Dagsê Namakwalaners,
Hier in Windhoek nog ‘n koeler dag, met wolke en tog skyn die sonnetjie so nou en dan. Ons kla nie, ons wag vir nog genadewater. Hoop daar by julle is die ergste hitte darem al verby. Laat vir ons weet.
Vanoggend wil ek Paulus se gebed vir die gelowiges in Efesiërs met julle kom deel. Dit is vandag nog vir ons geldig, want ons Drie-Enige-God het nog niks verander nie.
Ongeag wat jou en my omstandighede vanoggend of selfs in hierdie Desember is of gaan wees, Hy bly dieselfde. Sy liefde vir ons bly die selfde.
Efesiërs 3: 16Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word,
17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.
19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,
21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.
Hierdie drie verse staan vir my uit. Dit is so telkens vir my duidelik dat ek en ek is seker dalk baie meer as net ek nie begryp hoe groot God se liefde vir my is nie.
Dit neem my terug na Jesus, ons Verlosser, God self – tog het Hy in gehoorsaamheid aan die Vader vlees geword, soos ‘n mens op aarde kom loop. Het hy die teleurstellings ervaar wat ons daagliks ervaar, het Hy verwerping ervaar soos ons ervaar, vervolging, marteling, tot die dood aan die kruis. Vir wie? Vir ons!
Dit is ‘n liefde wat te groot is vir ons menslike verstand met ons selfgesentreerdheid. Ons eie ek. Gaan sit vanoggend net vir ‘n minuut en dink – vandag kom iemand by jou en stel jou die voorwaarde – ek sal jou kind, jou vrou, jou man, jou ma, jou pa laat leef, indien jy bereid is om gemartel te word, en aan ‘n kruis vasgespyker te word om te sterf.
Voor jy net vinnig ja antwoord, dink bietjie aan die implikasies daarvan vir jou liggaam, gaan lees bietjie na oor hoe erg dit op die liggaam is om aan ‘n kruis gespyker te word en daar dood te bloei en die verskriklike pyn wat daarmee gepaard gaan.
Wel, dit het Jesus vir ons gedoen … was dit vir Hom maklik? Nee, of het jy al bloed gesweet van angs en gedink dit is maklik?
In hierdie tyd waar ons Jesus se geboorte vier, ongeag wanneer Hy werklik in die jaar gebore is – Hy is gebore ander sou Hy nie aan die kruis kon sterf vir ons nie – kom ons vat ‘n tydjie, net so by ons self en dink aan Sy alles omvattende liefde vir ons.
Nog meer, kom ons eer en loof en prys en dank Hom daagliks daarvoor. Moet Hom nie by die huis los as jy in jou voertuig klim om met vakansie te gaan nie, nee, Hy moet eerste wees om ingelaat en saam geneem te word.
Kom ons leef tweedens Sy liefde vir ons aan ons medemense uit. Net so tussen ons – geskenke is nie gelyk aan liefde nie – liefde is omgee, tyd, medelye, ‘n woord van bemoediging, om vir ‘n tydjie langs iemand se siekbed te sit, om met daardie tannie te gaan gesels wie al maande geen besoekers ontvang nie. Daar is nog baie meer.
Jesus se liefde en genade is wat ons van Januarie tot nou toe gedra het. Jesus se liefde is wat ons van die hel en ewige verderf gered het – wat doen ons om te wys ons het Hom lief en is dankbaar?
Soos hierdie blom hier bo bloei Sy hart as ons nie Sy liefde wil aanvaar en uitleef nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking