Woensdag 06 Desember 2023

Ons Lig


 Goeiedag Vriende,

Mooi sonskyn dag hier in Windhoek, maar die blaartjies roer darem so bietjie. Klink my daar by julle gaap die kraaie al weer. Die beste plek om te wees is mos die see, gelukkig is dit nie vir julle ver nie. Standfontein, Brand-se-Baai, Skaapvlei, selfs Lambertsbaai is net om die draai. Gaan geniet die koelte en rus so bietjie.

Ek wil aangaan om oor Jesus, ons Verlosser te gesels. Ek dink dit is iets waaroor ons die hele jaar kan gesels.

Ons Verlosser, ons Middelaar, ons Broer, ons Prins wat ons gaan kom haal.

Johannes 1:1-5 Die Woord het mens geword

1In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.

2Hy was reeds in die begin by God.

3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 

4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.

5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.


Ons almal voel soms of ons in die duisternis rond ploeter, of ons net nie die pad sien nie. Dit is alles onnodig, want ons het reeds die ewige Lig. Ons moet net die keuse maak om in die Lig te bly.

Die belofte in Johannes 1:5 is so wonderlik: Die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

Wat beteken dit vir ons vandag?

Dieselfde Lig, wat Jesus is, skyn steeds in hierdie donker, duister, deurmekaar wêreld. Ons moet net kies om in die Lig te wandel. Om nie na die leuens van die wêreld en die vyand te luister nie. Om elke duister situasie aan Jesus te gee en daar te los.

Ek het ‘n vriendinnetjie wat in Duitsland woon. Sy is baie jonger as ek en het onlangs deur baie moeilike en seer situasies gestoei. Baie vrae gehad, werklik net gesukkel. Sy is ‘n Christen kind, maar steeds het sy gesukkel.

Van hier uit Namibië het ek bly raad gee en net bly vra: Gee dit oor in Jesus se hande. Los dit net daar. Jy sal sien Hy sal dit uitsorteer op ‘n manier wat jou asem weg sal slaan.

Gisteraand stuur sy vir my ‘n boodskap: Ek weet nie hoe om vir jou dankie te sê nie. Vandag ek doelbewus dinge aan ons Vader oorgegee het en dit daar gelos het. Hom vertrou het daarmee, het alles net so baie verander. Alles val net in plek. Hy seën my so, ek kan dit nie glo nie.

Wel, ek kan dit glo, want niks is vir ons Drie-Enige-God onmoontlik nie. Hierdie wonderlike ervaring om te sien en te weet dat God die beste vir jou wil hê. Dat Jesus daagliks vir jou intree, dat Hy jou Lig wil wees, jou pad wil gelyk maak, is ook vir jou beskikbaar.

Gister kry ek die wonderlike nuus dat ek my Uitgewer se top verkoper is vir 2023. Dit is net God se guns op my woorde en my boeke. My Neef wens my geluk en gooi die woorde in ‘een van die dae sien ons jou boeke in rolprent vorm’. My antwoord: Niks is vir God onmoontlik nie.

Die oplossings is vir ons beskikbaar. Reeds betaal voor met Jesus se wonderlike, reddende liefde deur sy bloed wat hy gestort het. Hoekom bly jy teen die prikkels skop? Hoekom bly jy glo dat jy beter op jou eie kan vaar? Hoekom gee jy nie alles oor aan Hom en wandel saam met Hom in sy wonderbare lig wat die duisternis nie kan uitdoof nie?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...