Pappa, 46 jaar is ‘n leeftyd … jy is al ‘n leeftyd van my weg. Hoe dankbaar is ek dat dit net jou liggaam is wat weg is en nie jou gees nie. Jou gees wat in my hart voort leef al die jare nog. Vir ander is dit ‘n leeftyd, maar vir my voel dit soos gister.
Soos gister wat
ons op die stoep gesit het in die skerm, na nog ‘n snik hede dag in Vredendal.
Soos gister wat ek daar na pappa se stories en kwinkslae geluister het en ons
lag op die aandwindjie gedra is. Soos gister wat ons daar tot baie, baie laat
sit en koffie drink het – swart koffie!
Die herinneringe
van die laatste aand wat ons so saam daar gekuier het, lê vlak in my geheue en
hart. Dit was ‘n Vrydagaand … daar op die stoep het ons plat op die trappies
gesit. Ek voel nog die warm van die leiklip deur my kortbroek. Jou stem wat soos
die murmel van ‘n rustige stroom op my ore val met beloftes om nog meer tyd met
my te spandeer in die nuwe jaar. Oor hoe bekommerd jy was toe ek net dae vantevore
in die hospitaal was, dat jy my sal verloor. So dan en wan het ek dan opgestaan
om vir ons nog koffie te gaan maak.
Later het die
trant van ons geselskap baie ligter geraak. My hart was verheug, want ek het
geweet, jy is daar vir my, soos jy nog altyd was. Al is ek net jou dogter, wil
jy met my tyd spandeer en het jy my ontsettend lief.
Jy het soos altyd
my vermaak met stories uit jul kinderdae daar in ons ou Namakwaland, en die
aand het oggend geword daar op die stoep van Tuinstraat 10 in Vredendal.
Gelukkig kan ons
as mense nie vooruit sien nie, ander sou ons dalk heel anders opgetree het, sou
ons geweet het dit is ons laaste aand saam hier op aarde. Dan sou daar geen lag
gewees het nie, net trane ...
Ons Vader het ons
hierdie aand gegee, vir my om dit vir ewig te onthou. Jou vir ewig so, soos
daardie laaste aand te onthou. Te onthou hoe net jy en ek, my pappa, daar in
ons eie wêreldjie opgesluit was, knus en geborge.
Al is jy al ‘n
leeftyd weg ... al spaar ons Vader my vir nog twee ... hierdie aand sal ek tot
aan die einde van my dae in my hart koester. Nie die trane, gemis en seer kon
dit van my wegneem nie, want ek sal dit nie toelaat nie ...
Dit is my
Kersgeskenk van God van daardie aand af tot aan die einde van my dae.