Woensdag 10 April 2024

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende,

Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie gemis. Ek het behoorlik soos ‘n vis op droë grond gevoel omdat ek nie kon skryf en met julle gesels nie. Tog weet ons almal dat tegnologie feilbaar is ... dat daar net een konstante in ons lewens is ... en dit is ons Skepper. Die Herfs, of soos dit vir my voel, Winter het hier aangesluip gekom oor die naweek. Die oggende, aande en nagte is sommer lekker koel. Ek hoop dat niemand van julle geraak is deur die woede van die Kaap van storms nie.

Vanoggend was dit weer vir my opvallend dat twee pastore en my Bybelstudiegids se boodskap oor die selfde onderwerp handel, een wat ons almal aan skuldig is en van kan leer.

Die tong:

Spreuke 18:20Deur die regte woorde te gebruik, kan 'n mens sy honger stil, hy kan genoeg kry om te eet deur wat hy sê.
21Die tong het mag oor dood en lewe;
dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.
Die tong is die een lid van ons liggame wat ek glo ons die meeste in die moeilikheid gebring het in ons lewens al. Ek onthou baie duidelik hoe die oumens toe ek nog ‘n kind was gemaan het: Dink voor jy praat, want as jy klaar gepraat het kan jy dit nooit terug trek nie.
Wat beteken hierdie vers? Hierdie vers beteken dat as ons slegte dinge van ander sê ons dit oor ons eie lewens spreek en dit terug sal kom na ons. So dit is soos die spreukwoord wat lui: Grawe ‘n gat vir iemand anders en jyself sal daarin val.

Dus moet ons baie, baie versigtig wees wat ons sê, oor ons self, oor ons kinders, oor ons man, oor ons vriende en oor ander. Ons spreek dood oor ons self.

Kom ons neem ‘n eenvoudige voorbeeld: As iemand ‘n bejaarde persoon groet en vra, hoe gaan dit dan oom of tannie? Die persoon antwoord – dit gaan maar soos dit met ‘n arme pensioenaris kan gaan, sukkel-sukkel.

Net daar het die persoon hom of haar self ontneem van God se voorsiening. Dit misken en armoede en gebrek oor hulself gespreek. Dit is hoe gevaarlik dit is. Ek is seker as jy gaan sit en daaroor nadink sal jy besef hoeveel keer jy al dood oor jou eie en ander se lewens gespreek het, sonder dat jy dit besef het.

Dan kom Paulus in Efesiërs en maan ons verder, dit gaan nie net oor wat ons van ander oorvertel of oor hulle spreek nie. Dit gaan ook oor ons harte en optrede en wat daaruit kom.

Efesiërs 4: 31Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

Die lewe het ons geslyp, ons is dalk al deur mense verraai, deur mense seer gemaak, deur mense verwoes. Steeds maan Paulus ons om nie verbitterd te wees nie. Hierdie is ‘n baie, baie moeilike een en ek weet baie goed. Soms sal jy in ‘n gesprek sit en die mense begin praat juis oor die dinge wat met jou gebeur het, sonder dat hulle eers weet. Dadelik is jy op jou agtervoete en spuug jy vuur, die bitterheid loop eenvoudig net oor. Dit omdat jy weet hoe seer jy gekry het, en nie wil hê iemand anders moet ook so seer kry nie. Maar in hierdie oorkook, doen jy meer skade aan jouself en almal om jou.

Wanneer ek dit in perspektief sien, staan ek beskaamd. Want geen mens op aarde het of kon my meer skade aandoen as wat aan Jesus gedoen is nie. Tog was en is Hy nie verbitterd nie, maar het selfs in liefde die man wie Petrus die oor van afgekap het terug gesit.

Wat dan gemaak met ons bitterheid en teleurstelling? Hoe keer ons dan dat dit weer uitborrel deur die tong?

Ons kan nie uit ons eie krag hierdie stryd wen nie, veral nie as jy ‘n geaardheid soos ek het wat graag dinge reguit en eerlik uiter nie. Ons moet elke dag die Heilige Gees vra om ons te lei, om ons gedagtes gevange te neem en ons stil te maak voor ons dood oor onsself en ander spreek deur ons uitbarsting.

Vloek en skel – van hoe baie mense se lewens is dit die norm. Ons bedroef God se hart as ons dit doen. 

Daar is duidelik geskryf in die Woord:

JAKOBUS 3:9-12
Ons prys die Here en Vader met die tong, maar met dieselfde tong vloek ons mense, en God het daardie mense gemaak om te regeer in sy plek. Ons prys die Here en ons vervloek mense met dieselfde mond. My vriende, dit moenie so wees nie. Julle weet dat daar nie uit dieselfde fontein soet water én bitter water kom nie. My vriende, 'n vyeboom kan nie olywe dra nie en 'n wingerdstok kan ook nie vye dra nie, dit is seker. Dit is dieselfde: Daar kan nie soet water kom uit 'n fontein wanneer sy water sout is nie.

‘n Ander vertaling stel dit so:
JAKOBUS 3:10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.

Ons wat van ‘n boerdery agtergrond kom behoort dit baie goed te verstaan – want ‘n koei sal tog nie ‘n skaaplam baar nie, ‘n druiweboom ook nie vye dra nie.

Dan kom ons by ons gesindheid en wanneer om stil te bly en wanneer om met vrymoedigheid te praat. Wat is jou gesindheid as jy ‘n Bybelteks aanhaal? Doen jy dit omdat jy wil wys hoe goed jy jou Bybel ken, of doen jy dit omdat die Gees jou lei om vir die persoon opbouende woord te gee?

Hier het ons die voorbeeld van Elia wat aan die wat die Baal gode aangeroep het spottenderwyse gesê het:

1 Konings 18: 27En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos 'n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word.

Hy het dit nie uit sy eie krag gedoen of omdat hy verwaand was nie, maar omdat die Gees hom gelei het. Daarna het hy stil gebly en weg gegaan soos die Gees hom beveel het.

Ja, ons kan en mag ons tong gebruik om God se koninkryk te bou, maar nie uit ons eie krag en eie verstaan en eie waan uit nie. Nie omdat ons wil wys hoe goed ons is nie, maar onder die leiding van die Gees alleen.

Die tong is ‘n baie, baie gevaarlike wapen – soos ‘n swaard:

Psalm 64: Bewaar my van die komplotte van kwaadwilliges,
van die kwaadstokery van mense wat onreg doen,
4wat met skerp tonge vir swaarde
en giftige woorde vir pyle
5uit hinderlae lostrek op 'n onskuldige mens
.
Uit die bloute trek hulle selfversekerd op hom los.

Soos Dawid moet ons elke dag bid dat ons Vader ons sal beskerm – om ons eie tong reg te gebruik en onder leiding van die Gees en dat God ons sal beskerm teen die vloeke wat ander wetend en onwetend oor ons spreek.

Nog ‘n waarheid wat ek as kind geleer het van die ouer mense: Tel jou woorde baie mooi ...
Kom ons tel ons woorde, dink voor ons praat, hou op om vloeke oor ons eie lewens te spreek en ook oor ander. Kom ons bedroef nie die Heilige Gees, ons Vader en Jesus verder met ons woord en ons tong nie. Laat dit wat uit ons mond kom aanneemlik wees vir ons Vader en verteenwoordigend van 'n mooi hart.

Vrydag 29 Maart 2024

Liefde in aksie

Goeiedag Vriende,

‘n Pragtige dag hier in Windhoek, en beloftes van genade water later. Dankbaarheid in my hart vir dit wat Jesus miljoene jare gelede vir my gedoen het, maak my opgewonde vir elke dag.

Hierdie dag kan ons nie herdenk as ons nie Johannes 3 in gedagte hou nie.

Johannes 3:16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Verder wil ek graag Risa Cronje se in diepte bybelstudie met julle op hierdie Paasfees deel.

GOD WYS SY LIEFDE IN JESUS.

Johannes 3:16: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

DINK NA: In dié vers lees ons wat God gedoen het omdat Hy die wêreld liefgehad het. Wat beteken hierdie wonderlike daad vir jou?

JESUS BRING VERLOSSING.

Handelinge 4:12: “Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.”

DINK NA: Dié vers sê dat Jesus alleen vir ons verlossing bring. Hoekom kan niemand anders, nie eers onsself, dit doen nie?

JESUS BRING VERGIFNIS VAN SONDE.

Efesiërs 1:7-8: “In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredings uit die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het, saam met alle wysheid en insig.”

DINK NA: Lees Jesaja 53:1-12, Handelinge 13:38-39 en 2 Korinthiërs 5:21. Wat leer jy uit hierdie gedeeltes oor die vergifnis van sonde?

JESUS HET JOU LOSGEKOOP EN GEREINIG.

Titus 2:14: “Hy wat Homself ter wille van ons gegee het, om ons los te koop van alle wetteloosheid, en vir Hom ‘n eie volk as eiendom te reinig, wat ywerig is om goed te doen.”

DINK NA: Ons is losgekoop en gereinig, en God wil hê dat ons ywerig moet wees om goed te doen. Lees Efesiërs 2:10. Wat leer jy uit hierdie vers oor goeie werke?

JESUS VERSOEN JOU MET GOD.

2 Korinthiërs 5:19: “Dit [die bediening van versoening] bestaan daarin dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou.”

DINK NA: Wat beteken versoening met God vir jou?

JESUS BRING VREDE MET GOD.

Romeine 5:1-2: “Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God.”

DINK NA: Deur Jesus het jy nou vrede met God. Jy kan dus altyd met vrymoedigheid na Hom toe kom. Doen jy dit, of dink jy dat Hy nog kwaad is vir jou?

JESUS GEE LEWE.

1 Johannes 5:11-12: “En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”

DINK NA: Omdat jy in Jesus glo, het jy die lewe. Wat beteken hierdie waarheid vandag vir jou?

JESUS HET DIE DUIWEL SE DADE VERNIETIG.

1 Johannes 3:7-8: “Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie doen wat reg is, is regverdig, soos Hy regverdig is. Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig.”

DINK NA: Wat, dink jy, beteken dit dat Jesus gekom het om die duiwel se dade te vernietig?

JESUS VERVUL DIE WET EN PROFETE.

Mattheus 5:17-18: “Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul. Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is.”

DINK NA: Wat beteken dit dat Jesus gekom het om die Wet en die Profete te vervul?

JESUS VERBIND GEBROKE HARTE.

Jesaja 61:1: “Die Gees van my Heer, die Here is op my, omdat die Here my gesalf het. Hy het my gestuur om ‘n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind, om dié wat weggevoer is se vrylating aan te kondig en bevryding vir dié wat geboei is…”

DINK NA: Jesus weet wanneer jy om een of ander rede ‘n gebroke hart het en Hy wil jou weer heelmaak. Dink vandag bietjie na oor hierdie waarheid. Wat beteken dit vir jou?

JESUS STIL JOU GEESTELIKE DORS.

Johannes 4:13-14: “Jesus het haar geantwoord: ‘Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.”

DINK NA: Lees Johannes 4:7-17. In dié gedeelte noem Jesus ‘n hele paar dinge oor die water wat Hy vir ons gee. Maak ‘n lys in jou joernaal van die dinge wat Hy opnoem, wat die water doen en is.

JESUS BRING GENESING.

Jesaja 53:3-5: “Hy is verag, deur mense verlaat, ‘n mens van smarte, bekend met siekte, soos iemand vir wie ‘n mens jou gesig verberg. Hy is verag, en ons het hom nie geag nie. Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder. Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing.”

DINK NA: Wat leer jy uit dié gedeelte oor Jesus en siekte? Lees ook Mattheus 8:1-3. Wat leer hierdie gedeelte jou oor Jesus?

JESUS BRING OORWINNING.

1 Korinthiërs 15:56-57: “Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde lê in die wet. Maar aan God die dank, wat aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.”

DINK NA: Dink aan ‘n paar dinge waaroor Jesus vir ons oorwinning gegee het. Skryf dit sommer in jou joernaal neer.

JESUS HELP JOU VRUG DRA.

Johannes 15:5: “Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.”

DINK NA: Jesus sê as ons in Hom bly, sal ons baie vrug dra. Wat beteken dit om vrug te dra?

JESUS HET VIR JOU PLEK GAAN VOORBEREI.

Johannes 14:2-3: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

DINK NA: Gee jou verbeelding so ‘n bietjie vrye teuels. Hoe dink jy gaan dit wees om eendag saam met God die Vader en Jesus in die hemel te wees?

My gebed is dat hierdie Paasseisoen vir jou tot groot seën gaan wees en dat jy Jesus sommer nóg liewer gaan kry en dat jy wat Hy vir jou aan die kruis gedoen het, nog meer gaan waardeer.

 

 

Donderdag 28 Maart 2024

Liefdesoffer

Goeiedag Vriende,

In Windhoek is dit koel, maar die sonskyn tog na die reën wat ons gister gehad het. Ek sien Mariental is daar dele wat oorstroom is. Hierdie weet het ons begin met damme wat baie laag was, en kyk net hoe het ons Vader voorsien.

Hier op die Donderdag voor Paasfees, het ek ‘n vraag aan jou. Hoe gaan jy jou Paasnaweek deurbring?

Is jy reeds met vakansie iewers terwyl dit skoolvakansie is vir jou kinders?

Gaan jy die naweek saam met vriende kamp en jouself geniet?

Gaan jy tuis bly, in die tuin werk, of dinge in en om jou huis herstel?

As jy in Windhoek of Namibië bly, gaan jy Swakopmund toe vir ‘n lui lekker naweek?

Wat ook al jou antwoord is op bogenoemde vrae, is my volgende vraag die belangrikste – onthou jy wat ons hierdie naweek herdenk. 

Weet jy dat hierdie naweek die mees belangrike naweke in mense heugenis is?

Weet jy wat Jesus Christus duisende jare gelede vir jou en my op hierdie naweek gedoen en opgeoffer het?

Of is dit vir jou net nog ‘n naweek waarop jy nie hoef te werk nie en dit saam met jou vriende kan geniet?

Daar is niks fout daarmee om te gaan rus, weg te breek nie, die belangrike ding is dat ons heel eerste vir Jesus sal saam neem. Maak nie saak waarheen jy gaan en wat jy gaan doen nie, Hy moet altyd die ere plek en eerste plek opneem.

Vir my is dit moeilik om te dink en my verstand daarom te draai, hoeveel lyding en pyn en smart Christus vir my moes deurmaak. Dat Hy nog steeds elke dag vir my instaan by ons Vader, omdat Hy my so lief het, omdat Hy weier dat my siel verlore moet gaan.

Hoe kry ons dit dan reg om so maklik te vergeet van Paasfees en Jesus se offer? Kan ons so ondankbaar en so onverskillig wees?

Vriende Jesus is altyd daar en wagtende vir ons om Hom te erken, om dit wat Hy vir ons gedoen het te eer en dankbaar te wees daaroor, om dit te deurleef so goed ons kan saam met Hom dat die wonder van die lewe wat Hy vir ons gekoop het met sy bloed, deel van ons lewens kan word.

Waar jy ook al gaan, en wat jy ook al dien hierdie Paasnaweek, word op Goeie Vrydag net vir ‘n halfuur stil en dink aan hoe Jesus op pad is na die kruis, hoe Hy wat self God is bloed gesweet het en gepleit het as dit moontlik is dat die beker by Hom moet verby gaan, maar steeds gevra het vir ons Vader se wil. In gehoorsaamheid daarin berus het en die kruisweg gewandel het, ALLEEN. Dink aan hoe hy gegesel is, bespot is, verneder is, vir ons. Dink aan hoe Hy daar aan die kruis dood gebloei het en steeds vir die moordenaar vergifnis gehad het, soos Hy keer op keer vir ons het. En selfs daar vir Vader God gevra het om ons te vergewe ... omdat ons nie weet waarmee ons besig is nie!

Hoe hard moet ons harte wees as hierdie ons nie raak nie, as hierdie ons nie van binne uitmekaar wil skeur nie? Laat jou trane van dankbaarheid vloei as jy hieraan dink.

Dan op Paas Maandag, vier die oorwinning wat Jesus Christus se bloed vir jou gekoop het, die ewige lewe saam met Hom. Prys Hom, loof en eer Hom. Laat jou dankbaarheid en lofliedere na Hom opgaan soos ‘n soete geur.

Laat hierdie Paasfees nie net nog ‘n naweek vir jou wees nie, maar laat dit jou aanraak en jou lewe verander om in dankbaarheid te leef vir die liefdesoffer wat Jesus vir ons gebring het.

 

Vrydag 22 Maart 2024

Jesus se Naam




Dagsê Vriende, 


Steeds lekker koel by ons, maar die son het sy gesig gewys. Hier in die middel van wat vir baie ‘n langnaweek is, wil ek kom gesels oor die Naam bo alle Name, die Naam van Jesus en wat dit vir ons beteken.


Eerste wil ek julle herinner aan hoe ons Sy kinders geword het of kan word as jy nog nie is nie.
As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.
Romeine 10:9


Johannes 1:12 “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;” As u vir Jesus aangeneem het as u persoonlike salig maker, dan is u ‘n kind van God. God is die Koning van alles, dus is u ‘n kind van ‘n Koning! Het u geweet dat u deur daardie mag ‘n prins/prinses is?


Mattheus 28:18 “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”


Dan ‘n belofte wat ons saam met ons kan neem.


Johannes 14:14 “As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Jesus het al die mag op Hemel en Aarde. As kind van God het u toegang tot hierdie mag.

Verder wil ek vandag wil met Risa Cronje se kalwers ploeg, hier is ‘n pragtige uiteensetting van wat ons Verlosser, Jesus se Naam vir ons as sy kinders beteken.

ALFA EN OMEGA
Openbaring 22:13: Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.

BROOD VAN DIE LEWE.
Johannes 6:35: Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie.”

DIE DEUR.
Johannes 10:9: Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.

DIE EGTE DRUIWESTOK.
Johannes 15:1: Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer.

DIE GOEIE HERDER.
Johannes 10:11: Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

DIE WOORD.
Johannes 1:1: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

EK IS.
Johannes 8:58: Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle, Ek Is al van voordat Abraham gebore is.”

EWIGE VADER.
Jesaja 9:5: Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.

GETROU EN WAAR.
Openbaring 19:11: Toe het ek gesien dat die hemel geopen is. En kyk, daar was ‘n wit perd! Hy wat daarop sit, word getrou en waar genoem, en met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog.

GROOT HOëPRIESTER.
Hebreërs 4:14: Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons styf vashou aan ons belydenis.

HOEKSTEEN.
Psalm 118:22: Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword.

HOOF OOR ALLES.
Efesiërs 1:22-23: Hy het alles onder sy voete gestel, en Hom aan die kerk gegee, as Hoof oor alles, die kerk wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vul.

IMMANUEL.
Jesaja 7:14: Daarom sal my Heer self vir julle ‘n teken gee: Kyk, die jong vrou is swanger, en gaan ‘n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel noem.

KONING VAN DIE KONINGS.
Openbaring 17:14: Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam sal hulle oorwin, omdat Hy die Heerser van die heersers en die Koning van die konings is, en saam met Hom is die geroepenes, uitverkorenes en getroues.

LAM VAN GOD.
Johannes 1:29: Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

LEEU UIT DIE STAM VAN JUDA.
Openbaring 5:5: Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak.”

LEIDSMAN EN VOLEINDER VAN DIE GELOOF.
Hebreërs 12:2: …die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het.

LIG VIR DIE WêRELD.
Johannes 8:12: Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.”

LOSSER.
Job 19:25: Maar ek, ek weet: My Losser leef! Uiteindelik sal Hy op aarde opstaan.

MAGTIGE GOD.
Jesaja 9:5: Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.

MIDDELAAR.
1 Timotheus 2:5-6: Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus, wat Homself as losprys vir almal gegee het, tot getuienis op die bestemde tyd.

ONS HOOP.
1 Timotheus 1:1: Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus, in opdrag van God, ons Verlosser, en van Christus Jesus, ons hoop…

ONS VREDE.
Efesiërs 2:14: Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het.

OORWINNAAR.
Openbaring 3:21: Wie oorwin, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos wat Ek ook oorwin het, en saam met my Vader op sy troon sit.

OPSTANDING EN DIE LEWE.
Johannes 11:25: Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf…”

PARAKLEET OF VOORSPRAAK.
1 Johannes 2:1: My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, sodat julle nie moet sondig nie; en wanneer iemand sondig, het ons Jesus Christus, die Regverdige, as Parakleet by die Vader.

ROTS.
1 Korinthiërs 10:4: …en almal het dieselfde geestelike drank gedrink. Want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat hulle gevolg het – en die rots was Christus.

VERLOSSER.
Lukas 2:11: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here.


VERSOENING VIR ONS SONDES.
1 Johannes 4:10: Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes.

VREDEVORS.
Jesaja 9:5: Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.

WAARHEID.
Johannes 8:32: …en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.

WONDERBARE RAADGEWER.
Jesaja 9:5: Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.

Het jy nog iemand in jou lewe wat jy dink hierdie rolle en skoene sal kan volstaan? Ek het nie.

Is daar nog iets wat jou hierdie versekering in jou lewe kan gee? Ek weet nie van iets nie?

Besef dan vandag hoe groot ons Jesus se Naam is en wat dit vir ons doen. As jy gaan gaan in Sy naam. As jy iemand groet seën hulle met Sy naam, want dan sal Hy daar wees en sal die Gees jou in waarheid en vrede lei. As jy groet, groet en laat mense met Sy seën agter.

Ons is niks uit ons self nie, maar die werktuie waardeur Jesus werk. Nie jou naam nie, nie jou trots nie, nie jou toedoen nie!


Net deur Jesus en sy Naam.

Donderdag 21 Maart 2024

Onafhanklikheid?

 

Goeiemôre Vriende,

Hier in Windhoek het ons opgestaan in ‘n baie koel, reënerige Donderdag. Vandag is Onafhanklikheidsdag by ons en dus ‘n vakansiedag.

Ek wil juis vanoggend daaroor gesels – in die wêreld is onafhanklikheid ‘n groot ding. Kinders wil onafhanklik wees van hul ouers. Vroue wil onafhanklik wees van hulle mans. In besigheid en mens se privaat lewe wil hulle onafhanklik wees, op hulle eie kan funksioneer en niks van niemand vra nie.

In God se Woord en sy wil vir ons lyk egter heeltemal anders. Hy vra dat ons algeheel afhanklik van Hom sal wees. Dat ons algeheel sal oorgee aan Hom in alles. Alles in Sy hand sal los en sal vertrou dat Hy dit vir ons tot ons beswil sal laat geskied.

Hy vra dat ons nie ons eie planne sal maak nie. Nie op ons eie krag en insig sal staat maak nie.
Hier is ‘n hele klomp verse uit die Woord wat aan ons vertel dat ons op ons Vader moet staatmaak vir alles en van Hom afhanklik moet wees.

Psalm 62: 6Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!
7Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie.
8By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God.
9Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is 'n toevlug vir ons. Sela.
10 Ja, nietigheid is die mensekinders, leuens is die aansienlikes; in die weegskaal moet hulle opgaan, almal saam is hulle minder as nietigheid.
11Vertrou nie op verdrukking en bou geen ydele hoop op rowery nie; as die vermoë aangroei, sit daar die hart nie op nie!
12 Een ding het God gespreek, twee is dit wat ek gehoor het: dat die sterkte aan God behoort,
13en aan U, o Here, behoort die goedertierenheid; want U vergeld elkeen na sy werk.

Want Ek, die Here jou God,
gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê:
Wees nie bevrees nie, Ek help jou.
Jesaja 41:13

Vertrou op die Here met jou hele hart
en steun nie op jou eie insig nie.
Ken Hom in al jou weë,
dan sal Hý jou paaie gelykmaak.
Spreuke 3:5-6

Die hart van die mens dink sy weg uit,
maar die Here rig sy voetstappe.
Spreuke 16:9

Al beswyk my vlees en my hart —
God is die rots van my hart
en my deel tot in ewigheid.
Psalm 73:26

Ek slaan my oë op na die berge:
waar sal my hulp vandaan kom?
My hulp is van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
Psalm 121:1-2

Baie planne is in 'n man se hart,
maar die raad van die Here, dié sal bestaan.
Spreuke 19:21

Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
Johannes 15:5

Hy gee die vermoeide krag
en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.
Jesaja 40:29

Hy kan jou voet nie laat wankel nie;
jou Bewaarder kan nie sluimer nie.
Psalm 121:3

Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.
Matteus 6:34

Die Here is my herder;
niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê in groen weivelde;
na waters waar rus is, lei Hy my heen.
Psalm 23:1-2

Ek stel die Here altyddeur voor my;
omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.
Psalm 16:8

Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.
Eksodus 14:14

As die Here die huis nie bou nie,
tevergeefs werk die wat daaraan bou;
as die Here die stad nie bewaar nie,
tevergeefs waak die wagter.
Psalm 127:1

Die seën van die Here — dit maak ryk,
en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.
Spreuke 10:22

As ek dink: My voet wankel —
dan ondersteun u goedertierenheid my, o Here!
Psalm 94:18

Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.
1 Kronieke 29:14

Uit die benoudheid het ek die Here aangeroep;
die Here het my verhoor in die ruimte.
Psalm 118:5

Bewaar my, o God,
want by U skuil ek.
Psalm 16:1

Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie,
en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie,
maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig,
omdat U 'n welbehae in hulle gehad het.
Psalm 44:4

O Here, God van die leërskare, herstel ons;
laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!
Psalm 80:20

As ek so deur die verse lees, lyk dit nie vir my of ons Vader vreeslik waarde heg aan onafhanklikheid nie. Hier in Afrika is dit ‘n groot gebeurtenis, dit word elke jaar gevier met baie duisende der duisende rande wat spandeer word. Maar na die vieringe gaan dieselfde mense wat dit gevier het honger, hulle het steeds nie skole waar hul kinders opvoeding kan ontvang nie, hulle het steeds nie ‘n werk wat hulle ‘n inkomste bring nie en so kan ek aangaan.

Wat beteken dit dan dat hulle onafhanklik is of hulle land onafhanklik is. Hoe onafhanklik is ‘n land as dit steeds van ander lande voedsel, eletronieseware, motors, boumateriaal en nog ‘n elle lange lys ander dinge moet invoer?

Onafhanklikheid in die wêreld lyk vir my dus maar na ‘n groot klug. Net so is dit ook ‘n versinsel in mense se lewens, ‘n manier om die eie ek te verhef. Want jy kan op jou eie voete staan.

Nee, jy kan nie! Want die suurstof wat jy inasem kom van God af, Hy laat jou asemhaal en wakkerword elke oggend. As Hy vandag sy genade en liefde en hand van ons onttrek, vergaan die wêreld in dadelik.
Bedink bietjie hierdie onafhanklikheid van jou en wat dit jou in die sak bring. Wees baie eerlik met jouself, kan jy werklik sonder God klaar kom? Kan jy werklik sonder jou man, vrou, kind, pa, ma of vriend se liefde en ondersteuning klaar kom?

Kom ons hou op om die wêreld se leuens te glo – dat lande onafhanklik is, dat mense onafhanklik is, dat instansies onafhanklik is – hulle is nie, want dan moes hulle niks van iets of iemand anders nodig gehad het nie.

Kies vandag om afhanklik te wees van God en geniet die ondersteuning van die mense wat Hy op jou pad plaas om Sy hande en voete te wees.

Woensdag 20 Maart 2024

Eensgesindheid

Goeiedag Vriende, 

Hier roer die windjie die blare en ons is dankbaar, ander mag die sweet ons dalk aftap. In Namibië is die môre ons Onafhanklikheidsdag en die meeste besighede en mense gaan gesluit wees op Vrydag ook. Mense neem ‘n lekker langnaweek. Ek word gelukkig nie meer geraak deur vakansiedae nie, want ek is mos permanent met vakansie! Verder is ek opgewonde, want my kleindogter kom vandag. Die skole het ‘mid term break’ hier in ons land. Vir die volgende twee weke gaan ek dus dalk stiller wees, maar ek sal steeds probeer om elke dag ‘n gedagte te deel.

Die Woord is mos ons voedsel, so daarsonder kan ons tog nie.

Vanoggend praat ons oor eensgesindheid of eenheid. Kom ons kyk wat Matteus 18:19 daarvan sê en gesels dan daaroor. 

Matteus 18:19Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, 20want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”

Nou kan ons die vraag vra: Hoe moeilik kan dit nou wees om saam met iemand te stem?

Wel, die vyand ken ook hierdie vers, en daarom sal hy altyd sy bes doen om tweespalt te bring tussen man en vrou, tussen vriende, tussen families, tussen kollegas. Omdat hy weet, as mense saamstem is hulle binne God se wil en kan hulle soveel meer vermag. 

Hierdie is ‘n skrik waarin ons baie dikwels val. Ons eie ek kom in die pad, ons wil altyd die een wees wat reg is en aandui hoe dinge gedoen moet word. So werk ons reg in die vyand se hand. 

Daar is wel nog ‘n voorwaarde, die motief van ons hart moet ook reg wees as ons saamstem. As jy net saamstem om die saak afgehandel te kry, of saamstem omdat dit in jou guns kan tel, is daar ook nie eenheid nie. Die motiewe van albei se harte moet wees om in God se wil te handel. 

As man en vrou saam bid, maar een van die partye doen dit net omdat hy of sy die ander wil beïndruk of plesier, is dit nie vir God welgevallig nie. Ons Vader ken mos ons hart se bedoeling. Daar is dus nie regtig eenheid nie. 

Die dinge waaroor ons verskil met ander is soms so onbenullig, so onnodig, en glad nie die moeite werd nie. Ons word gewaarsku dat ons stryd op aarde nie teen vlees en bloed is nie, tog verblind die vyand ons so met sy leuens dat ons so dink. Al die tyd is dit net sy manier om verwarring en onmin tussen ons te saai dat ons kan swak wees. Hy weet as ons saamstem, ‘n eenheid is, is ons sterk, want dan is ons in ons Vader se wil en Sy krag is ons krag.

Wees bedag daarop in jou daaglikse wandel dat die vyand jou nie mislei en jy swak bly omdat jy in tweespalt bly lewe nie.

ROMEINE 12:16-18 AFR53

... wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Jy sal verstom staan om te sien dat jy baie meer regkry deur met mense in liefde en eensgesindheid te leef as wanneer jy gedurig veg. ‘n Strydlustige persoon se vlaggie val vinnig as jy met hulle in liefde en rustigheid handel en die vyand stap uit as die verloorder.

 

 

 

Dinsdag 19 Maart 2024

Jou liggaam


 
Goeiemôre Vriende,


Uit ‘n koel, nat Windhoek, waar die son pas deur die wolke gebreek het. Ons het gister namiddag meer as net ‘n paar druppels gehad, en was dit nou vir jou heerlik.


Vanoggend kom praat ons Vader met ons uit Romeine. Hy praat met ons oor ons liggame, iets wat ons baie male misbruik, misken en mee handel net soos ons goed dink. Tog is dit eintlik mos nie ons s’n om mee te maak wat ons wil nie, of hoe?


Ons mishandel ons liggame deur verkeerde spys en drank. Ons misbruik ons liggame deur aan allerhande verkeerde praktyke deel te neem om ons eie begeertes te voed. Ons kleur ons velle in met ink en maak gate waar daar ook al moontlik ‘n plek is.


Ons doen dinge aan ons liggame asof ons nie dink God se volmaakte skeppingswerk is goed genoeg vir ons nie. Ek wonder soms hoe ons Vader voel as Hy elke dag so na ons kyk.


Kom ons plaas onsself vir ‘n paar minute in Sy skoene, met respek gesê. Jy as man van die huis bou vir jou die perfekte braaiarea. Jy doen moeite en werk vir dae daaraan. Dan staan jy terug en kyk daarna en voel trots op jou hande werk. ‘n Paar dae later kom jy by die huis en hoor ‘n gekap. Dan vind jy jou vrou by jou braai en sy is besig om ‘n gedeelte daarvan af te kap. Jou hart wil gaan staan, maar haar mening is dat sy dit anders wil hê.


Hoe sal jy daaroor voel? Sal jy dit net so geredelik aanvaar? Wat sal jy van jou vrou se optrede dink? Hoe sal jy handel?


Nou kom ons by die vroue, jy maak vir jou die pragtigste uitrusting vir jou dogter se troue. Dit is ‘n ingewikkelde ontwerp, maar jy druk deur en werk saans tot in die nag om dit perfek te kry dat dit jou pas soos ‘n handskoen. Wanneer dit klaar is, pas jy dit aan en draai in die rondte voor die spieël, jy is baie tevrede en gelukkig. Jy wys dit aan jou dogter en al jou vriendinne wat daar aankom. Jy is so trots daarop dat jy die in jou spaarkamer voor die kas laat hang dat jy elke keer daarna kan kyk as jy daarin loop.


‘n Paar dae later gaan jy dorp toe en wanneer jy terug keer en weer by jou spaarkamer inloop lyk jou pragtige uitrusting heel anders, heel misvorm. Iemand het nie van jou rok se hals gehou nie, en ook nie van die moue nie. Hulle het dit verander en dit is ‘n algehele gemors in jou oë.


Hoe sal jy daaroor voel? Sal jy dit net so geredelik aanvaar? Wat sal jy van jou vrou se optrede dink? Hoe sal jy handel?


Hier is wat God se woord van ons verwag.


Romeine 12:1EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.

2En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.


As ek so na die vers kyk lyk dit my of ons nie kan doen met ons liggame wat ons wil nie. Jesus is ons voorbeeld, hy het heilig gelewe en in gehoorsaamheid aan ons Vader. Dit is wat Hy van ons ook verwag.


Wanneer ons so ons liggame misbruik, mismaak en net aan ons eie begeertes oorgee, glo ek Hy moet ook soos die man voel wie se braai sy vrou wou verander en die vrou wie se pragtige perfekte rok iemand gaan uitmekaar knip het.


Wees bedag daarop dat jou liggaam ook ‘n geskenk van God is, perfek gevorm en aanmekaar geweef deur Homself. Hoekom is dit nie goed genoeg vir jou nie?

Die tong ... jou gevaarlikste wapen

Liewe Vriende, Ek het julle baie gemis die afgelope dae wat ek sonder ‘n laptop en van die lug was. Ek hoop julle het my darem ook bietjie g...