gee elke dag daardie dinge aan God wat jy weet jy verkeerd gedoen het. Miskien verkeerde woorde, verkeerde optrede teenoor jou familie of vriende, verkeerde besluite wat nie in God se wil vir jou is nie.
Gooi dit in die vullisdrom en laat God dit verwyder en vergeet daarvan.

Kyk net in Jesaja 55 kom maak Hy ons die belofte as ons Hom soek, en ons verkeerde weë verlaat, sal Hy ons seën met voorspoed.

Die dinge wat ons voorheen seer gemaak het soos die doringbome en distel se dorings wat ons afknou as ons naby kom, sal Hy vervang met sipres en mirtebome. Vreugde en vrede, groei en prag dit is wat Hy ons in die plek van die seer en slegte dinge belowe as ons dit net vir Hom kom gee.


Jesaja 55: 6 Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.
7Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.
8Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here.
9Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.
10Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter;
11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.
12 Want met vreugde sal julle uittrek en met vrede gelei word; die berge en heuwels sal voor julle in gejubel uitbreek, en al die bome van die veld in die hande klap.
13 Vir 'n doringboom sal 'n sipres opgaan; vir 'n distel sal 'n mirteboom opgaan; en dit sal vir die Here wees tot 'n naam, tot 'n ewige teken wat nie uitgeroei sal word nie.

Hoekom sal ons die verkeerde ding (vullis) bly ophoop totdat dit so baie is dat dit ons oorweldig, hoekom gee ons dit nie net elke dag vir ons Vader nie? Hy sal dit wegneem en ons los met ‘n skoon hart-huis en ons sipresse en mirtebome gee om ons hart-tuin mee te versier wat ons vrede en vreugde sal verskaf.

Kom ons hou ons hart-huise skoon in hierdie jaar. En geniet die sipres en mirte wat in ons tuin gedy.

Maandag 08 Januarie 2024

Doen jou werk vir Jesus ...



Goeiedag Vriende,

Hier in Windhoek het dit heerlik gereën gister, en my tuin is nag. Wat 'n wonderlike manier om 'n week te begin.
Ons is aan die begin van 'n nuwe week, die tweede van 'n mooi nuwe jaar.
Meeste mense begin sekerlik vandag werk of het al reeds begin werk. Die boere het dalk nooit opgehou werk nie. Mag dit 'n jaar wees wat jy jou werk sal hanteer soos die Woord ons leer -

Efesiërs 6:7
Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie.

Vir seker weet ek as ons dit nie uit ons eie krag doen nie, maar uit die krag van Jesus, is ons tot alles in staat.

Dieselfde geld in ons persoonlike lewes, miskien wil jy nie vir die mense om jou enigiets doen nie, want hulle waardeer dit nie of is net dood eenvoudig nie dankbaar nie.

Wel dink daaraan dat Jesus ons perfekte voorbeeld was en gesterf het ook vir die wat hom haat. Laat Jesus hierdie jaar voor jou uitloop met elke taak, elke besluit, elke handeling en jy sal lig en sout kan wees soos Hy ons beveel het.

Mag jou dag so kleurvol en vrolik wees soos die ruiker hier onder, en mag jy die geur wees waardeur Hy sy liefde versprei, ongeag die omstandighede.

Mooi loop.

Vrydag 05 Januarie 2024

Integriteit


Goeiemôre Vriende,

 
Wonderlike stil oggend in Windhoek, alhoewel baie mense al terug is van vakansie en selfs begin werk het, is dit nog rustig. Of miskien is dit net hier by my in my eie klein oerwoud tussen die bome. Wat 'n voorreg om nie in 'n kantoor hoef te sit nie.


Vanoggend lees in ek Genesis Josef se verhaal en dit gaan oor integriteit.

 
Nadat hy deur sy broers in 'n put gegooi was, daarna aan vreemdes verkoop was en in die tronk beland het, val die wonderlike eer hom te beurt om in beheer van die koning se huishouding te wees.


Soms gaan moet ons ook deur baie beproewings gaan voor ons die oorwinning smaak. Josef het vas gestaan in sy God. Dit is hoekom hy deur dit alles kon gaan en oorwinning smaak.


Uit ondervinding weet ons as kinders van God dat ons vyand niks daarvan hou as ons gelukkig is nie, as God ons die oorwinning gee nie. Die satan haat dit ... daarom sal hy altyd probeer om ons te mislei en verlei.


Presies net dit het hy met Josef gedoen.


Genesis 39:6En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het. En Josef was skoon van gestalte en mooi van aansien.
7Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my.
8Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee.
9Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?



Josef staan egter vas en bly staan vas deur hierdie versoeking, dit is wat integriteit genoem word. Hy respekteer nie net die vrou se liggaam nie, maar ook die man wat hom vertrou. Bo alles weier hy om te sondig om liggaamlike begeertes te vervul. Verder was hy sekerlik bewus daarvan dat hierdie vrou die mag het om hom in groot moeilikheid te laat beland as hy haar weier, maar hy staan vas in God.


Het jy en ek soveel integriteit? Behandel ons mense wat ons vertrou so? Of maak ons mense seer, stel ons mense teleur omdat ons optree soos ek wil of vir ons eie beswil en nie dink aan die gevolge vir ander nie.


Dit geld vir ons familie en die mense waarmee ons daagliks te doen kry.
Laat ons hierdie jaar begin en stap in die spore van Jesus en leef met integriteit. Ander se gevoelens in ag neem, ander respekteer en vas staan in God.

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...