Maandag 25 Desember 2023

Pappa - 46 jaar is 'n leeftyd


 Pappa, 46 jaar is ‘n leeftyd … jy is al ‘n leeftyd van my weg. Hoe dankbaar is ek dat dit net jou liggaam is wat weg is en nie jou gees nie. Jou gees wat in my hart voort leef al die jare nog. Vir ander is dit ‘n leeftyd, maar vir my voel dit soos gister.

Soos gister wat ons op die stoep gesit het in die skerm, na nog ‘n snik hede dag in Vredendal. Soos gister wat ek daar na pappa se stories en kwinkslae geluister het en ons lag op die aandwindjie gedra is. Soos gister wat ons daar tot baie, baie laat sit en koffie drink het – swart koffie!

Die herinneringe van die laatste aand wat ons so saam daar gekuier het, lê vlak in my geheue en hart. Dit was ‘n Vrydagaand … daar op die stoep het ons plat op die trappies gesit. Ek voel nog die warm van die leiklip deur my kortbroek. Jou stem wat soos die murmel van ‘n rustige stroom op my ore val met beloftes om nog meer tyd met my te spandeer in die nuwe jaar. Oor hoe bekommerd jy was toe ek net dae vantevore in die hospitaal was, dat jy my sal verloor. So dan en wan het ek dan opgestaan om vir ons nog koffie te gaan maak.

Later het die trant van ons geselskap baie ligter geraak. My hart was verheug, want ek het geweet, jy is daar vir my, soos jy nog altyd was. Al is ek net jou dogter, wil jy met my tyd spandeer en het jy my ontsettend lief.

Jy het soos altyd my vermaak met stories uit jul kinderdae daar in ons ou Namakwaland, en die aand het oggend geword daar op die stoep van Tuinstraat 10 in Vredendal.

Gelukkig kan ons as mense nie vooruit sien nie, ander sou ons dalk heel anders opgetree het, sou ons geweet het dit is ons laaste aand saam hier op aarde. Dan sou daar geen lag gewees het nie, net trane ...

Ons Vader het ons hierdie aand gegee, vir my om dit vir ewig te onthou. Jou vir ewig so, soos daardie laaste aand te onthou. Te onthou hoe net jy en ek, my pappa, daar in ons eie wêreldjie opgesluit was, knus en geborge.

Al is jy al ‘n leeftyd weg ... al spaar ons Vader my vir nog twee ... hierdie aand sal ek tot aan die einde van my dae in my hart koester. Nie die trane, gemis en seer kon dit van my wegneem nie, want ek sal dit nie toelaat nie ...

Dit is my Kersgeskenk van God van daardie aand af tot aan die einde van my dae.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...