Woensdag 06 Desember 2023

Beskermer of ondier


Goeiemôre Vriende,

Hier by my gaan dit nou amper so bedrywig vanoggend soos dit elke oggend daar op die plase gaan. Vandag is die groot skoonmaak voor die kinders uit Engeland kom kuier. Gelukkig is dit nou nog koel.

Nouja, dit is skoolvakansie, en Desember-vakansie waar almal of die grootste deel van mense vakansie het. Daar word rondbeweeg, dorp toe, stad toe, stand toe, eetplekke word besoek en ander plekke waar ontspanning is.

Daar is ‘n mengelmoes van mense, tieners, jongmense, middeljarige mens en bejaardes.

Vanoggend wil ek ‘n onderwerp aanraak wat veral ons manne raak en hulle dalk vies gaan maak. Hoe lui die spreekwoord: die waarheid maak seer.

Geen man het die reg om ‘n vrou so aan te staar dat sy ongemaklik raak nie. Geen man het die reg om ‘n vrou of meisie met sy oë uit te trek nie. Geen man wat getroud is en homself ‘n Christen noem mag met wellus gedagtes na ‘n vrou of meisie kyk wat nie sy eie vrou is nie.

En nee! Daardie snert wat jou pa, jou oom, jou broer, jou vriende jou vertel dat as ‘n man ophou kyk is hy dood, dit is presies dit – SNERT!

Jy is dalk self ‘n pa met ‘n 13 jarige of tienerdogter, hoe sal jy voel as jou vriende of ander mans jou dogter so aanstaar en kwyl? Of is dit vir jou aanvaarbaar? As die antwoord hierop ja is, dat moet ons ernstig vir jou bid. Dan het jy beslis nog nie vir Jesus in jou hart nie.

Nou gaan jy jouself begin verdedig met: God het my so gemaak! Snert Meneer! God het jou nie so gemaak nie, Hy het jou ‘n verstand gegee om wys op te tree. Jy is die een wat jou denkpatrone vaslê van jonk af deur jou gedagtes met gemors besig te hou die hele dag. Dit is soos ‘n wildpaadjie. Die wild loop elke dag daarop en later lyk dit asof daar geen ander pad is nie, net daardie een. Tog is dit nie waar nie, hulle verkies net om elke dag daardie paadjie te loop.

So oefen jy jou brein om net gedagtes van wellus te dink, elke vrou en selfs kind staar jy aan met daardie gedagtes. Almal behalwe jou eie vrou …

Nou gaan baie protesteer dat vroue en meisie baie uitlokkend aantrek. Dit mag dalk so wees of nie – ‘n tiener meisie wat met ‘n kortbroek en hempie loop dink nie daaraan dat sy iemand wil uitlok nie. Sy wil net gemaklik wees. Steeds is dit nie jou plek om haar ongemaklik te laat voel nie.

Party mans gaan selfs so ver om suggestiewe aanmerkings teen oor vroue en meisies te maak. Dit is nie jou plek nie meneer. Verander jou denkpatrone om te pas by wat God van jou verwag. Dit is jou as pa, oom, oupa se verantwoordelikheid om meisiekinders te beskerm. Hulle mag dalk ouer lyk as wat hulle is, maar hulle bly kinders.

Toe gegee daar is vroue en meisies wat uitdagend is, uitlokkend is, maar hulle vind jy gewoonlik daar waar jy in elk geval nie hoort as man van God nie.

Ek het vir jou een vraag: Onthou jy dat God jou gedagtes kan sien? Hoe sal jy reageer as jou ma, of jou vrou, of jou dogter of God-self jou die oomblik wat jy daardie gedagtes het, sou vra daarna? Dink jy jou vrou en dogter kan jou respekteer as hoof van die huis as jy wellustig na ander dogters, jongvrou of vroue kyk? Hoe dink jy voel jou vrou? Dink jy sy sien dit nie raak nie?

Miskien het dit tyd geword dat jy baie goed introspeksie hou en kyk na wat in jou hart en gedagtes aangaan. Dat jy baie eerlik met jouself moet wees en erken dat hoe jy optree en dink glad nie tot eer van God is nie. As jy gewillig is en ons Vader vra vir hulp kan jy jou denkpatrone verander.

Hoekom? Jou lewe sal verander, want daar is niks beter as om as hoof van jou huis daagliks met God te wandel nie. Jou vrou sal jou respekteer, jou dogter sal jou respekteer en ander vroue sal veilig voel by jou. Sal weet jy is ‘n man met waardes wat God behaag.

In Markus is dit duidelik wat die Woord van God hieroor sê.

Markus 7: 20En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein.

21Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord,

22diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid.

23Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.

Hierdie vakansie, wees jy die man, of jongman, of seun waarby die vroulike geslag kan veilig voel omdat jy anders optree is die massas.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...