Sondag 10 Desember 2023

Vrede te midde van ...


 Goeiemôre Vriende,


Hier het die dag begin met ‘n snaakse wind wat waai, maar ons bekommer nie te veel nie, want dit bring koelte. Verder is die ouma nie met baie gepla nie, want my kleindogter Menandi kuier van gister af by my.


Vanoggend lees ek die wonderlike belofte in Lukas 1 raak.


Lukas 1:78 …Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
79om lig te bring aan dié wat in duisternis
en in die skaduwee van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.”


Dit is na Jesus wat Sagaria, Johannes die Doper se vader hier verwys.
Dit is vandag nog waar. Hierdie Prins van Vrede is gebore, het gesterf vir ons sondes en sit aan die regterhand van ons Vader. Sy begeerte is steeds vrede vir ons.


Het jy al Sy vrede ontvang? Soek jy daarna? Kry jy dit nie? Hoe kry jy dit?


Dit is glad nie moeilik nie, al mag van ons dink dit is onmoontlik. Perfekte omstandighede is nie ‘n voorwaarde vir Jesus se vrede nie, dit moet ons heel eerste verstaan.


Ons kan Jesus se vrede geniet te midde van ons omstandighede. Hierdie vrede kry ons as ons Hom kies, as ons besluit om alles in ons lewens aan Hom oor te gee. As ons elke besluit, elke gedagte aan Hom oorgee en onvoorwaardelik op Hom vertrou.


Dit is dan dat die storms maar om ons kan woed en ons rustig in die middel daarvan kan bly. Dit net omdat ons weet die Een wat binne in ons is, is baie groter as die wêreld, as enige struikelblok, is groter as enige probleem. Hy het reeds die wêreld oorwin. Hy kan enigiets doen.


Of twyfel jy nog daaraan. Moet ek jou weer herinner dat Hy die heelal in net ses dae geskape het deur net ‘n woord te spreek? Moet jy weer herinner word dat Hy net een woord gespreek het en die een nasie wat van die grondlegging af bestaan het, het daar by die toring van Babel verskillende nasies geword, wat skielik verskillende tale gepraat het. Moet jy herinner word dat Hy elke sekonde van elke dag elke gedagte van elke mens op hierdie aarde weet, die getal van die sand op die aarde, die getal van die sterre in die hemel ken.


Wel, dink jy regtig nog dat jou probleme vir Hom te veel is om uit te sorteer? Gee dit oor, en ervaar Sy vrede te midde van die storm.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...